Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat as ek nie meer wil lewe nie?

Wat as ek nie meer wil lewe nie?

 “’n Paar jaar terug was ek so angstig dat dit gevoel het asof ek elke dag net vure doodslaan. Gedurende daardie tye het ek gevoel dat ek myself wil doodmaak. Ek wou nie regtig sterf nie. Ek wou net nie meer so sleg voel nie.” – Jonathan, 17.

 In ’n opname van omtrent 14 000 hoërskoolstudente het amper 1 uit 5 erken dat hulle binne ’n tydperk van 12 maande selfmoordgedagtes gehad het. a Wat kan jy doen as jy voel dat dit nie meer die moeite werd is om te lewe nie?

  •   Wag. Belowe jouself dat jy nie impulsief sal optree nie. Al voel dit vir jou asof jou probleme jou oorweldig, is daar oplossings beskikbaar.

 Jy voel dalk asof jy vasgekeer is. Maar gevoelens stem nie altyd ooreen met die realiteit nie. Daar is maniere om jou situasie te hanteer. Met die regte soort hulp kan jy die oplossing vinniger kry as wat jy besef.

  •  Bybelwaarheid: “Ons word van alle kante af onder swaar druk geplaas, maar ons is nie so vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie heeltemal sonder ’n uitweg nie.” – 2 Korintiërs 4:8.

     Wenk: As jy oorweldigende selfmoordgedagtes het wat nie wil weggaan nie, moet jy uitvind watter hulp vir jou beskikbaar is – dalk ’n selfmoordnoodlyn of ’n hospitaal se noodeenheid. Die mense wat daar werk, is opgelei om jou te help, en hulle wil dit graag doen.

  •   Praat met iemand. Daar is mense wat vir jou omgee en wat jou wil help. Dit sluit dalk vriende en familielede in wat nie weet waardeur jy gaan totdat jy vir hulle sê nie.

 Party mense het ’n bril nodig om dinge duidelik te kan sien. Op ’n soortgelyke manier kan ’n vriend jou help om jou probleme in perspektief te sien en om jou lus vir die lewe terug te kry.

  •  Bybelwaarheid: “’n Ware vriend . . . is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

     Wenk: Jy kan die volgende sê as jy ’n gesprek wil begin: “Deesdae sukkel ek met baie negatiewe gedagtes. Kan ek dalk met jou daaroor praat?” Of jy kan sê: “Ek het probleme en sukkel om dit op my eie te hanteer. Kan jy my help?”

  •   Gaan dokter toe. Gesondheidsprobleme soos angstigheid of depressie kan veroorsaak dat mense hulle lus vir die lewe verloor. Die goeie nuus is dat daar behandeling vir hierdie probleme is.

 Net soos griep kan veroorsaak dat jy jou eetlus verloor, kan depressie veroorsaak dat jy jou begeerte om te lewe, verloor. Maar daar is behandeling vir albei siektes.

  •  Bybelwaarheid: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel.” – Matteus 9:12.

     Wenk: Maak seker dat jy genoeg slaap, gereeld oefen en gesond eet. Jou fisiese gesondheid kan jou emosies affekteer.

  •   Bid. Die Bybel sê: Ons Skepper “is groter as ons hart en weet alles” (1 Johannes 3:20). Hoekom praat jy nie vandag met hom in gebed nie? Gebruik sy naam, Jehovah, en praat uit jou hart uit.

 Sommige probleme is te swaar om op jou eie te dra. Jou Skepper, Jehovah, wil jou graag help.

  •  Bybelwaarheid: ‘Vra God om julle te help. Dan sal die vrede van God, wat alle denke oortref, julle harte en julle verstande beskerm.’ – Filippense 4:6, 7.

     Wenk: Moenie net vir Jehovah van jou probleme vertel nie. Probeer om vandag aan ten minste een goeie ding te dink waarvoor jy vir hom dankie kan sê (Kolossense 3:15). As jy dankbaar is, sal dit jou help om op die goeie dinge in jou lewe te fokus.

 As jy dink dat dit nie die moeite werd is om te lewe nie, kry hulp. Dit is wat Jonathan, wat aan die begin genoem is, gedoen het. Hy sê: “Ek het baie met my ouers gepraat en moes mediese hulp kry. Maar ek voel nou baie beter. Al is daar nog tye wanneer ek hartseer voel, het ek nie meer selfmoordgedagtes nie.”

a Die opname was in 2019 deur die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming gedoen.