Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | RACQUEL HALL

’n Joodse vrou verduidelik waarom sy haar geloof ondersoek het

’n Joodse vrou verduidelik waarom sy haar geloof ondersoek het

Racquel Hall is die kind van ’n Joods-Israeliese moeder en ’n Oostenrykse vader wat hom tot Judaïsme bekeer het. Haar grootouers aan moederskant was Sioniste wat na Israel geïmmigreer het in 1948, die jaar toe dit ’n onafhanklike staat geword het. Ontwaak! het Racquel gevra wat haar beweeg het om haar Joodse geloof van naderby te ondersoek.

Vertel ons van jou agtergrond.

Ek is in 1979 in die Verenigde State gebore. Toe ek drie jaar oud was, het my ouers geskei. My ma het my volgens Joodse tradisies grootgemaak en my na Jesjiwas, of Joodse skole, gestuur. Toe ek sewe jaar oud was, het ons vir ’n jaar na Israel getrek, en ek het skoolgegaan op ’n gemeenskapsplaas wat ’n kibboets genoem word. Later het ek en my ma na Mexiko getrek.

Hoewel daar nie ’n sinagoge in die omgewing was nie, het ek by my Joodse gebruike gebly. Ek het op die Sabbat kerse gebrand, ons Tora gelees en met behulp van ’n siddur, of gebedeboek, gebid. Op skool het ek dikwels vir my skoolmaats gesê dat my godsdiens die oorspronklike godsdiens is. Destyds het ek nog nie die sogenoemde Nuwe Testament, wat hoofsaaklik oor Jesus Christus se bediening en leringe handel, gelees nie. Om die waarheid te sê, my ma het my daarteen gewaarsku, uit vrees dat ek deur die leringe daarin besmet sou word.

Waarom het jy besluit om die Nuwe Testament te lees?

Toe ek 17 geword het, het ek teruggetrek na die Verenigde State om my sekulêre opvoeding te voltooi. Daar het ’n kennis wat gesê het dat hy ’n Christen is, vir my gesê dat my lewe onvolledig sal wees sonder Jesus.

“Mense wat in Jesus glo, is verlore”, het ek geantwoord.

“Het jy al die Nuwe Testament gelees?” het hy gevra.

“Nee”, het ek geantwoord.

“Is jy dan nie oningelig as jy ’n mening uitspreek oor iets waarvan jy niks weet nie?” het hy gesê.

 Sy woorde het my diep getref, aangesien ek altyd gedink het dat dit dwaas is om ’n mening uit te spreek oor iets waarvan jy niks weet nie. Ek het dus sy Bybel huis toe geneem en die Nuwe Testament begin lees.

Hoe is jy geraak deur wat jy gelees het?

Tot my verbasing het ek uitgevind dat die skrywers van die Nuwe Testament Jode was. En hoe meer ek gelees het, hoe meer het ek Jesus gesien as ’n goedhartige, nederige Jood wat mense wou help, nie uitbuit nie. Ek het selfs by die biblioteek boeke oor hom gaan uitneem. Geeneen van hierdie boeke kon my egter oortuig dat hy die Messias is nie. Party het selfs na hom as God verwys—’n beskouing wat vir my geen sin gemaak het nie. Tot wie het Jesus dan gebid—homself? Wat meer is, Jesus het gesterf. Maar die Bybel sê van God: “U sterf nie.” *

Hoe het jy antwoorde gevind?

Die waarheid weerspreek homself nie, en ek was vasbeslote om die waarheid te vind. Ek het dus opreg en met trane tot God gebid—vir die eerste keer sonder die hulp van my siddur. Ek was skaars klaar, toe was daar ’n klop aan die deur. Dit was twee van Jehovah se Getuies. Hulle het een van hulle Bybelstudiehulpe vir my gegee. Hierdie publikasie, tesame met die besprekings wat ek daarna met die Getuies gehad het, het my oortuig dat hulle godsdiensoortuigings op die Bybel gegrond is. Die Getuies glo byvoorbeeld nie dat Jesus deel van ’n Drie-eenheid is nie, maar dat hy “die Seun van God” * en “die begin van die skepping deur God” * is.

Kort daarna het ek teruggegaan na Mexiko, waar ek voortgegaan het om Messiaanse profesieë saam met die Getuies te studeer. Ek was verbaas oor hoeveel profesieë daar is! Nogtans het ek ietwat skepties gebly. Ek het gewonder: ‘Is Jesus die enigste een by wie die beskrywing pas?’ en ‘Sê nou hy was net ’n geslepe toneelspeler wat die rol vertolk het?’

Wat was vir jou die keerpunt?

Die Getuies het vir my profesieë gewys wat geen bedrieër kon vervul nie. Byvoorbeeld, die profeet Miga het meer as 700 jaar vooruit voorspel dat die Messias in Betlehem, Judea, gebore sou word. * Watter mens het beheer oor waar hy gebore word? Jesaja het geskryf dat die Messias as ’n veragtelike misdadiger doodgemaak sou word, maar dat hy saam met die ryk klas begrawe sou word. * Al hierdie voorspellings is in Jesus bewaarheid.

Die laaste bewys het te doen gehad met Jesus se afkoms. Die Bybel het gesê dat die Messias ’n nakomeling van koning Dawid sou wees. * Die eertydse Jode het openbare en private geslagsregisters gehou. As Jesus nie uit Dawid se geslagslyn gekom het nie, sou sy vyande dit van die dakke af verkondig het! Maar hulle kon nie, want Jesus se verbintenis met Dawid was onbetwisbaar. Skares het hom selfs aangespreek as “die Seun van Dawid”. *

In 70 HJ—37 jaar ná Jesus se dood—het die Romeinse leër Jerusalem verwoes, en die geslagsregisters het verlore gegaan of is vernietig. Om deur middel van sy geslagslyn geïdentifiseer te word, moes die Messias dus voor 70 HJ verskyn.

Hoe het hierdie besef jou geraak?

In Deuteronomium 18:18, 19 is daar voorspel dat God ’n profeet soos Moses in Israel sou verwek. Enigiemand “wat nie luister na my woorde wat hy in my naam sal spreek nie, van hom sal ek self rekenskap eis”, het God gesê. My diepgaande studie van die hele Bybel het my oortuig dat Jesus van Nasaret hierdie profeet was.