Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Sleutels tot gesinsgeluk

Behandel jou maat met respek

Behandel jou maat met respek

Will * sê: “Wanneer Rachel ontsteld is, huil sy aanmekaar. As ons gaan sit om dinge op te klaar, raak sy geïrriteerd of weier sy selfs om met my te praat. Dit lyk asof niks werk nie. Ek is lus om tou op te gooi.”

Rachel sê: “Toe Will by die huis kom, was ek in trane. Ek het probeer verduidelik waarom ek ontsteld is, maar hy het my in die rede geval. Hy het vir my gesê dat dit nie so ernstig is nie en dat ek my maar net moet regruk. Dit het my selfs meer ontstel.”

VOEL jy soms soos Will of Rachel? Hulle albei wil graag kommunikeer, maar hulle raak dikwels gefrustreerd. Waarom?

Mans en vroue het verskillende kommunikasiestyle, en hulle het unieke behoeftes. ’n Vrou wil dalk baie graag openlik en dikwels oor haar gevoelens praat. Baie mans daarenteen probeer die vrede bewaar deur probleme gou op te los en netelige kwessies te vermy. Hoe kan jy dan hierdie verskille oorbrug en met jou man of vrou kommunikeer? Deur jou maat met respek te behandel.

’n Respekvolle persoon waardeer ander en probeer hulle gevoelens verstaan. Van kleins af het jy dalk geleer om mense te respekteer wat meer gesag of ondervinding as jy het. Maar die uitdaging in die huwelik is om respek te betoon aan iemand met wie jy op meer gelyke voet is—jou maat. “Ek het geweet dat Phil met geduld en begrip na enigiemand anders sou luister wat met hom praat”, sê Linda, wat al agt jaar getroud is. “Ek wou hê dat hy net soveel empatie met my moes betoon.” Jy luister waarskynlik geduldig na en praat respekvol met vriende en selfs vreemdelinge. Maar is jy net so bedagsaam teenoor jou maat?

’n Gebrek aan respek skep ’n gespanne atmosfeer in die huis en lei tot hewige konflik. ’n Wyse heerser het gesê: “’n Droë broodkorsie wat in rus en vrede geëet word, is beter as ’n feesmaal wat geëet word waar almal stry” (Spreuke 17:1, Contemporary English Version). Die Bybel sê dat ’n man eer, of respek, teenoor sy vrou moet betoon (1 Petrus 3:7). “Die vrou” moet ook “diep respek vir haar man hê”.—Efesiërs 5:33.

  Hoe kan jy op ’n respekvolle manier kommunikeer? Kyk na van die praktiese raad in die Bybel.

Wanneer jou maat iets op die hart het

Die uitdaging:

Baie mense hou meer daarvan om te praat as om te luister. Is jy een van hulle? Die Bybel beskryf enigiemand wat “op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor” as dwaas (Spreuke 18:13). Luister dus voordat jy praat. Waarom? “Ek hou meer daarvan wanneer my man nie my probleme onmiddellik probeer oplos nie”, sê Kara, wat al 26 jaar getroud is. “Hy hoef nie eens saam te stem of uit te werk waarom die probleem ontstaan het nie. Ek wil net hê dat hy na my moet luister en aan my gevoelens erkenning moet gee.”

Aan die ander kant, huiwer party mans en vroue om hulle uit te druk en voel hulle ongemaklik as hulle maat druk op hulle plaas om oor hulle gevoelens te praat. Lorrie, wat onlangs getrou het, het agtergekom dat dit haar man lank neem om oor sy gevoelens te praat. Sy sê: “Ek moet geduldig wees en wag totdat hy oor sy gevoelens wil praat.”

’n Oplossing:

As jy en jou maat oor iets moet praat wat moontlik onenigheid kan veroorsaak, kan julle die saak aanroer wanneer julle al twee kalm en ontspanne is. Sê nou jou maat huiwer om te praat? Jy moet besef dat die ‘raad in die hart van ’n man soos diep waters is, maar die man met onderskeidingsvermoë sal dit uitskep’ (Spreuke 20:5). As jy ’n emmer te vinnig uit ’n put optrek, sal jy baie water verloor. As jy eweneens te sterk oorkom wanneer jy jou maat nader, sal jou maat dalk verdedigend reageer en sal jy die geleentheid verspeel om hom of haar aan die gesels te kry. Probeer eerder om vrae op ’n liefdevolle en respekvolle manier te vra, en wees geduldig as jou maat sy of haar gevoelens nie so gou uitspreek as wat jy wil hê nie.

Wanneer jou maat wel praat, moet jy “gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). ’n Goeie luisteraar luister nie net met sy ore nie, maar ook met sy hart. Probeer jou maat se gevoelens verstaan wanneer hy of sy praat. Die manier waarop jy luister, sal vir jou maat ’n aanduiding gee in watter mate jy hom of haar respekteer—of nie respekteer nie.

Jesus het vir ons geleer hoe om te luister. Toe ’n siek man hom byvoorbeeld om hulp genader het, het Jesus nie die probleem onmiddellik opgelos nie. Hy het eers na die man se versoek geluister. Daarna het hy toegelaat dat die man se woorde hom diep raak. Toe het hy die man genees (Markus 1:40-42). Wanneer jou maat praat, kan jy dieselfde patroon volg. Onthou dat hy of sy waarskynlik opregte medelye wil hê, nie ’n vinnige oplossing nie. Luister dus aandagtig. Laat toe dat sy of haar woorde jou emosies raak. Slegs nadat jy dit gedoen het, moet jy op jou maat se behoeftes reageer. Sodoende sal jy toon dat jy jou maat respekteer.

