Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | DIE VIER PERDERUITERS—HOE RAAK DIT JOU?

Die vier perderuiters—Wie is hulle?

Die vier perderuiters—Wie is hulle?

Die vier perderuiters lyk dalk geheimsinnig en skrikwekkend, maar dit hoef nie so te wees nie. Hoekom nie? Omdat die Bybel en dinge wat in onlangse geskiedenis gebeur het, ons help om duidelik te sien wat elke perderuiter afbeeld. En hoewel dit moeilike tye vir die aarde beteken wanneer hulle begin ry, kan dit ook goeie nuus vir jou en jou gesin beteken. Hoe so? Kom ons vind eers uit wie en wat elke perderuiter voorstel.

DIE RUITER VAN DIE WIT PERD

Die visioen begin so: “Ek het gesien, en kyk! ’n wit perd; en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi.”—Openbaring 6:2.

Wie is die ruiter van die wit perd? Ons word gehelp om te verstaan wie hierdie hemelse perderuiter is omdat hy later in dieselfde Bybelboek, Openbaring, as “Die Woord van God” geïdentifiseer word (Openbaring 19:11-13). Hierdie titel, Die Woord, word aan Jesus Christus gegee omdat hy namens God praat (Johannes 1:1, 14). Hy word ook “Koning van die konings en Here van die here” genoem en word as “Getrou en Waaragtig” beskryf (Openbaring 19:11, 16). Dit is duidelik dat hy die gesag het om as ’n stryder-koning op te tree, en hy gebruik nie sy mag op ’n verkeerde of korrupte manier nie. Maar daar is nog vrae.

Wie gee vir Jesus die gesag om te oorwin? (Openbaring 6:2). Die profeet Daniël het ’n visioen gesien waarin die Messias vergelyk word met “’n seun van die mens” en aan hom word “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee” deur “die Oue van Dae”, Jehovah God * (Daniël 7:13, 14). Met ander woorde dit is God die Almagtige wat Jesus die mag en die reg gee om te regeer en te oordeel. Die wit perd is die regte simbool vir die regverdige oorlog wat deur God se Seun gevoer word, want in die Bybel word die kleur wit baie keer gebruik om regverdigheid voor te stel.—Openbaring 3:4; 7:9, 13, 14.

Wanneer het die perderuiters begin ry? Let op dat die eerste ruiter, Jesus, begin ry wanneer hy gekroon word (Openbaring 6:2). Wanneer is Jesus as Koning in die hemel gekroon? Dit het nie gebeur toe hy ná sy dood teruggegaan het hemel toe nie. Die Bybel wys dat daar toe ’n wagtydperk begin het (Hebreërs 10:12, 13). Jesus het sy volgelinge ’n manier gegee om te sien wanneer daardie wagtydperk sou eindig en hy in die hemel sou begin regeer. Hy het gesê dat wêreldtoestande baie slegter sou word wanneer hy begin regeer. Daar sou oorlog, hongersnood en siekte wees (Matteus 24:3, 7; Lukas 21:10, 11). Kort nadat die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het dit duidelik geword dat hierdie tyd vir die mensdom begin het, ’n moeilike tyd op aarde wat die Bybel “die laaste dae” noem.—2 Timoteus 3:1-5.

Maar hoekom het toestande op die aarde al erger in plaas van beter geraak vandat Jesus in 1914 gekroon is? Omdat Jesus op daardie stadium in die hemel begin regeer het, nie op die aarde nie. Oorlog het toe in die hemel uitgebreek, en die pasgekroonde Koning, Jesus, wat ook Migael genoem word, het Satan en sy demone na die aarde toe neergeslinger (Openbaring 12:7-9, 12). Omdat Satan hier vasgekeer is, is hy van daardie tyd af woedend, want hy weet dat sy dae getel is. Dit sal nie lank wees voordat God sy wil op die aarde uitvoer en teen Satan optree nie (Matteus 6:10). Kom ons kyk nou hoe die ander drie perderuiters verder bewys dat ons wel gedurende die moeilike “laaste dae” lewe. Dit is duidelik dat die eerste perderuiter ’n spesifieke persoon voorstel. Maar die drie perderuiters wat volg, stel wêreldtoestande voor wat die hele mensegemeenskap raak.

DIE RUITER VAN DIE ROOI PERD

“’n Ander een het te voorskyn gekom, ’n vuurkleurige perd; en aan die een wat daarop sit, is dit gegee om vrede van die aarde weg te neem sodat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is vir hom gegee.”—Openbaring 6:4.

Hierdie ruiter stel oorlog voor. Let op dat hy vrede nie net van ’n paar nasies af wegneem nie, maar van die hele aarde af. Vir die eerste keer in die geskiedenis het daar in 1914 ’n wêreldoorlog uitgebreek. Daarna was daar ’n tweede wêreldoorlog, wat selfs erger was. Party skat dat daar sedert 1914 meer as 100 miljoen mense dood is as gevolg van oorlog en gewapende gevegte! Daar is ook ontsaglik baie mense gewond en vermink.

