Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Die einde van die wêreld

Die einde van die wêreld

“Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte”, sê 1 Johannes 2:17. Wat is hierdie “wêreld”? Hoe en wanneer sal dit verbygaan?

Wat is die “wêreld” wat sal verbygaan?

WAT DIE BYBEL SÊ

Aangesien die wêreld wat genoem word, ‘begeertes’ het wat deur God afgekeur word, is dit duidelik dat dit nie die letterlike aarde is nie. Dit is eerder die mensewêreld wat geen respek vir God het nie en hulle sodoende sy vyande maak (Jakobus 4:4). Die mense waaruit hierdie wêreld bestaan, “sal as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan” (2 Tessalonisense 1:7-9). Aan die ander kant het mense wat Jesus Christus gehoorsaam deur “geen deel van die wêreld [te wees] nie”, die hoop om vir ewig te lewe.—Johannes 15:19.

Ja, 1 Johannes 2:17 sluit af: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Trouens, Psalm 37:29 toon dat so ’n persoon die hoop het om vir ewig hier op die aarde te lewe, want dit sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”

“Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie.”—1 Johannes 2:15.

Hoe sal die wêreld eindig?

WAT DIE BYBEL SÊ

Die einde sal hoofsaaklik in twee fases plaasvind. Eers sal God georganiseerde valse godsdiens vernietig, wat as ’n prostituut met die naam “Babilon die Grote” uitgebeeld word (Openbaring 17:1-5; 18:8). Hoewel sy beweer dat sy aan God lojaal is, het sy bondgenootskappe met die wêreld se politieke leiers gesluit. Maar dit is juis hierdie heersers wat haar sal aanval. “Hulle sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele [of, rykdom] opeet en haar heeltemal met vuur verbrand.”—Openbaring 17:16.

Dan sal God sy aandag vestig op die politieke heersers self—“die konings van die hele bewoonde aarde”. Hulle sal saam met goddelose mense vernietig word tydens “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, wat ook “Har–Magedon” genoem word.—Openbaring 16:14, 16.

“Soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde . . . Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word in die dag van Jehovah se toorn.”Sefanja 2:3.

Wanneer sal die wêreld eindig?

WAT DIE BYBEL SÊ

Die einde sal kom wanneer die mensdom genoeg waarskuwing ontvang het deur middel van ’n wêreldwye verkondiging van God se Koninkryk—’n wêreldregering wat menslike heerskappy sal vervang (Daniël 7:13, 14). Jesus Christus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Hierdie predikingswerk, wat God se geregtigheid en barmhartigheid weerspieël, is deel van ’n saamgestelde “teken” wat die tyd van die einde kenmerk. Die teken sluit ook internasionale oorloë, aardbewings, hongersnode en siekte in.—Matteus 24:3; Lukas 21:10, 11.

Die Bybel voorspel nie net wêreldgebeure nie; dit beskryf ook hoe mense gedurende “die laaste dae” sal wees. Ons lees: “[Daar sal] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . ongehoorsaam aan ouers, . . . sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God.” *2 Timoteus 3:1-5.

Die goddelose wêreld waarin ons nou lewe, sal binnekort ‘verbygaan’.—1 Johannes 2:17.

Al hierdie toestande kenmerk die tydperk wat begin het ongeveer die tyd toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, in 1914. Wat meer is, God se Koninkryk is sedert daardie jaar in elke uithoek van die aarde verkondig, en Jehovah se Getuies beskou dit as ’n voorreg om met hierdie werk geïdentifiseer te word. Trouens, hulle vernaamste tydskrif is Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan.

“Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.”Matteus 25:13.

^ par. 14 Vir meer inligting, sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Ook beskikbaar op www.isa4310.com/af.