Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SEWENTIEN

“Kyk! Jehovah se slavin!”

“Kyk! Jehovah se slavin!”

1, 2. (a) Hoe is Maria deur ’n vreemdeling gegroet? (b) In watter opsig het Maria by ’n kruispad gestaan?

MARIA het met groot oë opgekyk toe die besoeker haar huis binnekom. Hy het nie na haar vader of haar moeder gevra nie. Hy was daar om met haar te praat! Hy kon nie van Nasaret wees nie; daarvan was sy seker. In ’n klein dorpie soos hulle s’n is vreemdelinge gou opgemerk. Hierdie man sou op enige plek aandag trek. Hy het Maria aangespreek op ’n manier wat vir haar heeltemal nuut was: “Goeiedag, hoogbegunstigde, Jehovah is met jou.”—Lees Lukas 1:26-28.

2 So stel die Bybel ons voor aan Maria, die dogter van Heli, van die dorp Nasaret in Galilea. Ons ontmoet haar waar sy as ’t ware by ’n kruispad staan. Sy was verloof aan die timmerman Josef, wat nie ’n ryk man was nie, maar wel ’n man van geloof. Sy het dalk gedink sy weet presies watter soort lewe vir haar voorlê—’n eenvoudige lewe waarin sy Josef as sy vrou sou ondersteun en saam met hom ’n gesin sou grootmaak. Maar skielik het sy haar in die teenwoordigheid van hierdie besoeker bevind wat vir haar ’n toewysing van haar God gebring het, ’n verantwoordelikheid wat haar lewe sou verander.

3, 4. Waarvan moet ons vergeet as ons Maria wil leer ken, en waarop moet ons ons toespits?

3 Baie mense is verbaas om uit te vind dat die Bybel ons nie veel van Maria vertel nie. Dit sê min oor haar agtergrond, nog minder oor haar persoonlikheid en heeltemal niks oor haar voorkoms nie. Maar wat God se Woord wel oor haar sê, is inderdaad veelseggend.

4 Om Maria te leer ken, moet ons dieper kyk as die talle vooropgesette idees wat verskeie godsdienste oor haar bevorder. Kom ons vergeet dus van al die prente en beelde wat van haar gemaak is. Kom ons vergeet ook van die komplekse teologie en dogma wat sulke verhewe titels soos “Moeder van God” en “Hemelkoningin” aan hierdie nederige vrou verleen. Kom ons spits ons eerder toe op wat die Bybel werklik sê. Dit gee ons kosbare insig in haar geloof en hoe ons dit kan navolg.

’n Besoek van ’n engel

5. (a) Wat kan ons omtrent Maria leer uit haar reaksie op Gabriël se groet? (b) Watter noodsaaklike les kan ons by Maria leer?

5 Maria se besoeker was nie ’n blote mens nie. Dit was die engel Gabriël. Toe hy Maria “hoogbegunstigde” genoem het, was sy “diep verontrus” oor sy woorde en het sy gewonder wat hierdie buitengewone groet beteken (Luk. 1:29). Hoog begunstig deur wie? Maria het nie verwag dat sy hoog begunstig onder mense sou wees nie. Die engel het egter van die guns van Jehovah God gepraat. Dít was vir haar belangrik. Tog het sy nie trots aangeneem dat sy God se guns geniet nie. As ons daarna streef om God se guns te verkry en nooit hoogmoedig aanneem dat ons dit reeds geniet nie, sal ons ’n noodsaaklike les leer wat die jong Maria ten volle verstaan het. God staan die hoogmoediges teë, maar hy het die geringes en nederiges lief en ondersteun hulle.—Jak. 4:6.

Maria het nie trots aangeneem dat sy God se guns geniet nie

6. Watter voorreg het die engel aan Maria voorgehou?

6 Maria sou hierdie nederigheid nodig hê, want die engel het ’n byna ongelooflike voorreg aan haar voorgehou. Hy het verduidelik dat sy geboorte sou gee aan ’n kind wat die belangrikste van alle mense sou word. Gabriël het gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Luk. 1:32, 33). Maria het ongetwyfeld geweet van die belofte wat God meer as duisend jaar vroeër aan Dawid gemaak het—naamlik dat een van sy nakomelinge vir ewig sou regeer (2 Sam. 7:12, 13). Haar seun sou dus die Messias wees op wie God se volk al eeue lank gewag het!

