Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor die huwelik?

Wat sê die Bybel oor die huwelik?

Die Bybel se antwoord

 Nadat God die eerste man en vrou geskep het, het hy hulle in die huwelik saamgevoeg. Hy het die huwelik ingestel as ’n spesiale band tussen ’n man en ’n vrou, wat ’n stabiele omgewing vir die gesin sou skep. – Genesis 1:27, 28; 2:18.

 God wil hê dat getroude paartjies gelukkig moet wees (Spreuke 5:18). Deur middel van die Bybel het hy standaarde en beginsels vir die huwelik gegee wat dit kan help om suksesvol te wees.

In hierdie artikel

 Wat is God se standaarde vir die huwelik?

 Van die begin af het God die huwelik geskep om ’n band te wees tussen een man en een vrou (Genesis 2:24). God keer nie poligamie en homoseksuele dade goed nie. Hy keer dit ook nie goed wanneer paartjies saambly sonder dat hulle getroud is nie (1 Korintiërs 6:9; 1 Tessalonisense 4:3). Jesus het sy volgelinge geleer om gehoorsaam te wees aan God se oorspronklike standaard vir die huwelik. – Markus 10:6-8.

 In God se oë is die huwelik ’n permanente verbintenis tussen twee mense. Wanneer ’n man en vrou trou, belowe hulle om lojaal aan mekaar te wees en om bymekaar te bly so lank as wat hulle al twee lewe. God verwag dat hulle daardie belofte hou. – Markus 10:9.

 Wat daarvan om uitmekaar te gaan of te skei?

 Daar sal dalk tye wees wanneer ’n man en ’n vrou nie bymekaar kan wees nie, soos wanneer een van hulle weg moet gaan om te gaan help as daar ’n krisis in die familie is. Maar die Bybel moedig nie getroude paartjies aan om uitmekaar te gaan wanneer hulle huweliksprobleme het nie. Dit moedig eerder paartjies aan om in so ’n situasie aan die probleem te werk sodat hulle bymekaar kan bly. – 1 Korintiërs 7:10.

 Die Bybel sê dat seksuele onsedelikheid die enigste rede is om te skei (Matteus 19:9). So as ’n getroude paartjie besluit om uitmekaar te gaan of te skei en dit nie as gevolg van seksuele onsedelikheid is nie, gee die Bybel hulle nie die reg om met iemand anders uit te gaan of te trou nie. – Matteus 5:32; 1 Korintiërs 7:11.

 Moet ’n huwelik wetlik geregistreer word om God se goedkeuring te hê?

 God verwag dat Christene landswette wat met die huwelik te doen het, moet gehoorsaam (Titus 3:1). Wanneer ’n paartjie hulle huwelik wetlik registreer, wys hulle dat hulle respek het vir die regering en vir God se standaard dat die huwelik permanent is. a

 Watter rolle en verantwoordelikhede gee die Bybel aan getroude mans en vrouens?

  •   Verantwoordelikhede wat gedeel moet word. Mans en vrouens moet mekaar met liefde en respek behandel (Efesiërs 5:33). Hulle moet op ’n liefdevolle manier in mekaar se seksuele behoeftes voorsien en moet alle vorme van ontrouheid vermy (1 Korintiërs 7:3; Hebreërs 13:4). As ’n getroude paartjie kinders het, moet hulle die kinders saam grootmaak. – Spreuke 6:20.

     Die Bybel sê nie presies hoe ’n getroude paartjie die verantwoordelikhede moet deel wanneer dit kom by sekulêre werk en huishoudelike takies nie. Hulle kan saam besluit wat die beste vir hulle gesin sal wees.

  •   ’n Man se rol. Die Bybel sê dat die man “die hoof van sy vrou” is (Efesiërs 5:23). Hy is die hoof in die sin dat hy sy gesin moet lei en besluite moet maak wat die beste vir sy vrou en kinders sal wees.

     Hy moet seker maak dat hulle gesond en gelukkig is en dat hulle na aan God bly (1 Timoteus 5:8). Hy wys dat hy sy vrou se eienskappe en vermoëns waardeer deur saam met haar te werk en deur haar opinie en gevoelens ernstig op te neem wanneer hy besluite maak (Spreuke 31:11, 28). Die Bybel sê dat ’n man op ’n liefdevolle manier na sy verantwoordelikhede moet omsien. – Kolossense 3:19.

  •   ’n Vrou se rol. Die Bybel sê dat ’n vrou “diep respek vir haar man” moet hê (Efesiërs 5:33). Dit maak God bly wanneer ’n vrou die rol respekteer wat hy aan haar man gegee het.

     Haar rol is om haar man by te staan deur hom te help om goeie besluite te maak en sy hoofskap te ondersteun (Genesis 2:18). Die Bybel sê goeie dinge van ’n vrou wat haar belangrike rol in die huwelik vervul. – Spreuke 31:10.

 Verwag God dat getroude paartjies vandag kinders moet hê?

 Nee. God het in die verlede party van sy aanbidders beveel om kinders te hê (Genesis 1:28; 9:1). Maar hierdie bevel is nie op Christene van toepassing nie. Jesus het nooit sy volgelinge beveel om kinders te hê nie. En sy vroeë dissipels het ook nie gesê dat getroude paartjies kinders moet hê nie. Paartjies moet self besluit of hulle kinders wil hê.

 Hoe kan die Bybel my huwelik help?

 Die Bybel bevat beginsels wat ’n paartjie kan help sodat hulle huwelik ’n goeie begin kan hê. Hierdie waarhede in die Bybel kan paartjies ook help om probleme te vermy of te oorkom.

 Bybelwaarhede kan ’n getroude paartjie help om . . .

a Om die Bybel se beskouing te kry oor tradisionele of stamhuwelike, sien Die Wagtoring van 15 Oktober 2006, bladsy 21, paragraaf 12.