Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK AGTIEN

Sy het “in haar hart gevolgtrekkings gemaak”

Sy het “in haar hart gevolgtrekkings gemaak”

1, 2. Beskryf Maria se reis, en verduidelik wat dit vir haar ongemaklik gemaak het.

MARIA het ongemaklik rondgeskuif op die klein pakdier. Sy het al ure lank gery. Reg voor haar het Josef doelgerig gestap terwyl hy hulle op die pad na die vergeleë Betlehem lei. Maria het weer die baba in haar voel beweeg.

2 Maria was hoogswanger; die Bybel sê dat sy op hierdie stadium “al ver gevorderd in swangerskap was” (Luk. 2:5). Terwyl die paartjie verby die een landery na die ander gegaan het, het party boere dalk opgekyk van hulle ploeg- of saaiwerk en gewonder waarom ’n vrou in haar toestand op reis sou gaan. Waarom was Maria so ver van haar huis in Nasaret?

3. Watter toewysing het Maria ontvang, en wat wil ons omtrent haar uitvind?

3 Dit het alles maande tevore begin toe hierdie jong Joodse vrou ’n toewysing ontvang het wat uniek was in die hele mensegeskiedenis. Sy sou geboorte gee aan die kind wat die Messias, die Seun van God, sou word! (Luk. 1:35). Toe die tyd vir die geboorte nader gekom het, moes hulle noodgedwonge hierdie reis onderneem. Gevolglik is Maria se geloof meer as een keer op die proef gestel. Kom ons kyk wat haar gehelp het om geestelik sterk te bly.

Die reis na Betlehem

4, 5. (a) Waarom was Josef en Maria op pad na Betlehem? (b) Tot die vervulling van watter profesie het die keiser se verordening gelei?

4 Josef en Maria was nie die enigstes wat op reis was nie. Keiser Augustus het kort tevore ’n verordening uitgereik dat ’n registrasie in die land gedoen moes word, en mense moes na hulle geboortedorp reis om geregistreer te word. Hoe het Josef gereageer? Die verslag sê: “Josef het natuurlik ook van Galilea af opgegaan, uit die stad Nasaret, na Judea, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy ’n lid van die huis en familie van Dawid was.”—Luk. 2:1-4.

5 Dit was nie toevallig dat die keiser sy verordening in hierdie tyd uitgereik het nie. ’n Profesie wat ongeveer sewe eeue tevore neergeskryf is, het voorspel dat die Messias in Betlehem gebore sou word. Wel, daar was ’n dorpie met die naam Betlehem net 11 kilometer van Nasaret af. Maar die profesie het spesifiek gesê dat die Messias uit “Betlehem Efrata” sou kom. (Lees Miga 5:2.) Om daardie dorpie van Nasaret af te bereik, moes reisigers sowat 130 kilometer oor heuwelagtige terrein deur Samaria reis. Dit was die Betlehem waarheen Josef moes gaan, want dit was die voorvaderlike tuiste van die familie van koning Dawid—die familie waaraan Josef sowel as sy bruid behoort het.

6, 7. (a) Waarom was ’n reis na Betlehem moontlik vir Maria moeilik? (b) Hoe het die feit dat Maria Josef se vrou was, haar besluite beïnvloed? (Sien ook die voetnoot.)

6 Sou Maria Josef se besluit om die bevel te gehoorsaam, ondersteun? Die reis sou immers vir haar baie moeilik wees. Dit was waarskynlik vroeg in die herfs; daar was dus ’n moontlikheid van ligte reën, aangesien die droë seisoen byna verby was. Verder is die uitdrukking “van Galilea af opgegaan” gepas, want Betlehem was geleë op ’n hoogte van meer as 760 meter—nogal ’n steil klim, en dit aan die einde van ’n reis van etlike dae. Miskien sou dit langer as gewoonlik neem, want Maria sou dalk weens haar toestand dikwels moes rus. Nou, meer as op enige ander tyd, sou ’n jong vrou moontlik graag naby die huis wou bly, waar haar familie en vriende gereed was om haar te help wanneer haar geboortepyne begin. Sy het ongetwyfeld moed nodig gehad om hierdie reis te onderneem.

Die reis na Betlehem was nie maklik nie

7 Lukas skryf dat Josef nietemin gegaan het “om geregistreer te word saam met Maria”. Hy meld ook dat Maria, “soos beloof is, aan [Josef] in die huwelik gegee is” (Luk. 2:4, 5). Die feit dat Maria Josef se vrou was, het ’n groot invloed op haar besluite gehad. Sy het haar man as haar geestelike hoof beskou en haar godgegewe rol as sy helper vervul deur hom in sy besluite te ondersteun. * Sy het dus hierdie potensiële toets van haar geloof die hoof gebied deur eenvoudig gehoorsaam te wees.