Die engel Gabriël het ’n byna ongelooflike voorreg aan Maria voorgehou

7. (a) Wat het Maria se vraag oor haar geopenbaar? (b) Wat kan jongmense vandag by Maria leer?

7 Wat meer is, die engel het vir haar gesê dat haar seun “die Seun van die Allerhoogste genoem [sou] word”. Hoe kon ’n menslike vrou God se Seun voortbring? Trouens, hoe kon Maria enigsins ’n seun voortbring? Sy was verloof aan Josef, maar was nog nie met hom getroud nie. Maria het reguit gevra: “Hoe sal dit gebeur, aangesien ek geen gemeenskap met ’n man het nie?” (Luk. 1:34). Let daarop dat Maria glad nie skaam was om te sê dat sy ’n maagd is nie. Inteendeel, sy het groot waarde aan haar kuisheid geheg. Vandag wil baie jongmense maar alte graag van hulle maagdelikheid ontslae raak en dryf hulle die spot met ander wat dit nie doen nie. Die wêreld het beslis verander. Maar Jehovah het nie verander nie (Mal. 3:6). Soos in Maria se dag, waardeer hy diegene wat aan sy sedelike standaarde vashou.—Lees Hebreërs 13:4.

8. Hoe kon Maria, al was sy onvolmaak, ’n volmaakte kind voortbring?

8 Hoewel Maria ’n getroue kneg van God was, was sy ’n onvolmaakte mens. Hoe kon sy dan ’n volmaakte kind, die Seun van God, voortbring? Gabriël het verduidelik: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word” (Luk. 1:35). Heilig beteken “rein”, “suiwer”. Mense dra normaalweg hulle onrein, sondige toestand aan hulle kinders oor. Maar in hierdie geval sou Jehovah ’n unieke wonderwerk verrig. Hy sou die lewe van sy Seun uit die hemel na die baarmoeder van Maria oorplaas en dan sy werkende krag, of heilige gees, gebruik om Maria te “oorskadu” sodat die kind teen enige spoor van sonde beskerm word. Het Maria die engel se belofte geglo? Hoe het sy gereageer?

Maria se reaksie op Gabriël se woorde

9. (a) Waarom het skeptici dit mis as hulle die verslag van Maria in twyfel trek? (b) Hoe het Gabriël Maria se geloof versterk?

9 Vir skeptici, insluitende sommige teoloë van die Christendom, is dit moeilik om te glo dat ’n maagd geboorte kan gee. Ten spyte van al hulle geleerdheid snap hulle nie ’n eenvoudige waarheid nie. Soos Gabriël dit gestel het, “by God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie” (Luk. 1:37). Maria het Gabriël se woorde as die waarheid aangeneem, want sy was ’n jong vrou met groot geloof. Daardie geloof was egter nie goedgelowigheid nie. Soos enige denkende persoon, het Maria bewyse nodig gehad waarop sy haar geloof kon grond. Gabriël was bereid om vir haar bewyse te gee. Hy het haar vertel van haar bejaarde familielid Elisabet, wat lank as ’n onvrugbare vrou bekend gestaan het. God het haar wonderdadig in staat gestel om swanger te raak!

10. Waarom moet ons nie aanneem dat Maria se voorreg geen vrese of probleme meegebring het nie?

10 Wat sou Maria nou doen? Sy het haar toewysing gehad sowel as bewyse dat God alles gaan doen wat Gabriël gesê het. Ons moenie dink dat hierdie voorreg geen vrese of probleme meegebring het nie. Om maar een ding te noem, sy moes haar verlowing met Josef in ag neem. Sou hy nog met haar wou trou wanneer hy uitvind dat sy swanger is? En die toewysing self het dalk ook na ’n oorweldigende verantwoordelikheid gelyk. Sy moes die lewe dra van die kosbaarste van al God se skepsele—sy geliefde Seun! Sy sou vir hom moes sorg terwyl hy ’n hulpelose baba is en hom in ’n goddelose wêreld moes beskerm. Inderdaad ’n gewigtige verantwoordelikheid!

11, 12. (a) Hoe het selfs sterk, getroue manne soms op moeilike toewysings van God gereageer? (b) Wat het Maria oor haarself geopenbaar deur haar reaksie op Gabriël se woorde?

