Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vroegtydige en openhartige gesprekke is noodsaaklik

Wanneer ’n geliefde terminaal siek is

Wanneer ’n geliefde terminaal siek is

DOREEN was geskok toe haar man, Wesley, wat net 54 jaar oud was, met ’n baie ernstige gewas op sy brein gediagnoseer is. * Dokters het gesê dat hy net ’n paar maande oorhet om te lewe. “Ek kon nie glo wat ek hoor nie. Ek was weke lank in ’n dwaal. Dit het so onwerklik gevoel, asof dit besig was om met iemand anders te gebeur. Ek het dit glad nie verwag nie”, het sy gesê.

Ongelukkig reageer baie mense soos Doreen. Enigiemand kan enige tyd dodelik siek word. Hoewel baie mense bereid is om ’n geliefde te versorg wat met ’n dodelike siekte gediagnoseer is, kan dit ’n groot uitdaging wees. Wat kan familielede doen om ’n geliefde wat terminaal siek is, te vertroos en te versorg? Hoe kan versorgers die verskillende emosies verwerk wat hulle dalk sal voel terwyl hulle vir die persoon sorg? Wat kan ’n mens verwag namate die dood nader kom? Kom ons kyk eers hoekom dit vandag so ’n groot uitdaging is om iemand wat terminaal siek is, te versorg.

’N MODERNE PROBLEEM

Die mediese wetenskap het die proses van doodgaan verander. Sowat honderd jaar gelede het mense, selfs in gevorderde lande, nie solank gelewe soos wat mense vandag lewe nie. Wanneer mense ’n aansteeklike siekte gekry het of ernstig beseer is in ’n ongeluk, het hulle gou doodgegaan. Daar was min hospitale en nie almal kon daar uitkom nie. Daarom is die meeste mense deur hulle familie versorg en het hulle by die huis doodgegaan.

Vooruitgang op mediese gebied maak dit vir dokters vandag moontlik om siektes te bestry sodat mense langer kan lewe. In die verlede sou ’n persoon dalk gou aan ’n siekte gesterf het, maar nou kan hy jare lank daarmee saam lewe. Maar al lewe hy nou langer, beteken dit nie dat hy nie meer siek is nie. Pasiënte het partykeer ernstige simptome wat dit vir hulle onmoontlik maak om vir hulleself te sorg. Dit kan moeilik en veeleisend wees om vir sulke persone te sorg.

Dit is waarom meer en meer mense eerder in ’n hospitaal doodgaan as by die huis. Vandag weet die meeste mense nie eintlik wat ’n persoon deurgaan voordat hy sterf nie, en min mense het al gesien hoe iemand doodgaan. Omdat mense nie weet wat om te verwag nie, keer dit hulle of sukkel hulle om behoorlik vir ’n siek familielid te sorg. Wat kan hulle doen?

BEPLAN VOORUIT

Soos in Doreen se geval, is dit vir die meeste mense ’n groot skok wanneer ’n geliefde met ’n dodelike siekte gediagnoseer word. Wat kan jou help om te beplan vir wat voorlê terwyl jy gevoelens van angs, vrees en hartseer deurmaak? ’n Getroue kneg van God het gebid: “Toon ons hoe om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart kan bekom” (Psalm 90:12). Ja, bid opreg vir Jehovah God om jou te wys ‘hoe om jou dae so te tel’ sodat jy die tyd wat oor is, op die beste manier saam met jou geliefde kan deurbring.

Dit beteken dat jy goed moet beplan. As jou geliefde nog kan kommunikeer en daaroor wil praat, vra hom wie hy wil hê namens hom besluite moet neem wanneer hy dit nie meer self kan doen nie. ’n Eerlike gesprek met die geliefde oor dinge soos of hy aan ’n asemhalingstoestel gekoppel wil word, in ’n hospitaal opgeneem wil word of enige ander behandelings wil hê, kan keer dat daar misverstande is. Dit sal ook help dat familielede wat hierdie besluite namens ’n geliefde moet neem, nie later skuldgevoelens het nie. As daar vroegtydig en openlik hieroor gepraat word, kan die familie eerder daarop fokus om hulle geliefde goed te versorg. Die Bybel sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie.”—Spreuke 15:22.

