Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek met my ouers oor hulle reëls praat?

Hoe kan ek met my ouers oor hulle reëls praat?

 “My ouers se reëls het heeltemal sin gemaak toe ek 15 was, maar nou is ek 19, en ek voel dat ek meer vryheid moet hê.” — Sylvia.

 Voel jy ook soos Sylvia? As dit die geval is, sal hierdie artikel jou help om die situasie met jou ouers te bespreek.

 Wat jy moet weet

 Voordat jy met jou ouers oor hulle reëls praat, dink aan die volgende:

  •  LAs daar nie reëls was nie, sou die lewe baie deurmekaar wees. Dink aan ’n besige hoofpad. Wat sou gebeur as daar geen padtekens, geen stoptekens of geen spoedbeperkings was nie? Reëls by die huis — net soos die reëls van die pad — help dat dinge nie skeefloop nie.

  •  Reëls bewys dat jou ouers vir jou omgee. As hulle nie enige reëls gemaak het nie, kan dit beteken dat hulle nie omgee oor wat met jou gebeur nie. Watter soort ouers sou hulle dan nou eintlik wees?

 HET JY GEWEET? Ouers moet ook reëls gehoorsaam! As jy dit nie glo nie, lees Genesis 2:24; Deuteronomium 6:6, 7; Efesiërs 6:4 en 1 Timoteus 5:8.

 Maar wat as jy nog steeds voel dat jou ouers se reëls onregverdig is?

 Wat jy kan doen

 Dink voordat jy dit bespreek. Is jy gewoonlik gehoorsaam aan jou ouers se reëls? As jou antwoord nee is, dan is dit nie nou die tyd om hulle vir meer vryheid te vra nie. Lees eerder die artikel: “Wat kan ek doen sodat my ouers my kan vertrou?

 As jy gewoonlik jou ouers gehoorsaam, moet jy voorberei wat jy vir hulle wil sê. As jy dink aan wat jy wil sê en dit dalk neerskryf, sal dit jou help om te bepaal of dit wat jy wil sê, redelik is. Vra dan jou ouers om ’n tyd en plek te kies waar julle almal ontspanne en gemaklik sal wees. Wanneer jy dan met jou ouers praat, moet jy die volgende onthou:

 Wees respekvol. Die Bybel sê: “’n Woord wat pyn veroorsaak, laat toorn [of woede] opkom” (Spreuke 15:1). Onthou die volgende: As jy met jou ouers stry of hulle daarvan beskuldig dat hulle onregverdig is, sal die gesprek nie goed afloop nie.

 “Hoe meer ek my ouers respekteer, hoe meer respekteer hulle my. Dit is baie makliker vir ons om oor iets saam te stem wanneer ons almal mekaar respekteer.”Bianca, 19.

 Luister. Die Bybel sê vir ons om ‘gou te wees om te hoor, stadig om te praat’ (Jakobus 1:19). Onthou, jy bespreek iets met jou ouers, wat beteken dat jy ook moet luister en nie net moet praat nie.

 “Soos ons ouer word, voel ons dalk dat ons meer weet as ons ouers, maar dit is beslis nie waar nie. Dit is goed as ons na hulle raad luister.” — Devan, 20.

 Probeer verstaan. Probeer om jou ouers se kant van die saak te verstaan. Volg die Bybel se raad: “[Moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.” In hierdie geval moet jy ’n oog hou op die belange van jou ouers. — Filippense 2:4.

Watter een van hierdie opsies sal jou help om meer vryheid te kry?

 “Ek het altyd gedink dat my ouers teen my is en my nie ondersteun nie. Maar nou besef ek dat hulle maar net besig was om te leer hoe om goeie ouers te wees, net soos ek besig was om te leer hoe om ’n goeie volwassene te wees. Alles wat hulle gedoen het, het hulle uit liefde gedoen.” — Joshua, 21.

 Gee oplossings. Sê nou jou ouers het die volgende reël gemaak: Hulle wil nie hê dat jy ’n uur lank moet ry om ’n partytjie by te woon nie. Vind uit wat hulle die meeste bekommer — is dit die afstand of is dit die partytjie?

  •   As dit die afstand is, sal hulle jou toelaat om te gaan as jy met iemand anders ry wat ’n goeie bestuurder is?

  •   As dit die partytjie is, sal dit help as jy vir hulle sê wie by die partytjie gaan wees en wie toesig sal hou?

 Onthou om op ’n respekvolle manier met jou ouers te praat, en luister geduldig na wat hulle sê. Wys dat jy ‘jou vader en jou moeder eer’ deur wat jy sê en deur jou gedrag (Efesiërs 6:2, 3). Sal hulle van gedagte verander? Miskien. Miskien nie. Maar wat ook al gebeur . . .

 Aanvaar gewillig jou ouers se besluit. Hierdie is ’n baie belangrike stap, maar daar word dikwels daarvan vergeet. As jy nie kry wat jy soek nie en dan met jou ouers begin stry, sal jy dit net moeiliker maak om meer vryheid te kry die volgende keer wanneer julle gesels. Maar as jy gewillig doen wat hulle sê, sal hulle jou heel moontlik meer vryheid gee.