Hoe wydverspreid is oorlog in ons tyd? Vir die eerste keer in die geskiedenis het die mens die vermoë om alle menselewe regoor die wêreld uit te wis. Selfs organisasies wat sê dat hulle die vrede bewaar, soos die Verenigde Nasies, kon nie die ruiter van die rooi perd keer nie.

DIE RUITER VAN DIE SWART PERD

“Ek het gesien, en kyk! ’n swart perd; en die een wat daarop sit, het ’n weegskaal in sy hand gehad. En ek het ’n stem asof van tussen die vier lewende wesens hoor sê: ‘’n Liter koring vir ’n denarius, en drie liter gars vir ’n denarius; en moenie die olyfolie en die wyn beskadig nie.’”—Openbaring 6:5, 6.

Hierdie ruiter stel hongersnood voor. Hier lees ons dat daar so min kos is dat jy ’n denarius vir omtrent ’n liter koring betaal. In die eerste eeu was ’n denarius die betaling vir ’n hele dag se werk! (Matteus 20:2). Dieselfde hoeveelheid geld kon omtrent drie liter gars koop, ’n graan wat minder werd is as koring. Sou dit genoeg kos wees vir ’n groot gesin? Mense word hier gewaarsku om spaarsamig te wees selfs met daaglikse kos, wat voorgestel word deur die olyfolie en wyn wat in daardie tyd en kultuur basiese stapelkos was.

Watter bewyse is daar dat die ruiter van die swart perd vanaf 1914 aan die beweeg is? Gedurende die 20ste eeu het omtrent 70 miljoen mense as gevolg van hongersnood gesterf. Een bron het geskat dat “805 miljoen mense—omtrent een uit nege van die wêreld se bevolking—vanaf 2012 tot 2014 chronies ondervoed was”. ’n Ander verslag sê: “Meer mense gaan elke jaar van honger dood as van vigs, malaria en tuberkulose (TB) tesame.” Al word daar hard probeer om die mense wat honger ly, kos te gee, hou die ruiter van die swart perd aan om te ry.

DIE RUITER VAN DIE VAAL PERD

“Ek het gesien, en kyk! ’n vaal perd; en die een wat daarop sit, het die naam Dood gehad. En Hades het kort agter hom gevolg. En hulle is gesag oor die vierde deel van die aarde gegee, om dood te maak met ’n lang swaard en met voedseltekorte en met dodelike plae en deur die wilde diere van die aarde.”—Openbaring 6:8.

Die vierde ruiter stel die dood as gevolg van siekte en ander oorsake voor. Kort ná 1914 het die Spaanse griep miljoene der miljoene mense doodgemaak. Daar is moontlik sowat 500 miljoen mense besmet, omtrent 1 uit elke 3 mense wat toe gelewe het!

Maar die Spaanse griep was net die begin. Geleerdes skat dat daar honderde miljoene mense gedurende die 20ste eeu as gevolg van pokke doodgegaan het. Al word daar vandag intensiewe mediese navorsing gedoen, word die lewe van miljoene mense nog steeds deur vigs, TB en malaria kortgeknip.

Of dit nou oorlog, hongersnood of siekte is, die gevolg is dieselfde—die dood. Daar is geen hoop vir die slagoffers nie, want die Graf eis hulle almal.

BETER TYE LÊ VOOR!

Die moeilike tye van vandag sal binnekort verby wees. Onthou: In 1914 het Jesus “uitgegaan om te oorwin” en Satan tot die aarde beperk, maar Jesus het nie op daardie stadium sy oorwinning voltooi nie (Openbaring 6:2; 12:9, 12). Binnekort, gedurende Armageddon, sal Jesus Satan se invloed verwyder en die mense wat die Duiwel ondersteun, vernietig (Openbaring 20:1-3). Jesus sal nie net ’n einde maak aan die ander drie perderuiters nie, maar hy sal selfs die vernietigende skade regstel wat deur hulle veroorsaak is. Hoe so? Kom ons kyk wat die Bybel belowe.

In plaas van oorlog sal daar vrede wees. Jehovah “laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend” (Psalm 46:9). En vreedsame mense “sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”.—Psalm 37:11.

In plaas van hongersnood sal daar oorgenoeg kos wees. “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.

Jesus sal binnekort die skade regstel wat die ander drie perderuiters veroorsaak het

In plaas van siekte en die dood sal almal volmaakte gesondheid en die ewige lewe geniet. God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:4.

Toe Jesus op die aarde was, het hy gewys hoe toestande in die toekoms sal wees wanneer hy regeer. Hy het vir mense gewys hoe om vreedsaam te wees, duisende mense wonderdadig kos gegee, siekes gesond gemaak en selfs die dooies weer laat lewe.—Matteus 12:15; 14:19-21; 26:52; Johannes 11:43, 44.

Jehovah se Getuies sal jou graag in die Bybel wil wys hoe jy gereed kan wees vir die tyd wanneer die perderuiters ophou ry. Sal jy graag meer wil weet?