11 Die Bybel toon dat selfs sterk, getroue manne soms gehuiwer het om moeilike toewysings van God te aanvaar. Moses het geprotesteer dat hy nie vlot genoeg kan praat om as God se woordvoerder op te tree nie (Eks. 4:10). Jeremia se beswaar was dat hy “nog maar net ’n seun” is, te jonk om die taak te verrig wat God hom gegee het (Jer. 1:6). En Jona het van sy toewysing af weggehardloop! (Jona 1:3). Wat van Maria?

12 Haar woorde, wat van absolute nederigheid en gehoorsaamheid getuig, vind aanklank by alle mense van geloof. Sy het vir Gabriël gesê: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur volgens u verklaring” (Luk. 1:38). ’n Slavin was die geringste van al die knegte; haar lewe was ten volle in die hande van haar heer. Dit is hoe Maria oor haar Heer, Jehovah, gevoel het. Sy het geweet dat sy veilig is in sy hande, dat hy lojaal is aan dié wat aan hom lojaal is en dat hy haar sou seën as sy haar bes doen in hierdie moeilike toewysing.—Ps. 18:25.

Maria het geweet dat sy veilig is in die hande van haar lojale God, Jehovah

13. Hoe kan ons by Maria se voorbeeld baat vind as dit vir ons moeilik of selfs onmoontlik lyk om iets te doen wat God ons vra om te doen?

13 Soms vra God ons om iets te doen wat vir ons moeilik, selfs onmoontlik, lyk. Maar in sy Woord gee hy ons oorgenoeg rede om hom te vertrou, om ons in sy hande te plaas, net soos Maria gedoen het (Spr. 3:5, 6). Sal ons dit doen? Indien wel, sal hy ons beloon, wat ons redes sal gee om selfs sterker geloof in hom op te bou.

Die besoek aan Elisabet

14, 15. (a) Hoe het Jehovah Maria beloon toe sy Elisabet en Sagaria besoek het? (b) Wat openbaar Maria se woorde in Lukas 1:46-55 oor haar?

14 Gabriël se woorde oor Elisabet het vir Maria baie beteken. Watter vrou in die hele wêreld sou haar situasie beter kon begryp? Maria het haar na die bergland van Juda gehaas, ’n reis van moontlik drie of vier dae. Toe sy in die huis van Elisabet en die priester Sagaria ingaan, het Jehovah Maria beloon met nog ’n grondige bewys om haar geloof te versterk. Elisabet het Maria se groet gehoor en dadelik gevoel hoe die kindjie in haar moederskoot van vreugde spring. Sy is met heilige gees vervul en het Maria “die moeder van my Here” genoem. God het aan Elisabet geopenbaar dat Maria se seun haar Here, die Messias, sou word. En sy is geïnspireer om Maria vir haar getroue gehoorsaamheid te prys met die woorde: “Gelukkig ook is sy wat geglo het” (Luk. 1:39-45). Ja, alles wat Jehovah Maria beloof het, sou bewaarheid word!

Maria en Elisabet se vriendskap was vir hulle albei ’n seën

15 Toe het Maria gepraat. Haar woorde is sorgvuldig in God se Woord bewaar. (Lees Lukas 1:46-55.) Dit is verreweg die meeste wat Maria in die hele Bybelverslag sê, en dit openbaar baie oor haar. Dit openbaar haar dankbare, waarderende gesindheid, want sy het Jehovah geloof omdat hy haar geseën het met die voorreg om die moeder van die Messias te wees. Dit openbaar haar sterk geloof, want sy het gemeld dat Jehovah die hoogmoediges en magtiges verneder en die geringes en armes help wat hom wil dien. Dit dui ook op die omvang van haar kennis. Volgens een skatting het sy meer as 20 keer na die Hebreeuse Geskrifte verwys! *

16, 17. (a) Hoe het Maria en haar seun ’n gesindheid geopenbaar wat ons moet navolg? (b) Aan watter seën herinner Maria se besoek aan Elisabet ons?

16 Dit is duidelik dat Maria diep nagedink het oor God se Woord. Sy het nietemin nederig gebly en verkies om eerder die Skrif te laat praat as om haar eie gedagtes uit te spreek. Die seun wat toe in haar moederskoot gegroei het, sou eendag dieselfde gesindheid openbaar deur te sê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Joh. 7:16). Ons kan ons gerus afvra: ‘Openbaar ek sulke respek en eerbied vir God se Woord? Of verkies ek my eie idees en leringe?’ Dit is duidelik wat Maria se standpunt was.