PROBEER DIE VOLGENDE: Die volgende keer wanneer jou maat met jou begin praat, moet jy die drang weerstaan om onmiddellik te antwoord. Wag totdat jou maat klaar gepraat het en jy verstaan wat hy of sy gesê het. Vra jou maat later: “Het dit vir jou gevoel asof ek werklik na jou geluister het?”

Wanneer jy iets op die hart het

Die uitdaging:

“Sitkoms laat dit normaal lyk om sleg te praat van jou maat en om beledigend en sarkasties te wees”, sê Linda, wat vroeër aangehaal is. Party word groot in ’n huis waar oneerbiedige spraak iets alledaags is. Wanneer hulle later trou, vind hulle dit moeilik om te voorkom dat dieselfde patroon in hulle gesin voortgesit word. Ivy, wat in Kanada woon, sê: “Ek het grootgeword in ’n omgewing waar dit iets algemeens was om sarkasties te wees, op mekaar te skreeu en skelname te gebruik.”

’n Oplossing:

Wanneer jy met ander oor jou maat praat, moet jy sê wat “goed is vir  opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel” (Efesiërs 4:29). Skep ’n goeie indruk van jou maat deur die manier waarop jy oor hom of haar praat.

Selfs wanneer jy en jou maat alleen is, moet jy die drang weerstaan om sarkasties te wees en skelname te gebruik. In eertydse Israel het Migal kwaad geword vir haar man, koning Dawid. Sy was sarkasties en het gesê dat hy hom “net soos een van die leeghoofdiges” gedra het. Haar woorde het Dawid gekrenk, maar dit het God ook mishaag (2 Samuel 6:20-23). Wat is die les? Wanneer jy met jou maat praat, moet jy jou woorde versigtig kies (Kolossense 4:6; voetnoot in NW). Phil, wat al agt jaar getroud is, erken dat hy en sy vrou nog steeds meningsverskille het. Hy het agtergekom dat sy woorde soms die situasie vererger. “Ek besef nou dat ’n mens in werklikheid iets verloor wanneer jy ’n argument ‘wen’. Ek vind dat dit baie bevredigender en voordeliger is om ons verhouding te probeer opbou.”

’n Bejaarde weduwee van lank gelede het haar skoondogters aangespoor om ‘’n rusplek te vind, elkeen in die huis van haar man’ (Rut 1:9). Wanneer die man sowel as die vrou mekaar met waardigheid behandel, maak hulle hulle huis “’n rusplek”.

PROBEER DIE VOLGENDE: Sit tyd opsy om die wenke onder hierdie onderhofie saam as ’n egpaar te bespreek. Vra jou maat: “Wanneer ek met ander oor jou praat, voel jy dat ek jou eer of verkleineer? Watter veranderinge kan ek maak om te verbeter?” Luister aandagtig terwyl jou maat oor sy of haar gevoelens praat. Probeer die voorstelle toepas wat jy hoor.

Aanvaar dat julle verskillend is

Die uitdaging:

Party pasgetroudes dink verkeerdelik dat die uitdrukking “een vlees” in die Bybel beteken dat die egpaar dieselfde mening of persoonlikheid moet hê (Matteus 19:5). Maar hulle kom gou agter dat hierdie beskouing idealisties is. Wanneer hulle eers getroud is, lei hulle verskille dikwels tot argumente. Linda sê: “Een groot verskil tussen ons is dat Phil hom minder oor dinge bekommer as ek. Soms kan hy ontspan terwyl ek bekommerd is, en dan raak ek kwaad omdat dit lyk asof hy minder oor iets omgee as ek.”

’n Oplossing:

Aanvaar mekaar soos julle is, en respekteer die aspekte van jou maat se persoonlikheid wat van joune verskil. Ter toeligting: Jou oë funksioneer anders as jou ore; nogtans werk hulle saam sodat jy die pad veilig kan oorsteek. Adrienne, wat al byna drie dekades getroud is, sê: “Solank ons beskouings nie in stryd is met God se Woord nie, laat ek en my man mekaar toe om verskillende opinies te hê. Ons is immers getroud, nie gekloon nie.”

Wanneer jou maat se opinie of reaksie van joune verskil, moet jy nie net op jou eie belange fokus nie. Neem jou maat se gevoelens in ag (Filippense 2:4). Adrienne se man, Kyle, erken: “Ek verstaan nie altyd my vrou se opinies nie en stem ook nie altyd daarmee saam nie. Maar ek herinner my daaraan dat ek haar baie meer liefhet as my opinie. Wanneer sy gelukkig is, is ek ook werklik gelukkig.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Maak ’n lys van die opsigte waarin jou maat se beskouing of manier om dinge te hanteer, beter is as joune.—Filippense 2:3

Respek is een van die sleutels tot ’n gelukkige en blywende huwelik. “Respek lei tot tevredenheid en veiligheid in ’n huwelik”, sê Linda. “Dit is beslis die moeite werd om dit aan te kweek.”

^ par. 3 Name is verander.

VRA JOU AF . . .

  • Hoe het die feit dat ek en my maat verskillend is, ons gesin verryk?

  • Waarom is dit goed om toe te gee aan my maat se voorkeur wanneer dit nie in stryd is met enige Bybelbeginsel nie?