Spring na inhoud

Het enigiemand God al ooit gesien?

Het enigiemand God al ooit gesien?

Die Bybel se antwoord

 Geen mens het God al ooit letterlik gesien nie (Eksodus 33:20; Johannes 1:18; 1 Johannes 4:12). Die Bybel sê dat ‘God ’n Gees is’, ’n lewensvorm wat vir die menseoog onsigbaar is.—Johannes 4:24; 1 Timoteus 1:17.

 Maar engele kan God sien omdat hulle geesskepsele is (Matteus 18:10). Wat meer is, party mense wat doodgaan, sal met ’n geesliggaam tot hemelse lewe opgewek word en sal God dan kan sien.—Filippense 3:20, 21; 1 Johannes 3:2.

Hoe om God nou te “sien”

 Die Bybel gebruik dikwels die idee van figuurlike sig om geestelike verligting voor te stel (Jesaja 6:10; Jeremia 5:21; Johannes 9:39-41). ’n Persoon kan God nou in hierdie sin met “die oë van [sy] hart” sien deur geloof te hê wat hom in staat sal stel om God te ken en sy eienskappe te waardeer (Efesiërs 1:18). Die Bybel voorsien stappe wat ons kan volg om hierdie soort geloof op te bou:

  •   Leer deur middel van die skepping oor God se eienskappe, soos sy liefde en vrygewigheid asook sy wysheid en krag (Romeine 1:20). Nadat die getroue man Job aan God se skeppingswerke herinner is, het dit vir hom gevoel asof hy God reg voor hom sien.—Job 42:5.

  •   Leer God ken deur die Bybel te bestudeer. “As jy [God] soek, sal hy hom deur jou laat vind”, verseker die Bybel ons.—1 Kronieke 28:9; Psalm 119:2; Johannes 17:3.

  •   Leer uit Jesus se lewe omtrent God. Aangesien Jesus sy Vader, Jehovah God, se persoonlikheid volmaak weerspieël het, kon hy tereg sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.”—Johannes 14:9.

  •   Lewe op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra, en sien hoe hy ten behoewe van jou optree. Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.” Soos vroeër genoem is, sal party wat God behaag, na hemelse lewe opgewek word en “God [dus daar] sien”.—Matteus 5:8; Psalm 11:7.

Het Moses, Abraham en ander God dan nie gesien nie?

 In verslae waar dit dalk voorkom asof die Bybel sê dat mense God letterlik gesien het, toon die konteks dat God deur ’n engel verteenwoordig is of deur middel van ’n visioen aan hulle verskyn het.

 Engele.

In eertydse tye het God engele as sy verteenwoordigers gestuur om aan mense te verskyn en namens hom te praat (Psalm 103:20). Byvoorbeeld, God het eenkeer uit ’n brandende bos met Moses gepraat, en die Bybel sê dat “Moses sy gesig verberg [het], want hy was bang om na die ware God te kyk” (Eksodus 3:4, 6). Moses het God egter nie letterlik gesien nie, want die konteks toon dat hy eintlik “Jehovah se engel” gesien het.—Eksodus 3:2.

 Wanneer die Bybel sê dat God “van aangesig tot aangesig met Moses gepraat” het, beteken dit eweneens dat God ’n intieme gesprek met Moses gevoer het (Eksodus 4:10, 11; 33:11). Moses het nie werklik God se gesig gesien nie, want die inligting wat hy van God ontvang het, “is deur middel van engele ... oorgedra” (Galasiërs 3:19; Handelinge 7:53). Moses se geloof in God was nietemin so sterk dat die Bybel hom beskryf as iemand wat ‘die Onsigbare gesien het’.—Hebreërs 11:27.

 Net soos God deur middel van engele met Moses gepraat het, het hy ook deur middel van engele met Abraham gepraat. As ons die Bybel net oppervlakkig lees, kan ons wel tot die gevolgtrekking kom dat Abraham God letterlik gesien het (Genesis 18:1, 33). Maar die konteks toon dat die “drie manne” wat Abraham besoek het, eintlik engele was wat deur God gestuur is. Abraham het besef dat hulle God se verteenwoordigers was en het hulle aangespreek asof hy direk met Jehovah praat.—Genesis 18:2, 3, 22, 32; 19:1.

 Visioene.

God het ook aan mense verskyn deur middel van visioene, of tonele wat hy in ’n persoon se verstand laat afspeel. Byvoorbeeld, wanneer die Bybel sê dat Moses en die ander Israeliete “die God van Israel gesien” het, het hulle in werklikheid “’n visioen van die ware God gesien” (Eksodus 24:9-11). Net so sê die Bybel soms dat die profete ‘Jehovah gesien het’ (Jesaja 6:1; Daniël 7:9; Amos 9:1). In elke geval toon die konteks dat hulle ’n visioen van God gegee is en hom nie letterlik gesien het nie.—Jesaja 1:1; Daniël 7:2; Amos 1:1.