Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om jou tiener te dissiplineer

Hoe om jou tiener te dissiplineer

DIE UITDAGING

Die huisreël is dat selfone teen negeuur die aand afgeskakel moet wees, maar jy het agtergekom dat jou dogter twee keer hierdie week tot ná middernag boodskappe gestuur het. Jou seun se inkomtyd is tienuur die aand, maar gisteraand het hy—al weer—ná elf by die huis gekom.

Jou tiener kan beter doen. Maar jy moet eers uitvind waarom hy of sy jou reëls blykbaar ignoreer. Die goeie nuus? Al lyk dit asof jou tiener jou openlik uittart, is die situasie dalk glad nie so ernstig nie.

WAAROM DIT GEBEUR

Onduidelike perke. Party tieners ignoreer reëls om te kyk hoe ver hulle kan gaan sonder om gestraf te word. As ’n ouer byvoorbeeld gesê het dat ’n sekere oortreding ’n sekere gevolg sal hê, sal ’n tiener dalk die perke oorskry om te kyk of die ouer sal doen wat hy of sy gesê het. Is sulke tieners besig om verstokte rebelle te word? Nie noodwendig nie. Die feit is dat tieners meer geneig is om reëls te verbreek as hulle ouers hulle nie altyd die gevolge van die oortreding laat dra nie of as die perke nie duidelik is nie.

Te streng. Party ouers probeer om deur middel van ’n eindelose lys reëls beheer oor hulle tiener uit te oefen. Wanneer die tiener ongehoorsaam is, raak die ouer kwaad en stel hy of sy nog meer reëls vas. Maar dikwels vererger dit sake net. “Hoe meer beheer jy probeer verkry, hoe meer verset jou tiener hom daarteen”, verduidelik die boek Parent/Teen Breakthrough, en dit voeg by: “[Hierdie] benadering is soos om koue botter op sagte brood te probeer smeer: die brood breek net, en die oplossing is nie om harder te smeer nie.”

Die regte dissipline kan help. In teenstelling met “straf”—wat beteken om iemand te laat ly—beteken “dissipline” basies om te leer. Hoe kan jy jou tiener leer om jou reëls te gehoorsaam?

 WAT JY KAN DOEN

Stel sake duidelik. Tieners moet weet presies wat van hulle verwag word en wat die gevolge van ongehoorsaamheid sal wees.—Bybelbeginsel: Galasiërs 6:7.

Wenk: Maak ’n lys van julle huisreëls. Vra jou dan af: ‘Het ek te veel reëls vasgestel? Het ek te min vasgestel? Is party nie meer nodig nie? Moet ek aanpassings maak ooreenkomstig die mate van volwassenheid wat my tiener aan die dag lê?’

Wees konsekwent. Dit kan vir tieners verwarrend wees as hulle laas week ongestraf gebly het, maar hierdie week die gevolge moet dra vir ’n soortgelyke oortreding.—Bybelbeginsel: Matteus 5:37.

Wenk: Probeer om die gevolg by die “oortreding” te laat pas. As jou tiener byvoorbeeld nie by sy inkomtyd bly nie, sal dit gepas wees om ’n vroeër inkomtyd vas te stel.

Wees redelik. Toon dat jy ’n buigsame ouer is deur jou tiener meer vryheid te gee as hy of sy dit verdien.—Bybelbeginsel: Filippense 4:5.

Wenk: Gaan sit en bespreek die reëls met jou tiener. Jy kan selfs sy of haar insette vra oor watter gevolge sekere oortredings moet hê. Tieners is baie meer geneig om reëls te gehoorsaam as hulle daarby betrokke was om dit te maak.

Bou karakter. Jou doel is nie net om jou tiener te kry om bevele te gehoorsaam nie, maar om hom ’n gesonde gewete—’n innerlike sin vir reg en verkeerd—te help ontwikkel. (Sien die venster “Help jou kind om goeie eienskappe aan te kweek”.)—Bybelbeginsel: 1 Petrus 3:16.

Wenk: Wend jou tot die Bybel om hulp. Dit is die beste bron van ‘dissipline wat insig gee’, en die wysheid daarin kan “aan die onervarenes skerpsinnigheid . . . gee, aan ’n jong man [of vrou] kennis en denkvermoë”.—Spreuke 1:1-4.