Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Waarom moet ek die stereotipe in die media verwerp?—Deel 1: Vir meisies

Waarom moet ek die stereotipe in die media verwerp?—Deel 1: Vir meisies

 Watter stereotipe skep die media van meisies?

 Kyk na hierdie woorde en beantwoord dan die vrae wat daarop volg.

Kolom 1

Kolom 2

Onvolwasse

Verantwoordelik

Rebels

Wetsgehoorsaam

Onsedelik

Sedelik rein

Oppervlakkig

Intelligent

Skinderagtig

Beskeie

Bedrieglik

Eerlik

  1.   Watter woorde beskryf die manier waarop tienermeisies gewoonlik uitgebeeld word in rolprente, TV-programme en tydskrifte?

  2.   Watter woorde beskryf die soort reputasie wat jy wil hê?

 Waarskynlik kom jou antwoorde op die eerste vraag uit kolom 1, en jou antwoorde op die tweede vraag uit kolom 2. As dit die geval is, beteken dit dat jy probeer om beter te wees as die “tipiese” tiener wat in die media uitgebeeld word—en jy is nie die enigste een nie! Vind uit waarom.

 “Rolprente beeld die tipiese tienermeisie uit as ’n rebel met ’n slegte houding. Dit skep die indruk dat ons almal onbetroubare, selfbehepte drama queens is.”—Erin.

 “Die tienermeisies in rolprente en op TV is aandagsoekerig en behep met hoe hulle lyk, hoe gewild hulle is, hulle klere en seuns.”—Natalie.

 “Dit is selde dat die cool meisie nie drink, nie rondslaap en nie teen haar ouers rebelleer nie. Wanneer ’n meisie nie so optree nie, word sy óf as uiters godsdienstig uitgebeeld óf as baie konserwatief.”—Maria.

 Vra jou af: ‘Is die manier waarop ek aantrek, optree en praat ’n goeie weerspieëling van wie ek is, of boots ek net die stereotipe na wat in die media uitgebeeld word?’

 Wat jy moet weet

  •   Baie wat dink dat hulle hulle eie identiteit vorm, boots net na wat hulle in die media sien. “Dit is wat my sussie doen”, sê ’n jong vrou met die naam Karen. “Sy maak asof sy in niks anders as klere en seuns belangstel nie. Sy is intelligent, en ek weet dat sy ander belangstellings het, maar sy hou haar dom omdat sy dink dat dit die enigste manier is om soos ‘al die ander meisies’ te wees. En sy’s maar net 12!”

     Die Bybel sê: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie.”—Romeine 12:2.

  •   Die stereotipe is nie ’n weerspieëling van wat alle tienermeisies wil wees nie. “In die media word meisies uitgebeeld as selfbehep, ligsinnig en geneig om onvolwasse dinge te doen, maar ek dink dat die meeste van ons redelik verstandig is”, sê die 15-jarige Alexis. “Ons lewe bestaan nie net uit dagdrome oor die een of ander oulike ou nie.”

     Die Bybel sê: “Volwasse mense [het hulle] waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen ... om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.”—Hebreërs 5:14.

  •   Stereotipes bevorder die belange van bemarkers—nie dié van tienermeisies nie. Omdat invloedryke industrieë—insluitende die uitgewersbedryf, die tegnologiebedryf en die mode- en vermaaklikheidswêreld—besef hoeveel wins hulle uit jongmense kan maak, maak hulle jongmense hulle teiken selfs voordat hulle hulle tienerjare bereik. “Adverteerders skep die indruk dat tweens [seuns en meisies tussen die ouderdomme van 10 en 13] wat nie die nuutste klere, juweliersware, grimering en elektroniese toestelle het nie, nie gewild sal wees nie”, sê die boek 12 Going on 29. “Tweens sien die hele tyd advertensies wat by hulle die begeerte wek om nuwe produkte te koop, lank voordat hulle verstaan waarom die produk so aanloklik is.”

     Die Bybel sê: “Alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.”—1 Johannes 2:16.

 Iets om oor na te dink: Wie vind die meeste daarby baat as jy te veel waarde heg aan die gewildste ontwerpersetikette? Wie trek werklik voordeel daaruit as jy die nuutste selfoon moet hê net sodat jy gewild kan wees? Waaroor is bemarkers meer besorg—jou belange of hulle eie?

 Wat jy kan doen

  •   Leer om die stereotipe wat deur die media bevorder word, te bevraagteken. Wanneer jy ouer word, verkry jy die vermoë om meer te sien as wat vir die oog sigbaar is. Gebruik jou onderskeidingsvermoë en dink aan die uitwerking wat stereotipes in die media op jou kan hê. “Die media beeld die tipiese tienermeisie uit as iemand wat meer grimering aanhet as klere”, sê die 14-jarige Alana, “en baie tieners besef nie dat dit hulle nie regtig beter laat lyk nie—dit laat hulle eerder desperaat lyk.”

  •   Stel doelwitte wat jou sal help om die soort persoon te word wat jy wil wees. Dink byvoorbeeld aan die eienskappe wat jy aan die begin van hierdie artikel gekies het—die eienskappe wat die reputasie beskryf wat jy wil hê. Begin gerus nou om hierdie eienskappe aan te kweek of om dit in voller mate aan die dag te lê. Die Bybel sê: “Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het”—nie na die beeld wat adverteerders bevorder nie.—Kolossense 3:10.

  •   Vind goeie rolmodelle. Dit kan mense in jou familie wees, soos jou ma of jou tannie. Dit kan ook volwasse vriendinne of kennisse wees. Jehovah se Getuies is bevoorreg om talle voorbeeldige vroue in die Christengemeente te hê.—Titus 2:3-5.

 Wenk: Gebruik die boek Volg hulle geloof na om te leer omtrent Bybelvoorbeelde van uitstekende rolmodelle vir vroue, soos Rut, Hanna, Abigail, Ester, Maria en Marta. Volg hulle geloof na word uitgegee deur Jehovah se Getuies en is beskikbaar op www.isa4310.com/af.