8. (a) Wat anders het Maria moontlik beweeg om saam met Josef na Betlehem te gaan? (b) In watter opsig is Maria ’n uitstekende voorbeeld vir getroue mense?

8 Wat anders het Maria moontlik beweeg om gehoorsaam te wees? Het sy geweet van die profesie dat Betlehem die geboorteplek van die Messias sou wees? Die Bybel sê nie. Ons kan nie die moontlikheid uitskakel nie, want die feit was blykbaar algemene kennis onder die godsdiensleiers en selfs onder die mense in die algemeen (Matt. 2:1-7; Joh. 7:40-42). En Maria was glad nie onbekend met die Skrif nie (Luk. 1:46-55). Hoe dit ook al sy, of Maria besluit het om te reis uit gehoorsaamheid aan haar man, ’n regeringsbevel of Jehovah se profesie—of weens ’n kombinasie van faktore—sy het ’n uitstekende voorbeeld gestel. Jehovah heg groot waarde aan ’n nederige, gehoorsame gees in mans sowel as vroue. In ons tyd, waarin onderdanigheid blykbaar een van die deugde is waaraan daar dikwels die minste waarde geheg word, is Maria ’n skitterende voorbeeld vir getroue mense regoor die wêreld.

Die geboorte van Christus

9, 10. (a) Waaraan het Maria en Josef moontlik gedink terwyl hulle Betlehem genader het? (b) Waarom het Josef en Maria in ’n stal gebly?

9 Maria het sekerlik ’n sug van verligting geslaak toe sy Betlehem sien. Terwyl Josef en Maria teen die heuwelhange opgereis en verby olyfboorde gegaan het—olywe is van die laaste vrugte wat ingesamel is—het hulle heel moontlik aan die geskiedenis van hierdie klein dorpie gedink. Dit was te onbeduidend om onder Juda se stede getel te word, net soos die profeet Miga gesê het; tog was dit die geboorteplek van Boas, Naomi en later Dawid, wat almal meer as duisend jaar vroeër gelewe het.

10 Toe Maria en Josef in die dorpie aankom, het dit gewemel van mense. Ander het voor hulle daar aangekom om te registreer; gevolglik was daar geen plek vir hulle in die gastekamer nie. * Hulle het geen ander keuse gehad as om die nag in ’n stal deur te bring nie. Ons kan ons net voorstel hoe bekommerd Josef moes gewees het toe sy vrou ’n skerp pyn ondervind soos wat sy nog nooit gehad het nie, en toe dit al hoe erger word. Haar geboortepyne het nou hier, van alle plekke, begin.

11. (a) Waarom kan vroue in alle wêrelddele medelye met Maria hê? (b) In watter opsigte was Jesus ’n “eersgeborene”?

11 Vroue in alle wêrelddele kan medelye met Maria hê. Ongeveer 4 000 jaar tevore het Jehovah voorspel dat alle vroue weens oorgeërfde sonde geboortepyne sou ervaar (Gen. 3:16). Daar is geen bewyse dat Maria ’n uitsondering was nie. Lukas se verslag hul die toneel in ’n beskeie sluier van privaatheid en sê eenvoudig: “Sy het geboorte gegee aan haar seun, die eersgeborene” (Luk. 2:7). Ja, dit was haar “eersgeborene”—die eerste van Maria se talle kinders, altesaam ten minste sewe (Mark. 6:3). Hierdie kind sou egter altyd anders wees as die res. Hy was nie net haar eersgeborene nie, maar hy was ook Jehovah se “eersgeborene van die hele skepping”, die enigverwekte Seun van God!—Kol. 1:15.

12. Waar het Maria die baba neergelê, en hoe het die werklikheid verskil van wat in Kersspele, -skilderye en -tonele uitgebeeld word?

12 Dit is hier dat die verslag ’n bekende besonderheid byvoeg: “Sy het hom met doeke toegedraai en hom in ’n krip neergelê” (Luk. 2:7). Kersspele, -skilderye en -tonele regoor die wêreld romantiseer hierdie gebeurtenis. Maar wat was die werklikheid? ’n Krip is ’n voerbak vir plaasdiere. Onthou, die gesin het in ’n stal gebly, ’n plek wat nie—destyds of vandag—juis bekend is vir vars lug en goeie higiëne nie. Watter ouers sal so ’n plek vir die geboorte van hulle kind kies as hulle ’n ander opsie het? Die meeste ouers wil die beste vir hulle kinders hê. Hoeveel te meer sou Maria en Josef die beste vir die Seun van God wou gehad het!

