Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek het gedink dat ek my lewe ten volle geniet

Ek het gedink dat ek my lewe ten volle geniet
  • GEBORE: 1982

  • GEBOORTELAND: POLE

  • GESKIEDENIS: WAS BETROKKE BY GEWELD EN DWELMS EN HET STATUS NAGEJAAG

MY VERLEDE:

Ek is gebore in ’n dorpie in Pole, nie ver van die Duitse grens af nie. Ek het ’n rustige lewe gelei, omring deur plase en woude. My liefdevolle ouers het my aangespoor om ’n goeie mens te wees, goed te doen op skool en ’n loopbaan na te streef wat vir my baie aansien sou meebring.

Die moeilikheid het begin toe ek in die regte gaan studeer het aan ’n universiteit in die stad Wrocław. Toe ek weg van my ouers af was, het ek slegte vriende gekies. Ek het nog altyd van sokker gehou, maar onder die invloed van my nuwe vriende het ek ’n fanatikus geword. My gunstelingspan het van Warskou af gekom, en oor die naweke het ek na hulle gaan kyk waar hulle ook al gespeel het. Gedurende hierdie uitstappies het ek baie gedrink, dwelms gebruik en nou en dan by gewelddadige gevegte met ondersteuners van die ander span betrokke geraak. Ek het dit beskou as ’n manier om van die stres van die daaglikse lewe te vergeet, al het ek die risiko geloop om in hegtenis geneem te word, wat my my loopbaan in die regte sou kos.

Ek en my vriende het daarvan gehou om klubs en disko’s te besoek. Daar het ons dikwels betrokke geraak by straatgevegte. Ek is etlike kere in hegtenis geneem, maar ek het dit altyd reggekry om ernstige probleme met die gereg te vermy—partykeer deur iemand om te koop. Ek het werklik gedink dat ek my lewe ten volle geniet. Tog het ek diep in my hart geweet dat my optrede verkeerd is. Ek het elke Sondag kerk toe gegaan om my gewete te sus.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

In 2004 het twee van Jehovah se Getuies aan my deur geklop, en ek het ingestem om die Bybel met hulle te bespreek. Toe ek meer geleer het oor wat dit beteken om ’n ware Christen te wees, het my gewete my werklik begin pla. Ek het geweet dat ek moet ophou om te veel te drink, dwelms te gebruik en met mense te assosieer wat nie volgens Bybelstandaarde lewe nie. Ek het ook besef dat ek my aggressiewe, gewelddadige persoonlikheid moet verander. Maar al het ek geweet dat ek moet verander, het ek aangehou om verkeerde dinge te doen.

Ek het ’n keerpunt bereik toe ek een aand ’n geveg met agt mans begin het. Ek onthou hoe ek in die straat gelê het terwyl hulle my geslaan en teen die kop geskop het. Toe ek gevoel het dat ek naby aan die dood is, het ek gebid: “Jehovah, ek is jammer dat ek u Woord nie ernstig opgeneem het nie. As ek hierdie situasie oorleef, belowe ek om die Bybel saam met die Getuies te studeer en my lewe in orde te kry.” Tot my verbasing, het ek bly lewe. Ek het my belofte om die Bybel te studeer nagekom.

In 2006 het ek na Engeland getrek. Ek wou genoeg geld verdien om terug Pole toe te gaan en ’n hoër regskwalifikasie te verkry. Gedurende my Bybelstudie het een teks ’n groot indruk op my gemaak. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen” (Filippense 3:8). Soos ek, het die apostel Paulus opleiding in die regte gehad—en hy was ook voorheen ’n baie gewelddadige man (Handelinge 8:3). Maar hy het besef dat daar ’n beter manier van lewe is—om God te dien en sy bes te doen om Jesus na te volg. Toe ek oor Paulus se voorbeeld gepeins het, het ek besef dat ’n goed betaalde loopbaan en gewelddadige gedrag nie sleutels tot geluk is nie. Ek het gedink: ‘As Paulus kon verander, kan ek ook.’ Daarom het ek besluit om in Engeland te bly en van ’n verdere regskwalifikasie te vergeet.

Hoe meer ek omtrent Jehovah geleer het, hoe meer het ek tot hom aangetrokke gevoel. My hart is geroer deur sy belofte om diegene te vergewe wat opreg wil verander (Handelinge 2:38). En toe ek gepeins het oor 1 Johannes 4:16, waar dit sê dat ‘God liefde is’, het ek begin verstaan waarom God geweld haat.

Ek wou deel wees van die gelukkige broederskap wat die Getuies geniet

Ek is ook beïndruk deur die Getuies se gedrag. Ek kon duidelik sien dat hulle probeer om volgens die Bybel se hoë sedelike standaarde te lewe. Ek wou deel wees van die gelukkige broederskap wat hulle geniet. In 2008, ná ’n paar probleme en aanpassings in my lewe, is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Dit bring vir my en Esther groot vreugde mee om Poolssprekende mense van die Bybel te leer

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek was voorheen ’n ambisieuse, gewelddadige sokkerfanatikus wat dwelms gebruik het en te veel gedrink het. Maar die Bybel het my verander in ’n dienaar van God wat dit geniet om ander omtrent die Bybel te leer. Ek hou nog steeds daarvan om na sokker te kyk, maar ek is vasbeslote om vermaak op sy plek te hou.

Ek is nou gelukkig getroud met Esther, ’n pragtige medeaanbidder van Jehovah. Dit bring vir ons groot vreugde mee om Poolssprekende mense hier in Noordwes-Engeland van die Bybel te leer. Vir die eerste keer in my lewe ervaar ek ware tevredenheid. Ek het ’n skoon gewete en ek lei ’n bevredigende en sinvolle lewe.