Volgens Matteus 28:1-20

  • Jesus word opgewek (1-10)

  • Soldate omgekoop om te lieg (11-15)

  • Opdrag om dissipels te maak (16-20)

28  Ná die Sabbat, toe dit begin lig word op die eerste dag van die week, het Maria Magdaleʹna en die ander Maria na die graf kom kyk.+  Daar was ’n groot aardbewing, want Jehovah* se engel het uit die hemel neergedaal en gekom en die klip weggerol, en hy het daarop gesit.+  Sy voorkoms was soos weerlig en sy klere was so wit soos sneeu.+  Die wagte het so groot geskrik toe hulle hom sien dat hulle gebewe het en soos dooie mans geword het.  Maar die engel het vir die vrouens gesê: “Moenie bang wees nie, want ek weet dat julle na Jesus soek, wat aan ’n paal gehang is.+  Hy is nie hier nie, want hy is opgewek, soos hy gesê het.+ Kom kyk na die plek waar hy gelê het.  Gaan gou en sê vir sy dissipels dat hy uit die dood opgewek is, want hy gaan voor julle uit na Galileʹa,+ en julle sal hom daar sien. Dit is wat ek vir julle gesê het.”+  Toe het hulle met vrees en groot vreugde vinnig van die graf* af weggegaan en gehardloop om vir sy dissipels te gaan vertel.+  Jesus het hulle ontmoet en gesê: “Goeiedag!” Hulle het nader gegaan en hom aan sy voete gegryp en aan hom eer bewys.* 10  Toe het Jesus vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie! Gaan vertel my broers, sodat hulle na Galileʹa kan gaan, en daar sal hulle my sien.” 11  Terwyl hulle op pad was, het party van die wagte+ in die stad ingegaan en vir die hoofpriesters alles vertel wat gebeur het. 12  Nadat hierdie manne saam met die ouermanne bymekaargekom het en die saak bespreek het, het hulle vir die soldate baie silwerstukke gegee 13  en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel terwyl ons geslaap het.’+ 14  En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons die saak aan hom verduidelik,* en julle sal nie bekommerd hoef te wees nie.” 15  Toe het hulle die silwerstukke geneem en gedoen wat vir hulle gesê is, en hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode versprei. 16  Die 11 dissipels het egter na Galileʹa gegaan,+ na die berg waar Jesus met hulle afgespreek het om hulle te ontmoet.+ 17  Toe hulle hom sien, het hulle aan hom eer bewys,* maar party het getwyfel. 18  Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee.+ 19  Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies,+ en doop hulle+ in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, 20  en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het.+ En wees verseker: Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel.”*+

Voetnote

Of “gedenkgraf”.
Of “voor hom neergebuig”.
Lett. “sal ons hom oorreed”.
Of “voor hom neergebuig”.
Of “die voleinding van die stelsel van dinge”. Sien Woordelys.