Spring na inhoud

Wat toon Bybelchronologie oor die jaar 1914?

Wat toon Bybelchronologie oor die jaar 1914?

Die Bybel se antwoord

 Bybelchronologie toon dat God se Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is. Dit word aangedui deur ’n profesie wat in hoofstuk 4 van die Bybelboek Daniël opgeteken is.

 ’n Oorsig van die profesie. God het koning Nebukadnesar van Babilon ’n profetiese droom gegee oor ’n ontsaglike boom wat afgekap is. Die stomp is verhinder om vir ’n tydperk van “sewe tye” weer te groei, waarna die boom weer sou groei.—Daniël 4:1, 10-16.

 Die profesie se eerste vervulling. Die groot boom het koning Nebukadnesar voorgestel (Daniël 4:20-22). Hy is figuurlik ‘afgekap’ toe hy vir ’n tydperk van sewe jaar sy gesonde verstand en koningskap verloor het (Daniël 4:25). Toe God Nebukadnesar se gesonde verstand herstel het, het hy sy troon teruggekry en God as Heerser erken.—Daniël 4:34-36.

 Bewyse dat die profesie ’n groter vervulling het. Die hele doel van die profesie was dat “die lewendes kan weet dat die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is en dat hy dit gee aan wie hy wil en selfs die geringste van die mensdom daaroor aanstel” (Daniël 4:17). Was die trotse Nebukadnesar die een aan wie God uiteindelik hierdie heerskappy wou gee? Nee, want God het hom vroeër ’n ander profetiese droom gegee wat getoon het dat nie hy of enige ander politieke heerser hierdie rol sou vervul nie. God sou eerder self “’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie”.—Daniël 2:31-44.

 God het vroeër ’n koninkryk opgerig om sy heerskappy op die aarde te verteenwoordig: die eertydse nasie Israel. God het toegelaat dat hierdie koninkryk “’n puinhoop” gemaak word omdat die heersers daarvan ontrou geraak het, maar hy het voorspel dat hy koningskap sou gee aan ‘die een wat die wetlike reg het’ (Esegiël 21:25-27). Die Bybel identifiseer Jesus Christus as die een wat wetlik gemagtig is om hierdie ewige koninkryk te ontvang (Lukas 1:30-33). In teenstelling met Nebukadnesar is Jesus “nederig van hart”, net soos voorspel is.—Matteus 11:29.

 Wat word deur die boom van Daniël hoofstuk 4 voorgestel? In die Bybel stel bome soms heerskappy voor (Esegiël 17:22-24; 31:2-5). In die grotere vervulling van Daniël hoofstuk 4 simboliseer die ontsaglike boom God se heerskappy.

 Wat beteken die feit dat die boom afgekap is? Net soos die afkapping van die boom ’n onderbreking in Nebukadnesar se koningskap voorgestel het, het dit ook ’n onderbreking in God se heerskappy op die aarde voorgestel. Dit het plaasgevind met Nebukadnesar se vernietiging van Jerusalem, waar die konings van Israel as verteenwoordigers van God op “Jehovah se troon” gesit het.—1 Kronieke 29:23.

 Wat stel die “sewe tye” voor? Die “sewe tye” stel die tydperk voor waartydens God die nasies toegelaat het om oor die aarde te regeer sonder inmenging van ’n koninkryk wat hy opgerig het. Die “sewe tye” het in Oktober 607 VHJ begin toe Jerusalem, volgens Bybelchronologie, deur die Babiloniërs vernietig is.—2 Konings 25:1, 8-10. a

 Hoe lank is die “sewe tye”? Dit kan nie net sewe jaar wees soos in Nebukadnesar se geval nie. Jesus het aangedui wat die antwoord is toe hy gesê het: “Jerusalem [’n simbool van God se heerskappy] sal deur die nasies vertrap word, tot die vasgestelde tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). “Die vasgestelde tye van die nasies”, die tydperk waartydens God toegelaat het dat sy heerskappy “deur die nasies vertrap word”, is dieselfde as die “sewe tye” van Daniël hoofstuk 4. Dit beteken dat die “sewe tye” nog voortgeduur het selfs toe Jesus op die aarde was.

 Die Bybel toon hoe die lengte van hierdie profetiese “sewe tye” vasgestel kan word. Dit sê dat drie en ’n half “tye” gelyk is aan 1 260 dae; “sewe tye” is dus twee keer soveel, of 2 520 dae (Openbaring 12:6, 14). As die profetiese reël “’n dag vir ’n jaar” toegepas word, stel die 2 520 dae dan 2 520 jaar voor. Die “sewe tye”, of 2 520 jaar, sou dus in Oktober 1914 eindig.—Numeri 14:34; Esegiël 4:6.

a Vir ’n breedvoerige bespreking van die rede waarom die jaar 607 VHJ gebruik word, sien die artikels “Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel een”, op bladsye 26-​31 van Die Wagtoring van 1 Oktober 2011, en “Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel twee”, op bladsye 22-​28 van Die Wagtoring van 1 November 2011.