13. (a) Hoe het Maria en Josef hulle bes gedoen met wat hulle gehad het? (b) Hoe kan wyse ouers vandag soortgelyke prioriteite as Josef en Maria stel?

13 Hulle het egter nie toegelaat dat hulle ongewenste situasie hulle verbitterd maak nie; hulle het eenvoudig hulle bes gedoen met wat hulle gehad het. Let byvoorbeeld op dat Maria self vir die baba gesorg het deur hom knus in doeke toe te draai en hom versigtig in die krip neer te lê om te slaap, sodat hy warm en veilig sou wees. Maria was nie van plan om toe te laat dat angstigheid oor haar huidige omstandighede haar daarvan weerhou om na die beste van haar vermoë vir hom te sorg nie. Sy en Josef het ook albei geweet dat die belangrikste ding wat hulle vir hierdie kind kon doen, sou wees om geestelik vir hom te sorg. (Lees Deuteronomium 6:6-8.) Vandag stel wyse ouers soortgelyke prioriteite terwyl hulle hulle kinders in hierdie geestelik verarmde wêreld grootmaak.

’n Aanmoedigende besoek

14, 15. (a) Waarom was die herders gretig om die kind te sien? (b) Wat het die herders gedoen omtrent wat hulle in die stal gesien het?

14 Die vreedsame toneel is skielik versteur. Herders het by die stal ingestorm, gretig om die gesin, en veral die kind, te sien. Hierdie manne het oorgeloop van opgewondenheid, en hulle gesigte het gestraal van vreugde. Hulle het hulle hierheen gehaas vanuit die heuwels waar hulle met hulle kuddes gebly het. * Hulle het die verbaasde ouers vertel van die wonderlike ondervinding wat hulle kort tevore gehad het. Gedurende die nagwaak het ’n engel skielik daar op die heuwel aan hulle verskyn. Jehovah se heerlikheid het oral om hulle geskyn, en die engel het hulle vertel dat die Christus, of Messias, kort tevore in Betlehem gebore is. Hulle sou die kind vind waar hy in ’n krip lê, toegedraai in doeke. Toe het iets selfs skouspelagtiger gebeur—’n magtige engelekoor het verskyn en God geloof!—Luk. 2:8-14.

15 Geen wonder dat hierdie nederige manne hulle na Betlehem gehaas het nie! Hulle moes verheug gewees het om ’n pasgebore baba daar te sien lê, net soos die engel gesê het. Hulle het nie hierdie goeie nuus vir hulleself gehou nie. “Hulle [het] die woord bekend gemaak . . . En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is” (Luk. 2:17, 18). Die godsdiensleiers van daardie tyd het blykbaar neergesien op herders. Dit is egter duidelik dat Jehovah hierdie nederige, getroue manne waardeer het. Maar hoe het hierdie besoek Maria geraak?

Dit is duidelik dat Jehovah die nederige, getroue herders waardeer het

16. Hoe het Maria getoon dat sy werklik ’n denker is, en watter sleutel tot haar geloof het dit geopenbaar?

16 Maria was ongetwyfeld uitgeput weens die bevalling, maar sy het nietemin aandagtig na elke woord geluister. En sy het selfs meer gedoen: “Maria het al hierdie woorde begin bewaar, terwyl sy in haar hart gevolgtrekkings gemaak het” (Luk. 2:19). Hierdie jong vrou was werklik ’n denker. Sy het geweet dat hierdie engeleboodskap van groot belang is. Haar God, Jehovah, wou hê dat sy moes weet presies wie haar seun is en moes besef hoe belangrik hy is. Sy het dus nie net geluister nie. Sy het die woorde in haar hart bewaar sodat sy in die komende maande en jare herhaaldelik daaroor kon peins. Dit is ’n baie belangrike sleutel tot die geloof wat Maria deur haar hele lewe getoon het.—Lees Hebreërs 11:1.

Maria het aandagtig na die herders geluister en hulle woorde in haar hart bewaar

17. Hoe kan ons Maria se voorbeeld volg met betrekking tot geestelike waarhede?

17 Sal jy Maria se voorbeeld volg? Jehovah het sy Woord gevul met lewensbelangrike geestelike waarhede. Maar hierdie waarhede kan ons nie juis tot voordeel strek nie tensy ons aandag daaraan skenk. Ons doen dit deur die Bybel gereeld te lees—nie bloot as ’n letterkundige werk nie, maar as die geïnspireerde Woord van God (2 Tim. 3:16). Dan moet ons, soos Maria, geestelike woorde in ons hart bewaar en gevolgtrekkings maak. As ons peins oor wat ons in die Bybel lees en aan maniere dink waarop ons Jehovah se raad in groter mate kan toepas, sal ons ons geloof die voeding gee wat dit nodig het om te groei.

