Spring na inhoud

Wat glo Jehovah se Getuies?

Wat glo Jehovah se Getuies?

As Jehovah se Getuies streef ons daarna om te bly by die vorm van die Christelike geloof wat Jesus geleer het en wat sy apostels beoefen het. Hierdie artikel bevat ’n opsomming van ons basiese oortuigings.

  1.   God. Ons aanbid die enigste ware en almagtige God, die Skepper, wie se naam Jehovah is (Psalm 83:18; Openbaring 4:11). Hy is die God van Abraham, Moses en Jesus.​—Eksodus 3:6; 32:11; Johannes 20:17.

  2.   Die Bybel. Ons erken dat die Bybel God se geïnspireerde boodskap aan die mensdom is (Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:​16). Ons baseer ons oortuigings op al 66 boeke daarin, wat die “Ou Testament” sowel as die “Nuwe Testament” insluit. Professor Jason D. BeDuhn het dit goed opgesom toe hy geskryf het dat Jehovah se Getuies “al hulle oortuigings en gebruike op die Bybel gegrond het sonder vooroordeel oor wat hulle daarin sou vind”. a

     Hoewel ons die hele Bybel aanvaar, is ons nie fundamentaliste nie. Ons erken dat dele van die Bybel figuurlik of simbolies is en nie letterlik verstaan moet word nie.​—Openbaring 1:1.

  3.   Jesus. Ons volg die leringe en voorbeeld van Jesus Christus en eer hom as ons Redder en as die Seun van God (Matteus 20:28; Handelinge 5:31). Ons is dus Christene (Handelinge 11:26). Ons het egter uit die Bybel geleer dat Jesus nie God die Almagtige is nie en dat die Drie-eenheidsleer nie deur die Bybel gestaaf word nie.​—Johannes 14:28.

  4.   Die Koninkryk van God. Dit is ’n werklike regering in die hemel, nie ’n toestand in die hart van Christene nie. Dit sal menseregerings vervang en God se voorneme met die aarde volbring (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Dít sal binnekort gebeur, want Bybelprofesieë toon dat ons in “die laaste dae” lewe.​—2 Timoteus 3:1-5; Matteus 24:3-14.

     Jesus is die Koning van God se Koninkryk in die hemel. Hy het in 1914 begin regeer.​—Openbaring 11:15.

  5.   Redding. Verlossing van sonde en die dood is moontlik deur middel van Jesus se losprysofferande (Matteus 20:28; Handelinge 4:​12). Om by hierdie offerande baat te vind, moet mense nie net geloof in Jesus beoefen nie, maar ook hulle lewenswyse verander en gedoop word (Matteus 28:19, 20; Johannes 3:​16; Handelinge 3:​19, 20). ’n Persoon se geloof word deur sy dade bewys (Jakobus 2:​24, 26). Maar redding kan nie verdien word nie​—dit is slegs moontlik weens “die onverdiende goedhartigheid van God”.​—Galasiërs 2:​16, 21.

  6.   Die hemel. Jehovah God, Jesus Christus en die getroue engele woon in die geesteryk (Psalm 103:19-​21; Handelinge 7:​55). b ’n Betreklike klein aantal mense​—144 000​—sal opgewek word tot lewe in die hemel om saam met Jesus in die Koninkryk te regeer.​—Daniël 7:27; 2 Timoteus 2:12; Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3.

  7.   Die aarde. God het die aarde geskep om vir ewig die mensdom se tuiste te wees (Psalm 104:5; 115:16; Prediker 1:4). God sal gehoorsame mense seën met volmaakte gesondheid en ewige lewe in ’n aardse paradys.​—Psalm 37:11, 34.

  8.   Boosheid en lyding. Dit het begin toe een van God se engele in opstand gekom het (Johannes 8:​44). Hierdie engel, wat ná sy opstand “Satan” en “Duiwel” genoem is, het die eerste mensepaar sover gekry om hom te volg. Dit het verskriklike gevolge oor hulle nakomelinge gebring (Genesis 3:1-6; Romeine 5:​12). Om ’n antwoord te voorsien op die sedelike kwessies wat Satan geopper het, het God boosheid en lyding toegelaat, maar dit sal nie vir ewig die geval wees nie.

