Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om verskille te hanteer

Hoe om verskille te hanteer

DIE UITDAGING

Jy hou van sport; jou maat hou meer van lees. Jy is baie presies en deeglik; jou maat is baie ongeorganiseerd. Jy is lief vir kuier; jou maat verkies privaatheid.

‘Ons pas net nie bymekaar nie!’ sê jy vir jouself. ‘Hoekom het ons dit nie agtergekom toe ons uitgegaan het nie?’

Dalk het jy dit wel agtergekom. Maar op daardie stadium was jy waarskynlik meer geneig om toegewings te maak—en dit sal goed wees om dit weer te doen noudat jy getroud is. Hierdie artikel sal jou help om dit te doen.

WAT JY MOET WEET

Party verskille is ernstig. Wanneer jy met iemand uitgaan, is een van die redes juis om te sien of julle by mekaar pas. Baie paartjies besluit om die verhouding te beëindig wanneer hulle sien dat hulle baie van mekaar verskil. Hulle meen dat dit beter is as om te trou met iemand met wie jy min in gemeen het. Maar wat van minder ernstige verskille—die soort wat in elke huwelik voorkom?

Daar is nie twee mense wat heeltemal dieselfde is nie. Dit is dus normaal dat huweliksmaats in een of meer van die volgende opsigte van mekaar sal verskil:

Belangstellings. “Ek het nog nooit van die buitelewe gehou nie,” sê ’n vrou met die naam Anna, * “maar my man het van kleins af sneeubedekte berge geklim en dae lank in die bos deurgebring.”

Gewoontes. “My vrou kan saans tot laat wakker bly en nog steeds vyfuur in die oggend opspring, maar ek moet sewe tot agt uur lank slaap, anders raak ek knorrig”, sê ’n man met die naam Brian.

Eienskappe. Jy is dalk teruggetrokke, terwyl jou huweliksmaat uitgesproke is. “Ek het grootgeword in ’n gesin waar ons nie oor ons persoonlike probleme gepraat het nie”, sê ’n man met die naam David, “maar my vrou kom uit ’n gesin waar alles openlik bespreek is.”

Verskille kan voordelig wees. “My manier van dinge doen, is moontlik reg, maar dit beteken nie dat dit die enigste manier is om iets te doen nie”, sê ’n getroude vrou met die naam Helena.

WAT JY KAN DOEN

Ondersteun jou maat. ’n Man met die naam Adam sê: “My vrou Karen stel glad nie in sport belang nie. Maar sy het al ’n paar wedstryde saam met my bygewoon en selfs vir my span geskree. Karen hou eerder van kunsmuseums, en daarom gaan ek saam met haar, en ons bly daar so lank as wat sy wil. Ek doen my bes om in kuns belang te stel omdat dit vir haar belangrik is.”Bybelbeginsel: 1 Korintiërs 10:24.

Verander jou beskouing. Jou huweliksmaat se beskouing is nie noodwendig verkeerd net omdat dit van joune verskil nie. Dit is ’n les wat ’n getroude man met die naam Alex geleer het. “Ek het nog altyd gedink dat ’n reguit lyn die kortste pad van punt A na punt B is en dat enige ander manier onaanvaarbaar is”, sê hy. “Maar die getroude lewe het my help besef dat daar baie maniere is om van punt A na punt B te gaan en dat meer as een manier doeltreffend kan wees.”Bybelbeginsel: 1 Petrus 5:5.

Wees realisties. Aanpasbaarheid beteken nie dat julle identies moet wees nie. Moet dus nie tot die gevolgtrekking kom dat julle huwelik ’n fout was net omdat julle in ’n paar opsigte van mekaar verskil nie. “Baie mense gebruik die verskoning: ‘Die liefde het my verblind’”, sê die boek The Case Against Divorce. Maar “elke dag wat julle saam gelukkig was”, sê die boek verder, “wys dat julle mekaar kan liefhê, ongeag hoe julle geaardhede van mekaar verskil”. Probeer om ‘aan te hou om mekaar te verdra as iemand rede tot klagte het’.Kolossense 3:13.

Probeer die volgende: Skryf neer waarom jy van jou huweliksmaat hou, waarom jy vir hom lief is en wat julle in gemeen het. Skryf dan neer waar julle van mekaar verskil. Jy sal waarskynlik agterkom dat julle verskille minder ernstig is as wat jy dink. Die lys sal jou ook wys waar jy dalk verdraagsamer kan wees en jou huweliksmaat meer kan ondersteun. “Ek waardeer dit as my vrou my in ag neem, en ek weet sy waardeer dit as ek haar in ag neem,” sê ’n man met die naam Kenneth. “Selfs wanneer dit ’n opoffering van my verg, maak dit my gelukkig as sy gelukkig is.”Bybelbeginsel: Filippense 4:5.

^ par. 10 Van die name in hierdie artikel is verander.