HOE OM DIE PERSOON TE HELP

Die belangrikste ding wat ’n versorger gewoonlik moet doen, is om die siek persoon te vertroos. Help die persoon wat besig is om dood te gaan, om te besef dat daar mense is wat vir hom lief is en dat hy nie alleen is nie. Hoe kan dit gedoen word? Lees of sing vir die persoon. Kies leesstof en liedjies waarvan die persoon hou en wat opbouend is. Vir baie mense is dit vertroostend wanneer ’n familielid hulle hand vashou en saggies met hulle praat.

Dit sal help as jy vir die pasiënt sê wie hom besoek. Volgens ’n verslag “is gehoor die laaste van die vyf sintuie wat ’n persoon verloor. Selfs al lyk dit of [pasiënte] slaap, kan hulle dalk nog baie goed hoor. So moenie iets sê as jy dit nie sou sê wanneer hulle wakker is nie.”

Bid saam, as dit moontlik is. In die Bybel lees ons dat die apostel Paulus en dié wat saam met hom was, een keer in ’n gevaarlike situasie was. Hulle was nie seker of hulle dit sou oorleef nie. Wat het hulle gedoen? Paulus het sy vriende gesmeek: “Julle kan [ook help] deur julle smeking vir ons” (2 Korintiërs 1:8-11). Wanneer iemand baie gestres en ernstig siek is, kan ’n opregte gebed baie beteken.

MAAK VREDE MET WAT GEBEUR

Net die idee dat iemand vir wie jy lief is, besig is om te sterf, kan ontstellend wees. Dit maak sin, want die dood is onnatuurlik. Ons is nie gemaak om die dood te aanvaar as ’n normale deel van die lewe nie (Romeine 5:12). Daarom noem God se Woord die dood ’n “vyand” (1 Korintiërs 15:26). So dit is heeltemal verstaanbaar, selfs normaal, as jy nie aan die dood van ’n geliefde wil dink nie.

Maar wanneer familielede weet wat om te verwag, kan dit hulle help om hulle vrese te oorkom en eerder daarop te fokus om alles so gemaklik as moontlik vir almal te maak. ’n Lys van die dinge wat dalk sal gebeur, word genoem in die venster “ Die laaste paar weke”. Nie alle pasiënte sal al hierdie simptome hê nie, en dalk ook nie in dieselfde volgorde nie. Maar die meeste pasiënte ondervind ten minste party van hierdie simptome.

Nadat ’n geliefde gesterf het, sal dit goed wees om ’n goeie vriend te kontak of iemand wat vooraf gesê het dat hulle sal help. Dit sal ook goed wees om familie en versorgers daarvan te verseker dat hulle geliefde se lyding nou verby is. Ons Skepper verseker ons liefdevol dat die ‘dooies bewus is van hoegenaamd niks’ nie.—Prediker 9:5.

DIE GROOTSTE VERSORGER

Ons kan leer om ander mense se hulp te aanvaar

Dit is noodsaaklik om op God te vertrou—nie net wanneer ’n familielid siek is nie, maar ook in die hartseertyd nadat die persoon doodgegaan het. Hy kan jou help deur middel van die vertroostende woorde en dade van ander mense. Doreen sê: “Ek het geleer om hulp te aanvaar wanneer iemand dit aanbied. Om die waarheid te sê, ons was oorweldig deur al die hulp wat ons ontvang het. Ek en my man was oortuig dat Jehovah besig was om te sê: ‘Ek is hier by julle om julle hierdeur te help.’ Ek sal dit nooit vergeet nie.”

Jehovah God is beslis die grootste Versorger. As die Een wat ons gemaak het, verstaan hy ons pyn en hartseer. Hy kan en wil graag vir ons die hulp en aanmoediging gee wat ons nodig het. Wat meer is, hy het belowe dat hy binnekort die dood vir altyd gaan wegneem. Hy gaan ook die miljarde mense wat in sy geheue is, weer laat lewe (Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:3, 4). Dan sal ons almal met die apostel Paulus se woorde saamstem: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”—1 Korintiërs 15:55.

^ par. 2 Name is verander.