Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek geniet dit om tyd saam met die jongmense in die gemeente te spandeer

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek was liewer vir bofbal as vir enigiets anders!

Ek was liewer vir bofbal as vir enigiets anders!
  • GEBORE: 1928

  • GEBOORTELAND: COSTA RICA

  • GESKIEDENIS: PROFESSIONELE SPORT EN DOBBELARY WAS SY LEWE

MY VERLEDE

Ek het grootgeword in die omgewing van Puerto Limón, ’n hawestad aan die ooskus van Costa Rica. My ouers het agt kinders gehad, en ek was die sewende kind. My pa is dood toe ek agt jaar oud was, en my ma het ons toe alleen grootgemaak.

Bofbal was nog altyd deel van my lewe. Ek het dit geniet om bofbal te speel toe ek ’n kind was. In my laat tienerjare het ek in ’n span begin speel wat deel was van ’n amateur-liga. Terwyl ek in my 20’s was en in die amateur-liga gespeel het, het ’n talentsoeker my gevra om vir ’n professionele span in Nicaragua te speel. Maar omdat my ma nie gesond was nie en ek na haar gekyk het, wou ek nie in Nicaragua gaan bly het nie. Ek het toe nee gesê. Later het ’n ander talentsoeker my genooi om vir Costa Rica se nasionale bofbalspan te speel. Die span het bestaan uit spelers wat uit die amateur-liga gekies is. Hierdie keer het ek ja gesê. Ek was in die nasionale span van 1949 af tot 1952 en het in ’n reeks wedstryde in Kuba, Mexiko en Nicaragua gespeel. Ek was ’n goeie veldwerker en het in 17 wedstryde agtermekaar gespeel sonder om ’n enkele fout te maak. Ek was mal daaroor om te hoor hoe die skare my naam skree!

Ongelukkig het ek ’n slegte lewe gelei. Al het ek ’n meisie gehad, was daar altyd ander vrouens. Ek het ook baie gedrink. Eendag het ek so dronk geword dat ek nie die volgende dag kon onthou hoe ek by die huis gekom het nie! Ek het ook op dominospeletjies gewed en die lotery gespeel.

Gedurende hierdie tyd het my ma een van Jehovah se Getuies geword. Sy het probeer om my van haar godsdiens te vertel, maar ek het nie belanggestel nie omdat ek heeltemal behep was met my sport. Ek het nie eers honger geword as ek gedurende etenstyd besig was om bofbal te oefen nie! Dit was al waaraan ek kon dink. Ek was liewer vir bofbal as vir enigiets anders!

Maar toe ek 29 was, is ek ernstig beseer toe ek ’n bal gedurende ’n wedstryd probeer vang het. Nadat ek gesond geword het, het ek opgehou om professioneel te speel. Ek het nog steeds by georganiseerde bofbal betrokke gebly en ’n span naby my huis afgerig wat in ’n amateur-liga gespeel het.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

In 1957 het ek ’n uitnodiging aanvaar om ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies by te woon in ’n stadion waar ek al voorheen bofbal gespeel het. Terwyl ek in die gehoor gesit het, kon ek die duidelike verskil sien tussen die ordentlike gedrag van die Getuies en die lawaaierige gedrag van die skares by bofbalwedstryde. Ek het die Bybel saam met die Getuies begin studeer en hulle gemeentelike vergaderinge bygewoon as gevolg van wat ek by die byeenkoms gesien het.

Ek was beïndruk deur wat ek in die Bybel geleer het. Byvoorbeeld, Jesus het voorspel dat sy dissipels in die laaste dae die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd sou verkondig (Matteus 24:14). Ek het ook geleer dat ware Christene nie betaal word om te preek nie. Jesus het gesê: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.”—Matteus 10:8.

Ek het die dinge wat ek in my Bybelstudie geleer het, vergelyk met wat Jehovah se Getuies doen. Ek het hulle bewonder omdat hulle hard werk om die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd te verkondig. En ek het gesien dat hulle die gewillige gees het wat Jesus Christene beveel het om te hê. In Markus 10:21 nooi Jesus ons uit: “Kom word my volgeling.” Toe ek dit lees, wou ek ’n Getuie word.

Maar dit het lank gevat, en dit was nie maklik nie. Ek het byvoorbeeld jare lank elke week ’n kaartjie met my “gelukkige” nommer vir die nasionale lotery gekoop. Maar ek het uit die Bybel geleer dat aanbidders van die “Geluksgod” en gierige mense deur God veroordeel word (Jesaja 65:11; Kolossense 3:5). Ek het toe besluit om op te hou dobbel. Die eerste Sondag nadat ek opgehou het om loterykaartjies te koop, het my “gelukkige” nommer gewen! Mense het my gespot omdat ek nie daardie week gespeel het nie. Hulle het druk op my gesit om weer te begin speel, maar ek het nie. Ek het nooit weer gedobbel nie.

Op dieselfde dag waarop ek by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies gedoop is, is my “nuwe persoonlikheid” op nog ’n manier getoets (Efesiërs 4:24). Daardie aand, toe ek na my hotel teruggaan, het my eksmeisie voor my hotelkamer se deur gewag. Sy het aangehou: “Ag toe, Sammy. Ons kan ’n lekker tyd hê!” Maar ek het dadelik nee gesê! Ek het haar daaraan herinner dat ek nou volgens die Bybel se standaarde lewe (1 Korintiërs 6:18). Sy het dit nie verstaan nie en het gesê dat wat die Bybel oor seksuele onsedelikheid leer, nie belangrik is nie en daarop aangedring dat ons weer ’n verhouding moet hê. Maar ek het net eenvoudig in my kamer ingegaan en die deur agter my gesluit. Ek is bly om te sê dat ek, vandat ek in 1958 ’n Getuie geword het, getrou by my besluit gebly het om my lewenswyse te verander.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

Dit voel asof ek ’n boek kan skryf oor die voordele wat ek ontvang het omdat ek die Bybel se raad gevolg het! Party van hierdie voordele is dat ek nou ware vriende het, dat my lewe ’n doel het en dat ek waarlik gelukkig is.

Ek geniet dit nog steeds om bofbal te speel, maar ek besef nou wat werklik belangrik is. Al het bofbal my beroemd en ryk gemaak, het dit nie lank gehou nie. Maar my verhouding met God en die broederskap waarvan ek deel is, sal vir ewig hou. Die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Nou is ek liewer vir Jehovah God en sy mense as vir enigiets anders!