Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Inleiding

Inleiding

Wees navolgers van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.’—HEBREËRS 6:12.

1, 2. Hoe het ’n reisende opsiener klaarblyklik getroue Bybelkarakters beskou, en waarom sal hulle wonderlike vriende wees?

“HY PRAAT van Bybelkarakters asof hulle ou vriende is.” Dit is wat ’n Christenvrou gesê het nadat sy na ’n toespraak deur ’n bejaarde reisende opsiener geluister het. En dit was so, want die broer het dekades lank God se Woord bestudeer en daaruit onderrig—in so ’n mate dat die Bybel se manne en vroue van geloof inderdaad gevoel het soos ou vriende wat hy sy hele lewe lank geken het.

2 Sal baie van hierdie Bybelkarakters nie wonderlike vriende wees nie? Is hulle só werklik vir jou? Stel jou voor hoe dit sal wees om met hulle te assosieer, om manne en vroue soos Noag, Abraham, Rut, Elia en Ester te leer ken. Dink aan die invloed wat hulle op jou lewe kan hê—die kosbare woorde van raad en aanmoediging wat hulle kan gee!—Lees Spreuke 13:20.

3. (a) Hoe kan ons daarby baat vind om van die Bybel se manne en vroue van geloof te leer? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

3 Sulke lonende verhoudings sal natuurlik heeltemal moontlik wees wanneer die “opstanding van die regverdiges” plaasvind (Hand. 24:15). Maar ons kan reeds nou daarby baat vind om van die Bybel se manne en vroue van geloof te leer. Hoe? Die apostel Paulus gee hierdie praktiese antwoord: “[Wees] navolgers . . . van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf” (Heb. 6:12). Kom ons kyk hier aan die begin van ons studie van manne en vroue van geloof na ’n paar vrae wat Paulus se woorde laat ontstaan: Presies wat is geloof, en waarom het ons dit nodig? Hoe kan ons getroue mense van die ou tyd navolg?

Geloof—Wat dit is en waarom ons dit nodig het

4. Wat neem mense dikwels aan omtrent geloof, en waarom is hulle verkeerd?

4 Geloof is ’n aantreklike eienskap, wat al die manne en vroue van wie ons in hierdie publikasie sal leer, hoog op prys gestel het. Baie mense van vandag onderskat geloof dikwels en neem aan dat dit beteken om iets sonder enige werklike bewyse te glo. Maar hulle is verkeerd. Geloof is nie liggelowigheid nie; dit is nie net ’n gevoel nie; dit is meer as om iets net te glo. Liggelowigheid is gevaarlik. ’n Gevoel kan kom en gaan, en selfs om net te glo, is nie genoeg wanneer dit by God kom nie, want ‘die demone glo en sidder’.—Jak. 2:19.

5, 6. (a) Op watter twee soorte onsigbare dinge fokus ons geloof? (b) Hoe stewig gegrond moet ons geloof wees? Lig toe.

5 Ware geloof is baie meer as hierdie dinge. Dink aan hoe die Bybel dit omskryf. (Lees Hebreërs 11:1.) Paulus het gesê dat geloof op twee soorte dinge fokus wat ons nie kan sien nie. Eerstens, dit fokus op teenswoordige werklikhede wat “nie gesien word nie”. Ons fisiese oë kan nie die werklikhede in die geesteryk sien nie—soos Jehovah God, sy Seun of die Koninkryk wat nou in die hemel regeer. Tweedens, geloof fokus op “dinge waarop gehoop word”—gebeure wat nog nie plaasgevind het nie. Ons kan nie nou die nuwe wêreld sien wat God se Koninkryk binnekort tot stand sal bring nie. Beteken dit dan dat ons geloof in hierdie werklikhede en die dinge waarop ons hoop, ongegrond is?

6 Glad nie! Paulus het verduidelik dat ware geloof stewig gegrond is. Toe hy geloof “die gewaarborgde verwagting” genoem het, het hy ’n uitdrukking gebruik wat ook met “eiendomsbewys” weergegee kan word. Stel jou voor dat iemand besluit het om vir jou ’n huis te gee. Hy sal dalk vir jou die eiendomsbewys van die plek gee en sê: “Hier is jou nuwe huis.” Hy bedoel natuurlik nie dat jy op daardie stuk papier sal woon nie; hy bedoel dat die dokument wetlik so bindend is dat dit vir alle praktiese doeleindes die huis self is. Net so is die bewyse van ons geloof so oortuigend, so sterk, dat dit met ons geloof self gelykgestel kan word.

7. Wat sluit ware geloof in?

7 Ware geloof sluit dus vaste vertroue en onwankelbare oortuiging in wat duidelik op Jehovah God gefokus is. Geloof beweeg ons om hom as ons liefdevolle Vader te beskou en die vertroue te hê dat al sy beloftes beslis bewaarheid sal word. Maar ware geloof behels meer. Soos iets lewends, moet dit gevoed word om aan die lewe te bly. Dit moet in dade uitgedruk word of dit sal sterf.—Jak. 2:26.

8. Waarom is geloof so belangrik?

8 Waarom is geloof so belangrik? Paulus het ’n oortuigende antwoord gegee. (Lees Hebreërs 11:6.) Ons kan Jehovah nie nader of behaag as ons nie geloof het nie. Geloof is dus noodsaaklik as ons die hoogste, edelste doel vir enige intelligente skepsel wil vervul: om nader aan ons hemelse Vader, Jehovah, te kom en hom te verheerlik.

