Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die lewe as ’n blinde persoon

Die lewe as ’n blinde persoon

“By geboorte het ek amper heeltemal my sig verloor omdat ek die verkeerde oogdruppels gegee is. Gedurende my tienerjare het ek heeltemal blind geword, en dit het my baie depressief gemaak.” —Paqui, ’n middeljarige vrou wie se man ook blind is.

BLINDHEID of uiterse swak sig kan baie oorsake hê, insluitende beserings en siekte, wat ’n uitwerking kan hê op die oë, die oogsenuwee of die brein. Mense wat ’n groot deel van hulle sig of al hulle sig verloor, vind dit dikwels moeilik om hulle situasie te aanvaar en voel hartseer en bang. Maar baie leer om goed oor die weg te kom en lei ’n bevredigende lewe.

Ons neem gewoonlik die meeste inligting oor ons omgewing in deur middel van ons oë. Maar wanneer iemand sy sig verloor, maak hy meer staat op sy ander sintuie—gehoor, reuk, gevoel en smaak.

Volgens die tydskrif Scientific American toon navorsing oor neuroplastisiteit dat die brein die vermoë het “om te verander namate dit ondervinding opdoen”. Die artikel voeg by: “Daar is baie bewyse dat die brein, wanneer dit nie meer seine van een sintuig ontvang nie, homself kan herorganiseer om die ander sintuie te ondersteun en te versterk.” Kyk na die volgende.

Gehoor: Klanke—van mense se stemme tot voetstappe—help blinde mense om ’n verstandelike beeld te vorm. “Ek het geleer om mense te onthou en te erken aan hulle stemme of selfs aan hoe hulle stap”, sê ’n blinde man met die naam Fernando. Juan, wat ook blind is, sê: “’n Blinde persoon erken ander mense aan hulle stemme.” En soos ons almal, let blinde mense veral iemand se stemtoon op, wat ’n verskeidenheid emosies kan weerspieël.

Die geoefende oor van ’n blinde persoon sê vir hom baie omtrent sy omgewing—van die rigting waarin die verkeer beweeg tot die grootte van ’n kamer tot die posisie van sekere voorwerpe.

Reuk: Reuk kan ook ’n ryk bron van inligting wees. Dit sê vir ’n blinde persoon baie meer as net wat hy ruik. Byvoorbeeld, wanneer ’n blinde persoon met ’n sekere pad langs loop, kan sy reuksintuig hom help om ’n verstandelike kaart te vorm wat koffiewinkels, restaurante, markte, ensovoorts kan insluit. Bekende geluide voeg natuurlik meer detail by die kaart by, asook dinge wat die persoon te wete kom deur middel van gevoel.

Gevoel: “My vingers is my oë”, sê Francisco. ’n Wandelstok help my om verder te “sien”. Manasés, wat blind gebore is en van kleins af geleer het om ’n wandelstok te gebruik, het gesê: “Ek weet presies waar ek is, danksy my ander sintuie, my geheue en die patrone op die sypaadjie wat ek met my wandelstok voel.”

Die Wagtoring word in braille gelees

Gevoel stel baie blinde mense ook in staat om leesstof te lees wat in braille gepubliseer is. Trouens, dit is deesdae niks nuuts vir ’n blinde persoon om toegang te hê tot ’n aantal voorsienings wat sy verstandelike en geestelike lewe kan verryk nie. Hierdie voorsienings sluit nie net braillepublikasies in nie, maar ook oudio-opnames en rekenaartegnologie. Dit kan ’n blinde persoon help om die Bybel en ’n verskeidenheid Bybelstudiehulpe te lees. *

Hierdie geestelike voorsienings was ’n groot bron van vertroosting en hoop vir Paqui en haar man, wat vroeër genoem is. Nou het hulle ook die ondersteuning van ’n groot geestelike familie, die plaaslike Christelike gemeente van Jehovah se Getuies. “Ons kan nou ’n vol en redelik onafhanklike lewe lei”, sê Paqui.

Blindheid het beslis unieke uitdagings. Maar wat ’n bewys is dit tog van die mens se vermoë om aan te pas en terug te bons wanneer mense sulke uitdagings oorkom en voortgaan om ’n vreugdevolle lewe te lei!

^ par. 10 Jehovah se Getuies vervaardig Bybelstudiehulpe in braille in meer as 25 tale.