Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Die aard van God

Die aard van God

Watter soort liggaam het God?

“God is ’n Gees.”—Johannes 4:24.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel sê dat God ’n gees is (2 Korintiërs 3:17). Hy is dus ver verhewe bo ons, en ons kan hom nie met ons sintuie waarneem nie. Hy is “die Koning van die ewigheid, onverderflik, onsigbaar”, sê 1 Timoteus 1:17. Die Bybel sê ook: “Niemand het God nog ooit aanskou nie.”—1 Johannes 4:12.

Ons Skepper is so ver verhewe bo ons dat ons ons nie eens kan voorstel hoe hy lyk nie. Jesaja 40:18 sê: “Met wie kan julle God vergelyk, en watter gelykenis kan julle naas hom stel?” Selfs die ontsagwekkende fisiese hemel is onbeduidend in vergelyking met die Almagtige.—Jesaja 40:22, 26.

Daar is egter intelligente skepsele wat God kan sien en selfs van aangesig tot aangesig met hom kan praat. Hoe so? Omdat hulle ook geesskepsele is, en hulle woon in die hemel (1 Konings 22:21; Hebreërs 1:7). Aangaande hierdie bomenslike skepsele, wat ook engele genoem word, het Jesus Christus gesê: “Hulle [aanskou] altyd die aangesig . . . van my Vader wat in die hemel is.”—Matteus 18:10.

 Is God alomteenwoordig?

“Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele.’”—Matteus 6:9.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel leer nie dat God alomteenwoordig is, of te alle tye oral teenwoordig is, soos ’n onpersoonlike krag nie. Soos Jesus se woorde in Matteus 6:9 en 18:10 toon, is God eerder ’n persoon—’n “Vader”—en die hemel is sy “vaste woonplek”.1 Konings 8:43.

Kort voor sy dood het Jesus gesê: “Ek verlaat die wêreld en gaan na die Vader toe” (Johannes 16:28). Ná sy dood in die vlees en sy opstanding as ’n gees het Christus opgevaar na “die hemel self, om nou vir ons voor die aangesig van God te verskyn”.—Hebreërs 9:24.

Hierdie feite omtrent God is belangrik. Waarom? Eerstens, omdat God ’n persoon is, is dit vir ons moontlik om van hom te leer en nader aan hom te kom (Jakobus 4:8). Tweedens, die waarheid omtrent God beskerm ons teen valse aanbidding, soos die aanbidding van lewelose beelde en voorwerpe. Eerste Johannes 5:21 sê: “Kindertjies, bewaar julle van afgode.”

In watter opsig is mense na God se beeld geskep?

“God het die mens na sy beeld begin skep, na God se beeld het hy hom geskep; man en vrou het hy hulle geskep.”—Genesis 1:27.

WAT DIE BYBEL SÊ

As mense het ons die vermoë om God se eienskappe, soos sy liefde, geregtigheid en wysheid, te weerspieël. Trouens, die Bybel sê: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel.”—Efesiërs 5:1, 2.

God het ons ook met wilsvryheid geskep, en dit stel ons in staat om te kies om eerder reg as verkeerd te doen en om liefde op ’n verskeidenheid maniere aan ander te betoon (1 Korintiërs 13:4-7). Ons het ook die vermoë om skeppend te wees, skoonheid te geniet en met ontsag te kyk na die wonderlike wêreld om ons. Bowenal is ons geskep met ’n geestelike vermoë, ’n natuurlike begeerte om van ons Skepper en sy wil vir ons te leer.—Matteus 5:3.

Hoe Bybelwaarheid jou kan help. Hoe meer ons omtrent God leer en hom navolg, hoe meer lewe ons soos hy nog altyd wou hê ons moet lewe. Gevolglik put ons meer vreugde uit die lewe, asook ware bevrediging, innerlike vrede en tevredenheid (Jesaja 48:17, 18). Ja, God weet dat sy innemende eienskappe in menseharte weerklank vind en opregtes van hart na hom toe trek en hulle help om op die weg na die ewige lewe te kom.—Johannes 6:44; 17:3.