  9.   Die dood. Mense wat sterf, hou op om te bestaan (Psalm 146:4; Prediker 9:​5, 10). Hulle ly nie in ’n brandende hel nie.

     God sal miljarde mense deur middel van ’n opstanding weer lewend maak (Handelinge 24:15). Maar diegene wat weier om God se weë te volg nadat hulle opgewek is, sal vir ewig vernietig word sonder enige hoop op ’n opstanding.​—Openbaring 20:14, 15.

  10.   Gesinslewe. Ons bly by God se oorspronklike standaard vir die huwelik, naamlik dat dit ’n band tussen een man en een vrou moet wees en dat seksuele onsedelikheid die enigste geldige rede vir ’n egskeiding is (Matteus 19:​4-9). Ons is oortuig dat die wysheid in die Bybel gesinne help om suksesvol te wees.​—Efesiërs 5:​22–​6:1.

  11.   Ons aanbidding. Ons vereer nie die kruis of enige ander beelde nie (Deuteronomium 4:​15-​19; 1 Johannes 5:​21). Hoofkenmerke van ons aanbidding sluit in dat ons:

  12.   Ons organisasie. Ons is in gemeentes georganiseer, wat elkeen onder die toesig van ’n liggaam van ouer manne val. Die ouer manne maak egter nie ’n geestelikeklas uit nie, en hulle kry nie ’n salaris nie (Matteus 10:8; 23:8). Ons hef nie tiendes nie, en geen kollektes word ooit by ons vergaderinge ingesamel nie (2 Korintiërs 9:7). Al ons bedrywighede word deur anonieme donasies ondersteun.

     Die Bestuursliggaam, ’n groepie volwasse Christene wat by ons wêreldhoofkwartier dien, gee leiding aan Jehovah se Getuies regoor die wêreld.​—Matteus 24:45.

  13.   Ons eenheid. Ons is regoor die wêreld verenig in ons oortuigings (1 Korintiërs 1:10). Ons werk ook hard om geen sosiale, etniese, klasse- of rasseskeidings te hê nie (Handelinge 10:34, 35; Jakobus 2:4). Ons eenheid laat egter ruimte vir persoonlike keuse. Elke Getuie neem besluite in ooreenstemming met sy of haar Bybelopgeleide gewete.​—Romeine 14:​1-4; Hebreërs 5:​14.

  14.   Ons gedrag. Ons probeer om onselfsugtige liefde in al ons dade te openbaar (Johannes 13:34, 35). Ons vermy gebruike wat God mishaag, insluitende die misbruik van bloed deur middel van bloedoortappings (Handelinge 15:28, 29; Galasiërs 5:​19-​21). Ons is vreedsaam en neem nie deel aan oorloë nie (Matteus 5:9; Jesaja 2:4). Ons respekteer die regering van die land waar ons woon en gehoorsaam die wette daarvan as dit nie in stryd is met God se wette nie.​—Matteus 22:21; Handelinge 5:​29.

  15.   Ons verhoudings met ander. Jesus het beveel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Hy het ook gesê Christene “is geen deel van die wêreld nie” (Matteus 22:39; Johannes 17:16). Daarom probeer ons “aan almal goed doen”, maar ons bly streng neutraal in politieke aangeleenthede en knoop geen bande met ander godsdienste aan nie (Galasiërs 6:​10; 2 Korintiërs 6:​14). Ons respekteer nogtans die keuses wat ander in verband met sulke kwessies maak.​—Romeine 14:12.

 As jy nog vrae het oor die oortuigings van Jehovah se Getuies, kan jy meer omtrent ons lees op ons webwerf, in verbinding tree met een van ons kantore, ’n vergadering by ’n Koninkryksaal naby jou bywoon of met ’n Getuie in jou omgewing praat.

a Sien Truth in Translation, bladsy 165.

b Bose engele is uit die hemel gewerp, maar hulle is nog in die geesteryk.​—Openbaring 12:​7-9.