Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om kinders te prys

Hoe om kinders te prys

DIE UITDAGING

Party mense sê dat dit onmoontlik is om jou kind te veel te prys. Ander sê dat voortdurende lof jou kind sal bederf en hom laat voel dat hy op alles geregtig is, asof die wêreld hom iets skuld.

Jy moenie net dink aan hoeveel jy jou kind prys nie, maar ook aan die soort lof wat jy gee. Watter soort lof sal jou kind aanmoedig? Watter soort lof kan vir hom sleg wees? Hoe kan jy hom prys sodat dit die beste uitwerking op hom sal hê?

WAT JY MOET WEET

Nie alle lof is dieselfde nie. Kyk na die volgende:

Dit kan skadelik wees om jou kind te veel te prys. Party ouers prys hulle kinders wanneer hulle dit nie verdien nie omdat hulle hulle kinders se selfbeeld ’n hupstoot wil gee. Maar jongmense “is slim genoeg om te sien wanneer ouers oordryf en kom tot die gevolgtrekking dat hulle nie werklik bedoel wat hulle sê nie”, waarsku dr. David Walsh. “[Jongmense] weet dat hulle nie [die lof] verdien het nie en kan tot die slotsom kom dat hulle [hulle ouers] nie kan vertrou nie.” *

Dit is beter om ’n kind vir sy vermoë te prys. Sê nou jou dogter kan baie goed teken. Jy sal haar natuurlik wil prys, en dit sal haar motiveer om haar vaardigheid selfs verder te verskerp. Maar dit kan nadelig wees. As jy jou kind net vir haar talente prys, kan dit haar laat dink dat sy net vaardighede moet probeer ontwikkel wat van nature kom. Miskien sal sy selfs skrikkerig wees om nuwe uitdagings aan te pak omdat sy bang is dat sy sal misluk. Sy sal dalk redeneer: ‘As iets moeilik is, is ek seker nie daarvoor uitgeknip nie—so waarom moet ek probeer?’

Dit is die beste om jou kind vir inspanning te prys. Kinders wat vir harde werk en deursettingsvermoë geprys word, en nie net vir hulle talente nie, leer ’n noodsaaklike waarheid—dat dit geduld en inspanning verg om ’n vaardigheid aan te leer. Omdat hulle dit weet, “doen hulle wat nodig is om die gewenste resultaat te verkry”, sê die boek Letting Go With Love and Confidence. “Selfs wanneer hulle nie suksesvol is nie, beskou hulle hulleself nie as ’n mislukking nie, maar as iemand wat nog leer.”

WAT JY KAN DOEN

Prys inspanning, nie net talent nie. As jy vir jou kind sê: “Ek kan sien dat jy baie moeite gedoen het met jou tekening”, sal dit ’n beter uitwerking op hom hê as wanneer jy sê: “Jy is baie kunstig.” In albei gevalle prys jy hom, maar in die tweede geval kan jy onwetend impliseer dat jou kind net goed sal wees met dinge waarvoor hy ’n natuurlike aanleg het.

Wanneer jy jou kind vir inspanning prys, leer jy hom dat hy sy vermoë met oefening kan verbeter. Dan sal jou kind moontlik nuwe uitdagings met meer selfvertroue aanpak.—Bybelbeginsel: Spreuke 14:23.

Help jou kind om mislukking te verwerk. Selfs goeie mense maak foute, miskien herhaaldelik (Spreuke 24:16). Maar na elke fout, staan hulle op, leer hulle uit die ondervinding en gaan hulle voort. Hoe kan jy jou kind help om hierdie positiewe gesindheid aan te kweek?

Konsentreer weer eens op inspanning. Kyk na ’n voorbeeld: Sê nou jy sê dikwels vir jou dogter: “Jy is baie goed in wiskunde”, maar dan druip sy ’n wiskundetoets. Sy sal dalk dink dat sy dit nie meer kan doen nie—waarom moet sy dan probeer om te verbeter?

Maar wanneer jy op inspanning konsentreer, help jy jou kind om uithouvermoë te ontwikkel. Jy help jou dogter om ’n fout te sien vir wat dit is, en nie as ’n ramp nie. Dan sal sy nie tou opgooi nie, maar eerder ’n ander benadering probeer of eenvoudig harder werk.—Bybelbeginsel: Jakobus 3:2.

Gee opbouende kritiek. Wanneer negatiewe terugvoering op die regte manier gegee word, sal dit ’n kind help, nie sy gees verpletter nie. As jy jou kind gereeld op die regte manier prys, sal hy waarskynlik terugvoering verwelkom oor hoe hy verder kan verbeter. Dan sal sy prestasies vir hom en vir jou bevredigend wees.—Bybelbeginsel: Spreuke 13:4.

^ par. 8 Uit die boek No: Why Kids—of All Ages—Need to Hear It and Ways Parents Can Say It.