Spring na inhoud

Die Maagd Maria​ – Wat sê die Bybel oor haar?

Die Maagd Maria​ – Wat sê die Bybel oor haar?

 Die Bybel se antwoord

 Die Bybel sê dat Maria, die ma van Jesus, die unieke voorreg gehad het om aan hom geboorte te gee terwyl sy nog ’n maagd was. Die Bybel het hierdie wonderwerk in die boek Jesaja voorspel en die vervulling daarvan word in die Evangelieverslae van Matteus en Lukas genoem.

 In ’n profesie oor die verskyning van die Messias het Jesaja voorspel: “Kyk! Die jong vrou sal swanger word, en sy gee geboorte aan ’n seun” (Jesaja 7:14). Jesaja se profesie is onder die inspirasie van God deur die Evangelieskrywer Matteus toegepas op Maria se swangerskap met Jesus. Nadat Matteus geskryf het oor Maria se wonderdadige swangerskap, het hy bygevoeg: “Dit alles het in werklikheid gebeur sodat vervul sou word wat Jehovah deur middel van sy profeet gespreek het toe hy gesê het: ‘Kyk! Die maagd a sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun, en hulle sal hom Immanuel noem’, wat, wanneer dit vertaal word, beteken: ‘Met ons is God.’” – Matteus 1:22, 23.

 Die Evangelieskrywer Lukas het ook oor Maria se wonderdadige swangerskap geskryf. Hy het geskryf dat God die engel Gabriël gestuur het “na ’n maagd wat in die huwelik beloof was aan ’n man met die naam Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria” (Lukas 1:26, 27). Maria het bevestig dat sy ’n maagd is. Nadat Maria gehoor het dat sy die ma sou word van Jesus, die Messias, het sy gevra: “Hoe sal dit gebeur, aangesien ek geen gemeenskap met ’n man het nie?” – Lukas 1:34.

 Hoe kon ’n maagd geboorte gee?

 Maria se swangerskap is veroorsaak deur heilige gees, wat God se werkende krag is (Matteus 1:18). Daar is vir Maria gesê: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, b genoem word” (Lukas 1:35). God het sy Seun se lewe wonderdadig na die baarmoeder van Maria oorgeplaas, wat veroorsaak het dat sy ’n kind kon kry.

 Wat was die doel van die maagdelike geboorte?

 God het Jesus se geboorte deur ’n maagd gebruik om hom ’n volmaakte menseliggaam te gee sodat Jesus die mensdom van sonde en die dood kon red (Johannes 3:16; Hebreërs 10:5). God het Jesus se lewe na die baarmoeder van Maria oorgeplaas. Daarna het God se heilige gees blykbaar die ontwikkelende embrio beskerm teen enige onvolmaaktheid. – Lukas 1:35.

 Jesus was dus as ’n volmaakte mens gebore, en in hierdie opsig was hy gelyk aan Adam voordat hy gesondig het. Die Bybel sê van Jesus: “Hy het geen sonde begaan nie” (1 Petrus 2:22). As ’n volmaakte man kon Jesus die losprys betaal om mense van sonde en die dood te bevry. – 1 Korintiërs 15:21, 22; 1 Timoteus 2:5, 6.

 Het Maria ’n maagd gebly?

 Die Bybel leer nie dat Maria haar hele lewe lank ’n maagd gebly het nie. Dit toon eerder dat Maria ander kinders gehad het. – Matteus 12:46; Markus 6:3; Lukas 2:7; Johannes 7:5.

Die Bybel leer dat Jesus ’n aantal broers en suster gehad het

 Was Jesus se geboorte die “Onbevlekte Ontvangenis”?

 Nee. Volgens die New Catholic Encyclopedia is die lering van die Onbevlekte Ontvangenis dat ‘die maagd Maria vanaf die begin van haar lewe, dit wil sê vanaf haar eie bevrugting, vry was van erfsonde. Die res van die mensdom erf ’n menslike natuur wat bevlek is met sonde ... Maar Maria was deur ’n unieke genadegawe teen erfsonde beskerm.’ c

 In teenstelling hiermee leer die Bybel glad nie dat Maria vry was van erfsonde nie (Psalm 51:5; Romeine 5:12). Om die waarheid te sê, Maria het bewys dat sy sondig is toe sy die versoeningsoffer gebring het wat die Wet van Moses van ma’s vereis het (Levitikus 12:2-8; Lukas 2:21-24). Die New Catholic Encyclopedia sê: “Die Onbevlekte Ontvangenis word nie eksplisiet in die Skrif geleer nie ... [Dit] is ’n leerstelling van die Kerk.”

 Hoe moet ons Maria beskou?

 Maria het ’n goeie voorbeeld gestel van geloof, gehoorsaamheid, nederigheid en diep liefde vir God. Sy is een van die getroue aanbidders van God wie se voorbeeld ons beslis kan navolg. – Hebreërs 6:12.

 Maar al het sy die unieke rol as die ma van Jesus, leer die Bybel nie dat ons Maria moet aanbid of tot haar moet bid nie. Jesus het sy ma nie spesiale eer gegee nie, en hy het ook nie vir sy volgelinge gesê om dit te doen nie. Om die waarheid te sê, buiten die Evangelieverslae en een verwysing in die boek Handelinge word Maria nie in die oorblywende 22 boeke van die sogenaamde Nuwe Testament genoem nie. – Handelinge 1:14.

 Die Skrif voorsien geen bewyse dat eerste-eeuse Christene Maria spesiale aandag gegee het nie – wat nog te sê van aanbid het. Die Bybel leer Christene eerder om God alleen te aanbid. – Matteus 4:10.

a Die Hebreeuse woord wat as “jong vrou” in Jesaja se profesie weergegee word, is ʽal·mahʹ, wat kan verwys na ’n vrou wat ’n maagd is of na ’n vrou wat nie ’n maagd is nie. Maar onder inspirasie van God het Matteus die meer spesifieke Griekse woord par·theʹnos gebruik, wat “maagd” beteken.

b Party mense maak beswaar teen die term “God se Seun” omdat dit impliseer dat God seksuele omgang met ’n vrou gehad het. Maar hierdie idee word nie deur die Bybel ondersteun nie. Die Bybel noem Jesus eerder “God se Seun” en “die eersgeborene van die hele skepping” omdat hy die eerste en enigste een is wat direk deur God geskep is (Kolossense 1:13-15). Die Bybel noem ook die eerste man, Adam, die “seun van God” (Lukas 3:38). Dit is omdat Adam deur God geskep is.

c Tweede Uitgawe, Deel 7, Bladsy 331.