Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat van maagdelikheidsbeloftes?

Wat van maagdelikheidsbeloftes?

 Wat is ’n maagdelikheidsbelofte?

 ’n Maagdelikheidsbelofte is ’n geskrewe of mondelinge belofte om nie seks voor die huwelik te hê nie.

 Maagdelikheidsbeloftes het in die 1990’s gewild geword toe die Suidelike Baptistekonvensie in die Verenigde State ’n veldtog met die naam “True Love Waits” (Ware liefde wag) bekend gestel het. Die veldtog het Bybelwaardes met positiewe groepsdruk gekombineer om jongmense aan te spoor om nee te sê vir seks voor die huwelik.

 Kort daarna het ’n soortgelyke veldtog geleenthede gehou waar dié wat die belofte afgelê het, ’n silwer ring gegee is om hulle besluit om nie seks voor die huwelik te hê nie, te simboliseer (en hulle daaraan te herinner).

 Werk maagdelikheidsbeloftes?

 Die antwoord hang af van wie jy vra.

  •   Volgens die navorsers Christine C. Kim en Robert Rector “het baie studies getoon dat maagdelikheidsbeloftes ... verband hou met minder seks onder tieners en tieners wat later seksueel aktief raak”.

  •   Volgens navorsing wat deur die Guttmacher-instituut gepubliseer is, toon studies dat “dit net so waarskynlik is dat tieners wat ‘maagdelikheidsbeloftes’ maak, seks sal hê as dié wat dit nie doen nie”.

 Waarom verskil die resultate soveel?

  •   In party studies word tieners wat hierdie belofte maak, vergelyk met tieners wat dit nie doen nie en wat nie dieselfde opvattings oor seks het nie.

  •   In ander studies word tieners wat hierdie belofte maak, vergelyk met tieners wat dit nie doen nie en wat wel dieselfde opvattings oor seks het.

 Wat het die laasgenoemde studie getoon? Dr. Janet Rosenbaum, ’n spesialis in die gesondheid van adolessente, sê dat daar ná vyf jaar “geen verskil is in die seksuele gedrag van tieners wat die belofte maak en tieners wat dit nie doen nie”.

 ’n Beter benadering

 Veldtogte wat maagdelikheidsbeloftes bevorder, het ’n goeie doelwit. Die probleem is dat hulle nie noodwendig die waardes inskerp wat adolessente nodig het om by hulle belofte te bly nie. Baie wat belowe om maagde te bly, “maak nie werklik hierdie belofte hulle eie nie”, sê dr. Rosenbaum. Sy sê verder dat ’n persoon moet besluit om ’n maagd te bly, nie omdat hulle aan ’n veldtog deelneem nie, maar weens hulle persoonlike oortuigings.

 Die Bybel spoor mense aan om sulke oortuigings te hê, nie deur ’n geskrewe of mondelinge belofte te maak nie, maar deur hulle “waarnemingsvermoëns [te oefen] om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). ’n Persoon bly egter nie net ’n maagd omdat hy of sy siektes en swangerskap wil vermy nie; dit is ’n manier om eer aan die Skepper van die huweliksreëling te betoon.​—Matteus 5:19; 19:4-6.

 Die standaarde wat in die Bybel uiteengesit is, is daar vir ons beswil (Jesaja 48:17). Ja, alle mense​—ongeag hulle ouderdom—​kan die eienskappe ontwikkel wat hulle nodig het om God se gebod te gehoorsaam om te “vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). Wanneer hulle wel trou, sal hulle dus intimiteit ten volle kan geniet, sonder om bekommerd of spyt te voel; gevoelens wat so dikwels die gevolg is van seks voor die huwelik.