Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om respek te toon

Hoe om respek te toon

DIE UITDAGING

Die man sê: “Toe ek en my vrou pasgetroud was, het ons verskillende opinies gehad oor wat dit beteken om respek te toon. Dit beteken nie dat een opinie reg was en die ander een verkeerd nie—dit was net verskillend. Ek het dikwels gevoel dat my vrou meer respekvol moet wees wanneer sy met my praat.”

Die vrou sê: “Dit was deel van die kultuur waarin ek grootgemaak is om hard te praat, dramatiese gesigsuitdrukkings te gebruik en ander in die rede te val wanneer hulle praat. Vir ons was dit nie disrespekvol nie. Maar dit is heeltemal anders as die manier waarop my man grootgemaak is.”

Respek in die huwelik is nie ’n luuksheid nie—dit is ’n noodsaaklikheid. Hoe kan jy toon dat jy jou maat respekteer?

WAT JY MOET WEET

Mans veral het ’n behoefte aan respek. Die Bybel sê vir mans: “Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself.” Maar dan voeg dit by: “Die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Vrouens sowel as mans het ’n behoefte aan liefde en respek, maar dit is veral vir mans baie belangrik om te voel dat hulle gerespekteer word. “Mans wil voel dat hulle situasies kan hanteer, probleme kan oplos en vir die gesin kan sorg”, sê ’n man met die naam Carlos. * Wanneer ’n vrou haar man respekteer omdat hy hierdie dinge kan doen, is dit nie net goed vir hom nie, maar ook vir haar. “Eintlik is my man liefdevoller teenoor my wanneer ek toon dat ek hom respekteer”, sê ’n vrou met die naam Corrine.

Vrouens moet natuurlik ook gerespekteer word. Dit maak sin omdat ’n man sy vrou nie regtig kan liefhê as hy haar nie respekteer nie. “Ek moet my vrou se opinies en voorstelle respekteer”, sê Daniel. “Ek moet ook haar gevoelens respekteer. Net omdat ek nie verstaan hoekom my vrou sekere gevoelens het nie, beteken dit nie dat ek haar gevoelens as niks kan afmaak nie.”

Ons almal het ’n verskillende beskouing van respek. Die kwessie is nie of jy dink dat jy respek toon nie, maar of jou maat voel dat hy of sy gerespekteer word. Dit is ’n les wat die vrou geleer het wat aan die begin onder die opskrif “Die uitdaging” aangehaal is. “As ek my man laat voel het dat ek disrespekvol was, selfs al het ek nie so gedink nie, is ek die een wat moes verander.”

WAT JY KAN DOEN

  • Skryf drie dinge neer wat jy omtrent jou man of jou vrou waardeer. Die eienskappe wat jy waardeer, kan die grondslag wees waarop jy respek kan bou.

  • Monitor jou gedrag (nie jou maat s’n nie) ’n week lank op die volgende gebiede.

Jou woorde. ’n Studie oor egpare het getoon dat “egpare in gelukkige, sterk huwelike vyf positiewe kommentare gemaak het vir elke negatiewe kommentaar toe hulle konflik bespreek het. In teenstelling hiermee het egpare wat op egskeiding afgestuur het, minder as een positiewe kommentaar (0,8) vir elke negatiewe kommentaar gemaak.” *Bybelbeginsel: Spreuke 12:18.

Vra jou af: ‘Praat ek op ’n respekvolle manier met my maat? Hoe dikwels kritiseer ek my huweliksmaat in vergelyking met hoe dikwels ek hom of haar ’n kompliment gee? Watter stemtoon gebruik ek wanneer ek ’n opinie of ’n klagte het?’ Sou jou maat met jou antwoorde saamstem?—Bybelbeginsel: Kolossense 3:13.

Probeer die volgende: Maak ’n punt daarvan om jou man of vrou elke dag ten minste een kompliment te gee. Wenk: Dink weer aan die goeie eienskappe wat jy vroeër neergeskryf het. Kom in die gewoonte om vir jou maat te wat jy omtrent hom of haar waardeer.—Bybelbeginsel: 1 Korintiërs 8:1.

Jou dade. ’n Vrou met die naam Alicia sê: “Ek spandeer baie tyd daaraan om die huis skoon te hou, en wanneer my man self sy goed wegpak of die skottelgoed was, voel ek dat hy my respekteer en al my moeite waardeer.”

Vra jou af: ‘Toon die manier waarop ek my maat behandel duidelik dat ek hom of haar respekteer? Spandeer ek genoeg tyd met my maat en gee ek hom of haar genoeg aandag?’ Sou jou maat met jou antwoorde saamstem?

Probeer die volgende: Skryf drie maniere neer waarop jy gerespekteer wil word. Laat jou maat dieselfde doen. Gee dan julle lysies vir mekaar sodat elkeen van julle kan probeer om respek te toon op die gebiede wat genoem is. Konsentreer op die feit dat jy respek moet toon. Wanneer een persoon dit doen, sal die ander een dit waarskynlik ook doen.

^ par. 8 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 14 Uit die boek Ten Lessons to Transform Your Marriage.