Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoekom moet ek vrede maak met my broers en susters?

Hoekom moet ek vrede maak met my broers en susters?

 “Die beste maar ook die slegste vriende”

 Daar word gesê dat jou broers en susters “die beste maar ook die slegste vriende” is wat jy ooit sal hê. Jy is lief vir hulle en hulle is lief vir jou—maar soms lyk dit of julle net nie oor die weg kan kom nie. “My jonger broer irriteer my”, sê die 18-jarige Helena. “Hy weet presies wat om te doen of wat om te sê om my te frustreer!”

 Partykeer kan ’n stryery tussen broers en susters opgelos word deur net daaroor te praat en tot ’n ooreenkoms te kom. Byvoorbeeld:

  •   Twee broers wat ’n kamer deel, stry dalk oor privaatheid. Die oplossing? Leer om saam te werk en mekaar die nodige spasie te gee. Pas die Bybelbeginsel in Lukas 6:31 toe.

  •   Twee susters “leen” dalk mekaar se klere sonder om te vra. Die oplossing? Praat daaroor en stel redelike perke. Pas die Bybelbeginsel in 2 Timoteus 2:24 toe.

 In party gevalle is probleme tussen broers en susters groter en kan dit ernstige gevolge hê. Kyk na twee Bybelse voorbeelde:

  •   Mirjam en Aäron was jaloers op hulle broer, Moses, en dit het tragiese gevolge gehad. Lees die verslag in Numeri 12:1-15. Vra jou dan af: ‘Wat kan ek doen om nie jaloers te wees op my broer of suster nie?’

  •   Kain het so kwaad geword dat hy sy broer Abel vermoor het. Lees die verslag in Genesis 4:1-12. Vra jou dan af: ‘Wat kan ek doen sodat ek nie so kwaad word vir my broer of suster nie?’

 Twee redes om vrede te maak

 Al is dit hoe moeilik om met jou broers en susters oor die weg te kom, is daar ten minste twee redes hoekom dit die moeite werd is.

  1.   Dit is ’n teken van volwassenheid. “Ek het gewoonlik gou kwaad geword vir my twee jonger susters”, sê ’n jong man met die naam Alex. “Nou is ek baie kalmer en geduldiger met hulle. Jy kan maar sê ek het groot geword.”

     Die Bybel sê: “Hy wat nie gou toornig word nie, is oorvloedig in onderskeidingsvermoë, maar wie ongeduldig is, verhef dwaasheid.”—Spreuke 14:29.

  2.   Dit is goeie oefening vir die toekoms. As jy nie die onvolmaakthede van jou broers en susters kan verdra nie, hoe gaan jy met ’n huweliksmaat, ’n werksmaat, ’n werkgewer of enigiemand anders oor die weg kom?

     Lewenswaarheid: Die sukses van jou toekomstige verhoudings sal afhang van jou vermoë om te kommunikeer en te onderhandel, en daar is geen beter plek om hierdie vaardighede aan te leer as in jou gesin nie.

     Die Bybel sê: “Sover dit van julle afhang, [wees] vreedsaam.”—Romeine 12:18.

 Soek jy hulp om probleme met jou broer of suster op te los? Lees “Wat ander jongmense sê” en kyk dan na die bygaande werkblad “Kom oor die weg met jou broers en susters”.