Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Sê nou my ouer is siek?

Sê nou my ouer is siek?

 Die meeste jongmense is nie bekommerd oor versorging wanneer dit by hulle ouers kom nie. Dit kan mos nog jare wees voordat hulle ouers gesondheidsprobleme kry.

 Maar sê nou jou pa of ma word siek terwyl jy nog jonk is? Kom ons kyk na twee jongmense met wie dit gebeur het.

 Emmaline se ondervinding

 My ma het Ehlers-Danlos-sindroom (EDS), ’n chroniese en pynlike siekte wat die gewrigte, vel en bloedvate affekteer.

 Daar is geen geneesmiddel vir hierdie siekte nie, en my ma se toestand het oor die afgelope tien jaar vererger. Daar was al tye dat haar bloedtelling so laag was dat haar lewe in gevaar was of dat die pyn so erg was dat sy net wou sterf.

 Ons gesin is Jehovah se Getuies, en ons gemeente het ons almal baie vertroos! ’n Rukkie gelede het ’n meisie wat omtrent my ouderdom is, vir ons gesin ’n kaartjie gestuur om te sê hoe lief sy vir ons is en om ons te verseker dat ons altyd op haar kan staatmaak om ons te ondersteun. Ek is so bly om ’n vriendin soos sy te hê!

 Die Bybel het my baie gehelp. Een van my gunstelingtekste is Psalm 34:18, wat sê: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart.” Nog een is Hebreërs 13:6, wat sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie.”

 Hierdie teks is vir my baie betekenisvol. My grootste vrees is dat my ma sal sterf. Ek is so lief vir haar, en ek waardeer elke dag wat ons nog saam kan wees. Hierdie verse help my besef dat ek die toekoms met vertroue kan aanpak, maak nie saak wat gebeur nie.

 Maar ek het nog ’n vrees, want EDS is oorerflik. My ma het dit by haar ma geërf, en ek het dit by my ma geërf. Ja, ek het ook EDS. Maar Hebreërs 13:6 verseker my dat Jehovah ook “my helper” sal wees.

 Intussen probeer ek waardeer wat ek nou het en om nie in die verlede te lewe nie. Ek probeer ook om my nie oor die toekoms te bekommer nie. Ek kan depressief raak as ek my ma se beperkings vergelyk met wat sy in die verlede kon doen. Die Bybel sê dat die probleme wat ons het “kortstondig en lig” is in vergelyking met die hoop van ewige lewe sonder siekte.—2 Korintiërs 4:17; Openbaring 21:1-4.

 Om oor na te dink: Wat help Emmaline om positief te bly? Hoe kan jy positief bly wanneer jy ’n moeilike tyd deurmaak?

 Emily se ondervinding

 Toe ek op hoërskool was, het my pa depressie gekry. Dit was asof my ou pa verdwyn het en ’n nuwe man sy plek ingeneem het. Van toe af was my pa dikwels hartseer en het hy irrasionele vrese en angsaanvalle gehad. Hy sukkel al 15 jaar lank hiermee. Dit is seker baie moeilik vir hom om oorweldig te wees met droefheid, al weet hy dat hy geen logiese rede het om so te voel nie!

 Ons is Jehovah se Getuies, en ons gemeente ondersteun ons baie. Ons broers en susters is so liefdevol en verstaan ons situasie, en niemand het my pa nog ooit laat voel dat hy niks in die gemeente werd is nie. Om te sien hoe my pa hierdie probleem verduur, maak my liewer vir hom as ooit tevore.

 Ek mis my ou pa—die een wat nie oorweldig was deur angstigheid nie, die een wat nie gely het nie, die een wat gelukkig was. Ek voel baie jammer vir hom omdat hy elke dag teen ’n onsigbare vyand in sy verstand moet veg.

 Maar my pa probeer baie hard om positief te bly. Toe sy depressie onlangs baie erg was, het hy ’n punt daarvan gemaak om elke dag ’n stukkie uit die Bybel te lees, al was dit net ’n paar verse. Dit het hom baie versterk. Dit klink dalk na iets kleins, maar dit het hom baie gehelp in ’n tyd van nood. Ek was nog nooit so trots op my pa soos gedurende daardie moeilike tyd nie.

 Ek hou baie van die teks in Nehemia 8:10, wat sê: “Die vreugde van Jehovah is julle vesting.” Hierdie woorde is so waar. Die vreugde wat ek voel wanneer ek by die gemeente is, aan die vergaderinge deelneem en bedrywig is, laat my beter voel wanneer ek hartseer en leeg voel. Dit laat my hart heeldag warm klop. My pa se voorbeeld het my geleer dat Jehovah jou altyd sal ondersteun, maak nie saak watter probleem jy het nie.

 Om oor na te dink: Hoe het Emily haar pa gedurende sy siekte ondersteun? Hoe kan jy iemand help wat aan depressie ly?