Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | HOE BESKOU GOD OORLOG?

God se beskouing van oorlog in ons tyd

God se beskouing van oorlog in ons tyd

Vandag word mense onderdruk. Baie mense smeek God herhaaldelik om verligting en wonder of dit ooit sal kom. Hoor God hulle smekinge om hulp? En wat van diegene wat oorlog voer om ’n einde te maak aan hulle onderdrukking? Ondersteun God hulle pogings en beskou hy hulle oorlogvoering as regverdig?

Armageddon sal die oorlog wees wat ’n einde sal maak aan alle oorloë

Dit is vertroostend om te weet dat God die lyding in vandag se wêreld sien en dat dit sy voorneme is om iets daaromtrent te doen (Psalm 72:13, 14). In sy Woord, die Bybel, belowe God dat hy “verligting” sal voorsien aan diegene “wat verdrukking ly”. Wanneer? “By die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele . . . wanneer hy wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” (2 Tessalonisense 1:7, 8). Hierdie openbaring van Jesus sal in die toekoms plaasvind tydens wat die Bybel “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” noem, wat ook as Armageddon bekend staan.—Openbaring 16:14, 16.

In daardie toekomstige oorlog sal God nie mense gebruik om oorlog teen die goddeloses te voer nie, maar sy Seun, Jesus Christus, tesame met ander magtige geesskepsele. Die hemelse magte sal ’n einde aan alle onderdrukking maak.—Jesaja 11:4; Openbaring 19:11-16.

Tot vandag toe het God se beskouing van oorlog nie verander nie. Hy beskou oorlog nog steeds as ’n aanvaarbare manier om ’n einde aan onderdrukking en goddeloosheid te maak. Maar soos dit regdeur die geskiedenis die geval was, is dit slegs God wat besluit wanneer sulke oorloë gevoer moet word en wie daarby betrokke moet wees. Soos ons gesien het, het God reeds besluit dat die oorlog wat ’n einde aan goddeloosheid sal maak en die onderdruktes sal wreek, ’n toekomstige oorlog sal wees en dat dit deur sy Seun, Jesus Christus, gevoer sal word. Dit beteken dat die oorloë wat vandag op die aarde gevoer word, nie God se goedkeuring het nie, ongeag hoe prysenswaardig die beweegrede mag lyk.

Ter toeligting: Stel jou voor dat twee broers begin baklei terwyl hulle pa weg is. Hulle hou kortliks op om te baklei en bel hulle pa. Die een broer sê dat die ander een die bakleiery begin het, maar die ander broer beweer dat hý sleg behandel is. Elke broer wil hê dat die pa sy kant moet kies. Maar nadat die pa na albei geluister het, sê hy vir hulle om op te hou baklei en te wag totdat hy by die huis kom en die saak kan uitsorteer. Die twee broers wag ’n rukkie. Maar kort voor lank baklei hulle weer. Wanneer die pa terugkom huis toe, is die pa ongelukkig oor albei kinders se optrede en straf hy albei omdat hulle ongehoorsaam was.

Vandag vra strydende nasies God dikwels vir ondersteuning. Maar God kies nie kant in vandag se oorloë nie. Hy sê eerder duidelik in sy Woord die Bybel: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie” en “moet julle nie wreek nie” (Romeine 12:17, 19). Wat meer is, hy het gesê dat die mensdom geduldig op hom moet wag om op te tree; en hy sal dit by Armageddon doen (Psalm 37:7). Wanneer die nasies nie op God wag om op te tree nie en eerder oorlog voer, beskou hy sulke oorloë as arrogante dade van geweld wat hom mishaag. God sal dus by Armageddon uiting gee aan sy verontwaardiging en die nasies se geskille eens en vir altyd tot ’n einde bring deur “oorloë [te laat] ophou tot aan die einde van die aarde” (Psalm 46:9; Jesaja 34:2). Ja, Armageddon sal die oorlog wees wat ’n einde sal maak aan alle oorloë.

Die einde van oorlog is een van die baie seëninge van God se Koninkryk. Jesus het van hierdie regering gepraat in die volgende bekende gebed: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). God se Koninkryk sal nie net ’n einde maak aan alle oorloë nie, maar dit sal ook die hoofoorsaak van oorlog, naamlik goddeloosheid, uit die weg ruim (Psalm 37:9, 10, 14, 15). * Geen wonder dat Jesus se volgelinge gretig uitsien na die seëninge van God se Koninkryk nie.—2 Petrus 3:13.

Maar hoe lank moet ons wag voordat God se Koninkryk ’n einde aan alle lyding, onderdrukking en goddeloosheid sal maak? Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat ons in “die laaste dae” van hierdie stelsel van dinge lewe (2 Timoteus 3:1-5). * Binnekort sal God se Koninkryk met die oorlog van Armageddon ’n einde aan hierdie laaste dae maak.

Soos vroeër gemeld is, sal slegs diegene wat “die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie”, in hierdie finale oorlog vernietig word (2 Tessalonisense 1:8). Maar onthou, God skep nie behae in die dood van enigiemand nie, nie eens die goddeloses nie (Esegiël 33:11). Omdat “hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word” in hierdie finale oorlog nie, maak hy nou seker dat die goeie nuus oor ons Here Jesus “in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” voordat die einde kom (2 Petrus 3:8, 9; Matteus 24:14; 1 Timoteus 2:3, 4). Ja, danksy die wêreldwye predikingswerk van Jehovah se Getuies het mense nou die geleentheid om God te leer ken, om die goeie nuus oor Jesus te gehoorsaam en om die dag te sien wanneer daar nie meer oorlog sal wees nie.

^ par. 9 God se Koninkryk sal ook die mensdom se vyand die dood uit die weg ruim. Soos ons kan sien in die artikel “Antwoorde op Bybelvrae”, sal God tallose mense opwek, insluitende baie wat deur die geskiedenis heen die slagoffers van oorlog was.

^ par. 10 Vir meer inligting oor die laaste dae, sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.