Spring na inhoud

Hulp vir die blindes in Afrika

Hulp vir die blindes in Afrika

In party ontwikkelende lande het blinde mense nie altyd dieselfde geleenthede wat blindes in ander lande geniet nie. Hulle word soms deur die gemeenskap op die kantlyn geskuif en kry nie die nodige hulp om die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, die hoof te bied nie—uitdagings wat nie vir mense wat kan sien, ’n probleem is nie. Om kos by die mark te gaan koop, om ’n bus te haal en om kontanttransaksies te doen, kan byvoorbeeld vir hulle baie moeilik wees. Om te lees, kan ook vir hulle ’n probleem wees. Nie alle blindes kan braille lees nie. En al lees hulle braille, vind hulle dit dalk moeilik om publikasies in hulle taal te kry.

Jehovah se Getuies publiseer al meer as 100 jaar lank Bybelpublikasies vir die blindes. Om braillepublikasies in Chichewa, ’n taal wat in Malawi gepraat word, beskikbaar te stel, het die Getuies onlangs toerusting om braillepublikasies te druk en te bind van Nederland na Malawi gestuur.

Leo, wat ondervinding het in die vervaardiging van braillepublikasies, het van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Brasilië na Malawi gereis. Hy het ’n span van vyf mense gehelp om te leer hoe om die toerusting en ’n rekenaarprogram, wat deur die Getuies ontwerp is, te gebruik. Hierdie program sit teks in Chichewabraille om. Om die program in staat te stel om dit te doen, moes die gebruikers ’n omsettingstabel vir Chichewa opstel, wat die gewone letters sowel as die braillekarakters bevat. Die program kan teks in braille omsit en die publikasie ’n formaat gee wat dit vir blindes maklik maak om te lees. Kyk wat party in Malawi gesê het oor hulle braillepublikasies.

Munyaradzi is ’n jong, blinde vrou wat haar eie radioprogram deeltyds aanbied. Sy bestee ook elke maand 70 uur daaraan om ander van die Bybel te leer. Sy sê: “In die verlede het ek braillepublikasies in Engels ontvang, maar om dit in my moedertaal te hê, het werklik my hart geraak. Ek waardeer al die moeite van my mede-Getuies en die onkoste wat hulle aangegaan het sodat ons braillepublikasies in ons taal kan hê. Dit laat my voel dat daar nie van ons vergeet word nie en dat ons as belangrik beskou word.”

Francis is ’n Getuie wat in die noorde van Malawi woon. Omdat hy blind is, was hy altyd van ander afhanklik om vir hom te lees. Toe hy sy eerste braillepublikasies in Chichewa ontvang het, het hy uitgeroep: “Ek droom seker! Dis wonderlik!”

Loyce, wat ook blind is, dien as ’n voltydse bedienaar. Sy het al 52 mense gehelp om hulle lewe te verbeter. Hoe? Sy leer mense deur die braillepublikasies te gebruik terwyl haar studente die gedrukte publikasies gebruik, wat albei deur Jehovah se Getuies uitgegee word.

Loyce hou ’n Bybelstudie

Leo, die opleier van Brasilië wat vroeër gemeld is, het gesê: “Dit is baie bevredigend om mense se reaksie te sien wanneer jy vir hulle Bybelpublikasies in braille gee en hulle besef dat dit in hulle taal is. Baie van hulle het gesê hoe dankbaar hulle teenoor Jehovah is en hoe bly hulle is dat hulle op hulle eie vir hulle Christelike vergaderinge en die predikingswerk kan voorberei. Hulle hoef nie meer van ander afhanklik te wees om vir hulle te lees nie. Nou is hulle persoonlike studie werklik persoonlik. En hulle kan hulle gesinne beter help om geestelik te groei. Hierdie publikasies help hulle om nader aan Jehovah te kom.”