9. Hoe het Jehovah getoon dat hy weet dat ons geloof nodig het?

9 Jehovah weet hoe nodig ons geloof het; daarom voorsien hy ons van voorbeelde om ons te leer hoe om geloof op te bou en te toon. Hy seën die Christengemeente met voorbeelde van getroue manne wat die leiding neem. Sy Woord sê: “Julle [moet] hulle geloof navolg” (Heb. 13:7). En hy het ons nog meer gegee. Paulus het geskryf van “’n groot wolk van getuies”, manne en vroue van die ou tyd wat uitstekende voorbeelde van geloof nagelaat het (Heb. 12:1). Paulus se lys van getroues, wat in Hebreërs hoofstuk 11 opgeteken is, is geensins volledig nie. Die Bybel is vol ware verhale oor manne en vroue, jonk en oud, uit alle agtergronde, wat ’n lewe van geloof gelei het en by wie ons in hierdie tyd wanneer geloof so seldsaam is, baie kan leer.

Hoe kan ons ander se geloof navolg?

10. Hoe kan ons persoonlike studie ons help om die getroue manne en vroue in die Bybelverslag na te volg?

10 Jy kan nie iemand navolg tensy jy hom eers noukeurig waarneem nie. Wanneer jy hierdie publikasie deurlees, sal jy oplet dat baie navorsing gedoen is om jou te help om hierdie manne en vroue van geloof waar te neem. Jy kan gerus ook bykomende navorsing doen. Delf, gedurende jou persoonlike studie, in die Bybel met behulp van die navorsingsmiddele wat jy tot jou beskikking het. Wanneer jy peins oor wat jy studeer, moet jy jou die agtergrond van die Bybelverslag probeer voorstel. Probeer om die toneel te visualiseer en om as ’t ware die geluide te hoor en die geure te ruik. Nog belangriker, probeer die gevoelens van die betrokke mense onderskei. Wanneer jy jou in die gevoelens van hierdie getroue manne en vroue inleef, sal hulle vir jou al hoe werkliker, al hoe bekender word—party sal dalk selfs soos dierbare ou vriende voel.

11, 12. (a) Hoe kan jy nader aan Abram en Sarai voel? (b) Hoe kan jy baat vind by die voorbeeld van Hanna, Elia of Samuel?

11 Wanneer jy hulle werklik leer ken, sal jy hulle wil navolg. Byvoorbeeld, stel jou voor dat jy ’n nuwe toewysing oorweeg. Deur middel van Jehovah se organisasie word jy genooi om jou bediening op die een of ander manier uit te brei. Miskien word jy gevra om na ’n gebied te trek waar meer verkondigers dringend nodig is, of dalk word jy genooi om deel te neem aan ’n vorm van die predikingswerk wat vir jou nuut of nie maklik is nie. Sal dit jou help om oor die voorbeeld van Abram na te dink terwyl jy die toewysing oorweeg en daaroor bid? Hy en Sarai was bereid om die geriewe van Ur prys te gee en is gevolglik ryklik geseën. Wanneer jy in hulle voetspore volg, sal jy sekerlik voel dat jy hulle nou beter ken as ooit tevore.

12 Of sê nou iemand na aan jou is gemeen teenoor jou en jy voel mismoedig—dalk selfs lus om van die vergaderinge weg te bly? As jy nadink oor Hanna se voorbeeld en oor hoe sy bo Peninna se gemeenheid uitgestyg het, sal dit jou help om die regte besluit te neem—en dit sal Hanna dalk ook meer soos ’n dierbare vriendin laat voel. En as gevoelens van waardeloosheid jou mismoedig laat voel, sal jy moontlik nader aan Elia voel as jy sy benarde situasie bestudeer, asook die manier waarop Jehovah hom vertroos het. En jongmense wat deur onsedelike skoolmaats onder groot druk geplaas word, sal dalk nader aan Samuel voel nadat hulle gestudeer het hoe hy die verdorwe invloed van Eli se seuns by die tabernakel weerstaan het.

13. Maak die feit dat jy die geloof van ’n Bybelkarakter navolg, jou ’n minderwaardige mens? Verduidelik.

13 Maak die feit dat jy die geloof van hierdie Bybelkarakters navolg, jou bloot ’n nabootser of ’n minderwaardige mens? Glad nie! Onthou, Jehovah se Woord spoor ons aan om mense van geloof na te volg (1 Kor. 4:16; 11:1; 2 Tess. 3:7, 9). Wat meer is, party van die mense van wie ons hier sal leer, het self getroues voor hulle nagevolg. Byvoorbeeld, in Hoofstuk 17 van hierdie boek sien ons dat Maria klaarblyklik Hanna se woorde aangehaal het omdat sy haar as ’n voorbeeld beskou het. Beteken dit dat Maria se geloof nie so sterk was nie? Beslis nie! Hanna se voorbeeld het Maria eerder gehelp om geloof op te bou sodat sy self ’n naam by Jehovah God kon maak.

14, 15. Wat is party van die kenmerke van hierdie publikasie, en hoe kan ons dit goed gebruik?

14 Hierdie boek is saamgestel om jou te help om jou geloof te versterk. Die hoofstukke wat volg, is ’n versameling van artikels uit die reeks “Volg hulle geloof na”, wat tussen 2008 en 2013 in Die Wagtoring verskyn het. Maar nuwe materiaal is ook bygevoeg. Vrae word voorsien vir bespreking en toepassing. Talle kleurvolle, gedetailleerde prente is spesifiek vir hierdie boek geskep, en bestaande prente is vergroot en verbeter. Ander nuttige kenmerke, soos ’n tydlyn en kaarte, is ingesluit. Volg hulle geloof na is saamgestel om met persoonlike, gesins- en gemeentelike studie te help. Baie gesinne sal dit moontlik ook geniet om die verhale net saam te lees.

15 Mag hierdie boek jou help om die geloof van Jehovah se lojale knegte van die ou tyd na te volg. En mag dit jou help om groter geloof op te bou terwyl jy nader kom aan jou hemelse Vader, Jehovah!