17 Maria het sowat drie maande by Elisabet gebly en het ongetwyfeld baie aanmoediging gekry en gegee (Luk. 1:56). Die Bybel se hartverblydende verslag van hierdie besoek herinner ons aan wat ’n seën vriendskap kan wees. As ons vriende soek wat werklik lief is vir ons God, Jehovah, sal ons beslis geestelik groei en nader aan hom kom (Spr. 13:20). Maar uiteindelik het die tyd aangebreek vir Maria om huis toe te gaan. Wat sou Josef sê wanneer hy van haar toestand hoor?

Maria en Josef

18. Wat het Maria aan Josef geopenbaar, en hoe het hy gereageer?

18 Maria het waarskynlik nie gewag totdat haar swangerskap sigbaar was nie. Sy moes eenvoudig met Josef praat. Sy het dalk gewonder hoe hierdie ordentlike, godvresende man sou reageer op wat sy hom moes vertel. Sy het nietemin na hom toe gegaan en hom alles vertel wat met haar gebeur het. Soos jy jou kan voorstel, was Josef diep verontrus. Hy wou hierdie dierbare meisie glo, maar dit het gelyk of sy ontrou was aan hom. Die Bybel sê nie wat hy gedink het of hoe hy geredeneer het nie. Maar dit sê wel dat hy besluit het om van haar te skei, want verloofde paartjies is destyds as getroud beskou. Hy wou haar egter nie aan openbare skande blootstel nie en het dus besluit om in die geheim van haar te skei (Matt. 1:18, 19). Dit moes vir Maria pynlik gewees het om te sien hoe hierdie goedhartige man hom oor hierdie buitengewone situasie kwel. Maar Maria het nie verbitterd geraak nie.

19. Hoe het Jehovah Josef gehelp om die regte ding te doen?

19 Jehovah het Josef liefdevol gehelp om die regte ding te doen. In ’n droom het God se engel vir hom gesê dat Maria se swangerskap inderdaad wonderdadig is. Hoe verlig moes hy tog gewees het! Josef het toe gedoen wat Maria van die begin af gedoen het—hy het in ooreenstemming met Jehovah se leiding opgetree. Hy het met Maria getrou, en hy het hom voorberei op die unieke verantwoordelikheid om vir Jehovah se Seun te sorg.—Matt. 1:20-24.

20, 21. Wat kan getroude persone en dié wat daaraan dink om te trou, by Maria en Josef leer?

20 Getroude persone—en dié wat daaraan dink om te trou—kan gerus by hierdie jong paartjie van 2 000 jaar gelede leer. Toe Josef sy jong vrou die pligte en verantwoordelikhede van moederskap sien nakom het, was hy ongetwyfeld bly dat Jehovah se engel hom leiding gegee het. Josef het sekerlik besef hoe belangrik dit is om op Jehovah te steun wanneer belangrike besluite geneem moet word (Ps. 37:5; Spr. 18:13). Hy was sonder twyfel altyd versigtig en liefdevol wanneer hy as gesinshoof besluite moes neem.

21 Maar wat kan ons aflei uit Maria se bereidwilligheid om met Josef te trou? Hoewel dit aanvanklik dalk vir hom moeilik was om te begryp wat sy vir hom vertel het, het sy vir hom gewag om te besluit wat om te doen, want hy was die man wat die gesinshoof sou wees. Dit was sekerlik ’n goeie les vir haar, en dit is ook vandag vir Christenvroue ’n goeie les. Laastens het hierdie voorvalle Josef sowel as Maria waarskynlik baie geleer oor die waarde van eerlike en openlike kommunikasie.—Lees Spreuke 15:22.

22. Wat was die grondslag van Josef en Maria se huwelik, en watter vooruitsig het hulle gehad?

22 Hierdie jong paartjie het beslis hulle huwelik op die allerbeste grondslag begin. Hulle albei het Jehovah God bo alles en almal liefgehad en wou hom graag behaag as verantwoordelike, liefdevolle ouers. Groter seëninge het natuurlik op hulle gewag—asook groter uitdagings. Hulle het die vooruitsig gehad om Jesus groot te maak, wat die grootste mens sou word wat die wêreld ooit geken het.

^ par. 15 In een van hierdie verwysings het Maria blykbaar die getroue vrou Hanna aangehaal, wat ook deur Jehovah geseën is met ’n kind.—Sien die venster “Twee merkwaardige gebede”, in Hoofstuk 6.