Spring na inhoud

Hoe gebruik Jehovah se Getuies donasies?

Hoe gebruik Jehovah se Getuies donasies?

 Ons gebruik donasies om die humanitêre en godsdiensbedrywighede van ons organisasie te ondersteun. Ons voer hierdie bedrywighede uit as deel van ons hoofdoel, om mense te help om dissipels van Christus Jesus te word. – Matteus 28:19, 20.

 Ons gebruik nooit donasies om enige iemand ryk te maak nie. Ons betaal nie ouermanne of enige geestelikes nie, en Jehovah se Getuies word nie betaal om van huis tot huis te gaan nie. Diegene wat by ons takkantore en wêreldhoofkwartier dien, insluitende die Bestuursliggaam, is deel van ’n godsdiensorde en ontvang nie salarisse nie.

Voorbeelde van ons bedrywighede

  •   Uitgewers: Ons vertaal, druk, versend en versprei miljoene Bybels en ander Christelike publikasies elke jaar sonder dat mense daarvoor hoef te betaal. Ons digitale publikasies op die jw.org-webwerf en die JW Library-app is ook beskikbaar sonder koste, en daar is geen advertensies nie.

  •   Konstruksie en instandhouding: Ons bou en hou eenvoudige plekke van aanbidding regoor die wêreld in stand sodat ons gemeentes gepaste plekke het waar hulle bymekaar kan kom en God kan loof. Ons doen dieselfde vir takkantore en vertaalkantore. Baie van hierdie werk word deur vrywilligers gedoen, wat minder geld kos.

  •   Administrasie: Die bedrywighede by ons wêreldhoofkwartier, takkantore en vertaalkantore, sowel as die bedrywighede van diegene wat as reisende bedienaars dien, word deur donasies aan ons wêreldwye werk ondersteun.

  •   Predikingswerk: Getuies word nie betaal om die goeie nuus te verkondig of om “die woord van God” vir ander te leer nie (2 Korintiërs 2:17). Maar net soos die eerste-eeuse Christene, word bedienaars wat gekies en opgelei is om die meeste van hulle tyd aan die predikingswerk toe te wy, finansieel ondersteun. Hulle word voorsien met eenvoudige behuising en die basiese dinge in die lewe. – Filippense 4:16, 17; 1 Timoteus 5:17, 18.

  •   Onderrigting: Die koste van ons byeenkomste word deur donasies gedek. Ons maak ook Bybelgebaseerde oudio- en videoprogramme. Ons hou ook skole waar ouermanne en voltydse bedienaars opgelei word om doeltreffender te wees in hulle toewysings.

  •   Noodlenigingspogings: Ons voorsien kos, water en behuising aan diegene wat geraak is deur mensgemaakte en natuurrampe. Hierdie noodlenigingswerk help nie net “ons medegelowiges” nie, maar ook mense wat nie Getuies is nie. – Galasiërs 6:10.