Spring na inhoud

Wie gaan hemel toe?

Wie gaan hemel toe?

Die Bybel se antwoord

 God kies ’n beperkte getal getroue Christene uit wat, ná hulle dood, opgewek sal word tot lewe in die hemel (1 Petrus 1:3, 4). Nadat hulle uitverkies is, moet hulle aanhou om hulle Christelike geloof sterk te hou en hulle gedrag rein te hou. As hulle dit nie doen nie, sal hulle nie meer kwalifiseer om hulle hemelse erfenis te ontvang nie.—Efesiërs 5:5; Filippense 3:12-14.

Wat gaan dié wat hemel toe gaan daar doen?

 Hulle sal ’n 1 000 jaar lank saam met Jesus as konings en priesters dien (Openbaring 5:9, 10; 20:6). Hulle sal die “nuwe hemele”, of hemelse regering, uitmaak, wat oor die “nuwe aarde”, of aardse gemeenskap, sal regeer. Hierdie hemelse heersers sal help om die regverdige toestande te herstel wat God oorspronklik vir die mensdom wou hê.—Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13.

Hoeveel sal opgewek word tot lewe in die hemel?

 Die Bybel toon dat 144 000 mense opgewek sal word tot lewe in die hemel (Openbaring 7:4). In die visioen in Openbaring 14:1-3 het die apostel Johannes ‘die Lam op die berg Sion gesien staan, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend’. In hierdie visioen stel “die Lam” Jesus voor ná sy opstanding (Johannes 1:29; 1 Petrus 1:19). Die “berg Sion” stel die verhewe posisie van Jesus en die 144 000 voor wat saam met hom in die hemel regeer.—Psalm 2:6; Hebreërs 12:22.

 Daar word na “die geroepenes en uitverkorenes” wat saam met Christus in die Koninkryk sal regeer, verwys as die “klein kuddetjie” (Openbaring 17:14; Lukas 12:32). Dit toon duidelik dat hulle min sou wees in vergelyking met die volle getal van Jesus se skape.—Johannes 10:16.

Wanopvattings oor dié wat hemel toe gaan

 Wanopvatting: Alle goeie mense gaan hemel toe.

 Feit: God belowe dat die meeste goeie mense vir ewig op die aarde sal lewe.—Psalm 37:11, 29, 34.

  •   Jesus het gesê: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie” (Johannes 3:13). Hy het dus getoon dat goeie mense wat voor hom gesterf het, soos Abraham, Moses, Job en Dawid, nie hemel toe gegaan het nie (Handelinge 2:29, 34). Hulle het eerder die hoop om opgewek te word en ewige lewe op die aarde te geniet.—Job 14:13-15.

  •   Die opstanding tot hemelse lewe word “die eerste opstanding” genoem (Openbaring 20:6). Dit beteken dat daar nog ’n opstanding sal wees. Hierdie opstanding sal op die aarde wees.

  •   Die Bybel leer dat ‘die dood nie meer daar sal wees’ onder die heerskappy van God se Koninkryk nie (Openbaring 21:3, 4). Hierdie belofte moet op die aarde van toepassing wees, want daar het nog nooit iemand in die hemel gesterf nie.

 Wanopvatting: Elke persoon kies of hy of sy lewe in die hemel of op die aarde sal ontvang.

 Feit: God bepaal watter getroue Christene ‘die prys van die roeping na bo’, dit wil sê die hoop op lewe in die hemel, sal ontvang (Filippense 3:14). Persoonlike begeerte of ambisie bepaal nie of iemand gekies word of nie.—Matteus 20:20-23.

 Wanopvatting: Die hoop op die ewige lewe op die aarde is ’n minderwaardige hoop, wat net vir diegene is wat nie goed genoeg is om hemel toe te gaan nie.

 Feit: God noem die wat die ewige lewe op die aarde gaan ontvang “my volk”, “my uitverkorenes” en “die geseëndes van Jehovah” (Jesaja 65:21-23). Hulle sal die voorreg hê om God se oorspronklike voorneme vir die mensdom te vervul—ewige lewe onder volmaakte toestande op ’n paradysaarde.—Genesis 1:28; Psalm 115:16; Jesaja 45:18.

 Wanopvatting: Die getal 144 000 wat in Openbaring genoem word, is simbolies, nie letterlik nie.

 Feit: Hoewel Openbaring simboliese getalle bevat, is party van die getalle letterlik. Dit praat byvoorbeeld van “die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam” (Openbaring 21:14). Kom ons kyk waarom dit logies is om tot die gevolgtrekking te kom dat die getal 144 000 letterlik opgeneem moet word.

 Openbaring 7:4 sê dat “die getal ... van dié wat verseël is [of, bevestig is vir lewe in die hemel], honderd-vier-en-veertigduisend” is. In die konteks van hierdie vers word ’n tweede groep genoem: “’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie”. Die lede van “die groot menigte” word ook deur God gered (Openbaring 7:9, 10). Indien die getal 144 000 simbolies is en na ’n groep verwys wat nie letterlik getel kan word nie, maak dit nie sin om te verwys na ’n tweede groep wat ook nie getel kan word nie. a

 Die 144 000 word verder beskryf as persone wat “uit die mensdom gekoop [is] as eerstelinge” (Openbaring 14:4). Die uitdrukking “eerstelinge” verwys na ’n klein verteenwoordigende groepie. Dit is ’n goeie beskrywing van dié wat in die hemel saam met Christus sal regeer oor ’n onbepaalde getal onderdane op die aarde.—Openbaring 5:10.

a Professor Robert L. Thomas stem hiermee saam en het oor die getal 144 000 wat in Openbaring 7:4 gemeld word, geskryf: “Dit is ’n bepaalde getal in teenstelling met die onbepaalde getal van [hoofstuk] 7:9. As dit simbolies beskou moet word, kan geen ander getal in die boek letterlik beskou word nie.”—Revelation 1-7: An Exegetical Commentary, bladsy 474.