Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoeveel uithouvermoë het ek?

Hoeveel uithouvermoë het ek?

 Hoeveel uithouvermoë het jy? Is jy al geraak deur . . .

  •   die dood van ’n geliefde?

  •   ’n siekte wat lank aangehou het?

  •   ’n natuurramp?

 Navorsers sê dat dit nie net groot uitdagings is waarvoor jy uithouvermoë moet hê nie. Selfs as jy oor klein dingetjies stres, kan dit jou ook siek maak. Dit is hoekom dit belangrik is vir jou om te leer hoe om in moeilike situasies deur te druk, maak nie saak hoe klein of hoe groot jou probleme dalk is nie.

 Wat is uithouvermoë?

 Uithouvermoë beteken dat ’n mens veranderinge en probleme in die lewe suksesvol kan hanteer. Mense met uithouvermoë het ook probleme. Maar hulle kan hulle probleme oorkom en al het hulle in die proses seergekry, maak dit hulle net sterker.

Net soos bome in ’n storm buig en dan weer regop staan wanneer die wind gaan lê het, kan jy deurdruk in moeilike tye

 Hoekom het jy uithouvermoë nodig?

  •   Want almal het probleme. Die Bybel sê: “Die vinniges wen nie altyd die wedloop nie . . . en dié wat kennis het, is nie altyd suksesvol nie, want tyd en onverwagse gebeure tref hulle almal” (Prediker 9:11). Die les? Selfs goeie mense kry swaar, en baie keer is dit nie eers hulle skuld nie.

  •   Want uithouvermoë beskerm jou. Iemand wat by ’n hoërskool werk, sê: “Meer studente as ooit tevore kom baie ontsteld na my kantoor toe en kan hulle emosies nie beheer nie omdat hulle slegte punte op ’n vraestel gekry het of omdat iemand iets leliks oor hulle op sosiale media gesê het.” Selfs al is dit iets kleins, weet hulle nie hoe om dit te hanteer nie en kan dit “’n klomp verskillende emosionele siektes” veroorsaak, sê hy. a

  •   Want uithouvermoë sal jou nou en in die toekoms help. Dr. Richard Lerner skryf die volgende oor die lewe se teleurstellings: “Om ’n suksesvolle en produktiewe grootmens te wees, moet jy kan deurdruk in moeilike tye. Jy moet nuwe doelwitte kan stel of ander maniere kry om te doen wat jy graag wil.” b

 Hoe kan jy leer om uithouvermoë te hê?

  •   Kyk of die probleem regtig so ernstig is. Leer wat die verskil is tussen groot probleme en klein probleme. Die Bybel sê: “’n Dwaas wys dadelik dat hy hom vererg het, maar die verstandige man sien ’n belediging oor” (Spreuke 12:16). Nie alle probleme hoef jou lewe te beheer nie.

     “Op skool het kinders oor klein dingetjies gekla en heeltemal geoorreageer. Dan het hulle gesien hoe hulle vriende op sosiale media hieroor voel. Dit het hulle nog meer opgewerk en dan kon hulle glad nie reguit oor hulle probleme dink nie.” – Joanne.

  •   Leer by ander. Die Bybel sê: “Soos yster deur yster geslyp word, so vorm vriende mekaar” (Spreuke 27:17). Goeie lesse kan geleer word by mense wat ook al deur moeilike tye gegaan het.

     “Wanneer jy met ander praat, sal jy sien dat hulle al deur baie moeilike tye gegaan het, en hulle het daardeur gekom. Praat met hulle en vind uit wat hulle gedoen of dalk nie gedoen het nie om hulle situasie te hanteer.” – Julia.

  •   Wees geduldig. Die Bybel sê: “Die regverdige kan sewe keer val, en hy sal weer opstaan” (Spreuke 24:16). Dit vat tyd om te aanvaar dat dinge nie altyd is soos wat jy dit wil hê nie. So moenie sleg voel as jy nie altyd dinge kan hanteer nie. Die belangrikste van alles is dat jy “weer opstaan”.

     “Wanneer jy deurdruk in moeilike tye, het jy tyd nodig om alles te verwerk. Dis ’n proses wat lank vat. Ek het geleer dat dinge beter raak met tyd.” – Andrea.

  •   Leer om dankbaar te wees. Die Bybel sê: “Toon dat julle dankbaar is” (Kolossense 3:15). Dit maak nie saak hoe groot die probleem is waardeur jy gaan nie, daar is altyd dinge waarvoor jy dankbaar kan wees. Dink aan drie dinge wat jou lewe die moeite werd maak.

     “Wanneer jy probleme het, is dit maklik om vir jouself te sê: ‘Hoekom gebeur dit met my?’ ’n Belangrike deel van uithouvermoë is om nie heeltyd aan jou probleme te dink nie, maar om te kies om positief en dankbaar te bly vir wat jy het of wat jy kan doen.” – Samantha.

  •   Wees tevrede. Die apostel Paulus het gesê: “Ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees” (Filippense 4:11). Paulus het geen beheer gehad oor die slegte dinge wat met hom gebeur het nie. Wat hy wel kon beheer, was hoe hy gereageer het. Paulus was vasbeslote om tevrede te wees.

     “Die een ding wat ek oor myself geleer het, is dat ek nie altyd aan die begin goed reageer wanneer ek ’n probleem het nie. My doelwit is om te leer om ’n positiewe gesindheid te hê in enige situasie. Dit sal nie net goed wees vir my nie, maar ook vir die mense om my.” – Matthew.

  •   Bid. Die Bybel sê: “Gee jou las vir Jehovah, en hy sal jou ondersteun. Hy sal die regverdige nooit laat val nie” (Psalm 55:22). ’n Mens bid nie net omdat jy beter wil voel nie. Jy moet regtig met jou Skepper praat, “want hy gee om vir [jou]”. – 1 Petrus 5:7.

     “Ek hoef nie alleen te sukkel nie. As ek openlik en eerlik oor my probleme bid en dan dankie sê vir God vir al my seëninge, raak ek ontslae van my negatiewe emosies. Deur dit te doen, fokus ek op die seëninge wat Jehovah my gegee het. Gebed is so belangrik!” – Carlos.

a Uit die boek Disconnected deur Thomas Kersting.

b Uit die boek The Good Teen—Rescuing Adolescence From the Myths of the Storm and Stress Years.