Nog woorde om te bewaar

18. (a) Hoe het Maria en Josef die Mosaïese Wet gedurende Jesus se vroeë dae gehoorsaam? (b) Wat het die offerande wat Josef en Maria by die tempel gebring het, omtrent hulle finansiële situasie geopenbaar?

18 Toe die baba agt dae oud was, het Maria en Josef hom laat besny, soos die Mosaïese Wet vereis het, en hom Jesus genoem, soos hulle beveel is (Luk. 1:31). Later, op die 40ste dag, het hulle hom van Betlehem na die tempel in Jerusalem geneem, sowat tien kilometer daarvandaan, en die reinigingsoffers gebring wat die Wet arm mense toegelaat het om te bring—twee tortelduiwe of twee jong duiwe. As hulle skaam gevoel het omdat hulle minder geoffer het as die ram en ’n tortelduif wat ander ouers kon bekostig, het hulle hierdie gevoelens opsygeskuif. Hoe dit ook al sy, hulle het kragtige aanmoediging ontvang terwyl hulle daar was.—Luk. 2:21-24.

19. (a) Hoe het Simeon Maria meer woorde gegee om in haar hart te bewaar? (b) Hoe het Anna gereageer toe sy Jesus gesien het?

19 ’n Bejaarde man genaamd Simeon het na hulle toe gekom en Maria nog meer woorde gegee om in haar hart te bewaar. Hy het die belofte ontvang dat hy voor sy dood die Messias sou sien, en Jehovah se heilige gees het vir hom aangedui dat die klein Jesus die voorspelde Redder is. Simeon het Maria ook gewaarsku oor die pyn wat sy eendag sou moes verduur. Hy het gesê dat dit vir haar sou voel asof sy met ’n lang swaard deurboor word (Luk. 2:25-35). Selfs hierdie onheilspellende woorde het Maria moontlik gehelp om te volhard toe daardie moeilike tyd meer as drie dekades later aangebreek het. Ná Simeon het ’n profetes met die naam Anna die klein Jesus gesien en oor hom begin praat met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het.—Lees Lukas 2:36-38.

Maria en Josef het kragtige aanmoediging by Jehovah se tempel in Jerusalem ontvang

20. Waarom was dit ’n goeie besluit om Jesus na die tempel in Jerusalem te bring?

20 Wat ’n goeie besluit was dit tog van Josef en Maria om hulle baba na Jehovah se tempel in Jerusalem te bring! Sodoende het hulle hulle seun ’n goeie begin vir die res van sy lewe gegee, waartydens hy Jehovah se tempel getrou sou besoek. Terwyl hulle daar was, het hulle gegee wat hulle kon en het hulle woorde van onderrigting en aanmoediging ontvang. Maria het die tempel daardie dag ongetwyfeld verlaat met sterker geloof en met ’n hart vol geestelike waarhede om oor te peins en ander van te vertel.

21. Hoe kan ons verseker dat ons geloof, soos Maria s’n, al hoe sterker word?

21 Dit is wonderlik om ouers vandag daardie voorbeeld te sien volg. Onder Jehovah se Getuies bring ouers hulle kinders getrou na die Christelike vergaderinge. Hierdie ouers gee wat hulle kan en het ’n bemoedigende woord vir hulle medegelowiges. En hulle verlaat hierdie vergaderinge sterker, gelukkiger en vol goeie dinge om ander van te vertel. Wat ’n genot is dit tog om saam met hulle te vergader! Wanneer ons dit doen, sal ons vind dat ons geloof, soos Maria s’n, al hoe sterker word.

^ par. 7 Let op die verskil tussen hierdie gedeelte en die beskrywing van ’n vorige reis: “Maria [het] opgestaan en . . . gegaan” om Elisabet te besoek (Luk. 1:39). Op daardie stadium, as ’n verloofde maar ongetroude vrou, het Maria dalk opgetree sonder om Josef te raadpleeg. Nadat hulle getroud is, word hulle gesamentlike reis aan Josef toegeskryf, nie aan Maria nie.

^ par. 10 Dit was destyds die gebruik dat dorpe ’n gemeenskaplike vertrek voorsien om reisigers en verbytrekkende karavane te huisves.

^ par. 14 Die feit dat hierdie herders gedurende daardie tyd in die oop veld saam met hulle kuddes gebly het, bevestig wat Bybelchronologie aandui: Die geboorte van Christus het nie in Desember plaasgevind, wanneer die kuddes op ’n beskutte plek nader aan die huis gehou sou word nie, maar die een of ander tyd vroeg in Oktober.