Spring na inhoud

Wie of wat is die Woord van God?

Wie of wat is die Woord van God?

Die Bybel se antwoord

 Die uitdrukking “die woord van God” verwys gewoonlik na ’n goddelike boodskap of na ’n versameling van hierdie soort boodskappe (Lukas 11:28). Op ’n paar plekke word “Die Woord van God” of “die Woord” as ’n persoonlike titel gebruik.—Openbaring 19:13; Johannes 1:14.

 ’n Goddelike boodskap. Die profete het dikwels gesê dat die boodskappe wat hulle oordra, God se woord is. Byvoorbeeld, Jeremia het sy profetiese boodskappe ingelei met die uitdrukking “die woord van Jehovah het tot my gekom” (Jeremia 1:4, 11, 13; 2:1). Voordat die profeet Samuel vir Saul gesê het dat God hom as koning gekies het, het Samuel gesê: “Staan jy nou stil sodat ek jou die woord van God kan laat hoor.”—1 Samuel 9:27.

 ’n Persoonlike titel. “Die Woord” word ook in die Bybel gebruik as ’n titel om te verwys na Jesus Christus as ’n geesskepsel in die hemel sowel as ’n mens op die aarde. Kyk na ’n paar redes waarom ons tot hierdie gevolgtrekking kom:

  •   Die Woord het bestaan voordat enigiets anders geskep is. “In die begin was die Woord . . . Dié een was in die begin by God” (Johannes 1:1, 2). Jesus is “die eersgeborene van die hele skepping . . . Hy is voor alle ander dinge.”—Kolossense 1:13-15, 17.

  •   Die Woord het as ’n mens na die aarde toe gekom. “Die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Johannes 1:14). Christus Jesus “het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword”.—Filippense 2:5-7.

  •   Die Woord is God se Seun. Nadat die apostel Johannes gesê het dat “die Woord . . . vlees geword” het, soos ons vroeër aangehaal het, het hy verder gesê: “Ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos dié van ’n enigverwekte seun wat van ’n vader kom” (Johannes 1:14). Johannes het ook geskryf dat “Jesus Christus die Seun van God is.”—1 Johannes 4:15.

  •   Die Woord het goddelike eienskappe. “Die Woord was ’n god” (Johannes 1:1). Jesus is “die weerspieëling van sy heerlikheid en die presiese afdruksel van sy wese”.—Hebreërs 1:2, 3.

  •   Die Woord heers as ’n koning. Die Bybel sê dat die Woord van God “baie krone” op sy kop het (Openbaring 19:12, 13). Die Woord word ook “Koning van die konings en Here van die here” genoem (Openbaring 19:16). Jesus word “die Koning van dié wat as konings heers en Here van dié wat as here heers” genoem.—1 Timoteus 6:14, 15.

  •   Die Woord dien as God se woordvoerder. Die titel “die Woord” identifiseer blykbaar die draer daarvan as iemand wat deur God gebruik word om inligting en instruksies oor te dra. Jesus het self gesê dat hy hierdie rol vervul het: “Die Vader wat my gestuur het, het vir my ’n gebod gegee oor wat om te sê en wat om te spreek ... Die dinge wat ek dan spreek—net soos die Vader hulle vir my gesê het, so spreek ek hulle.”—Johannes 12:49, 50.