Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Werk

Werk

Hoewel die Bybel ’n ou boek is, is die beginsels daarin tydloos. Wat dit omtrent werk sê, is vandag nog net so geldig soos toe die Bybel geskryf is.

Wat is die regte beskouing van werk?

WAT PARTY MENSE SÊ

As jy jou werk wil behou, moet dit die belangrikste ding in jou lewe wees. Hierdie gesindheid het veroorsaak dat party so behep word met hulle werk dat hulle hulle gesin en hulle gesondheid afskeep.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel staan ’n gebalanseerde beskouing van werk voor. Dit prys vlytigheid en veroordeel luiheid (Spreuke 6:6-11; 13:4). Maar die Bybel keur nie werkverslawing goed nie. Dit spoor ons eerder aan om genoeg rus te kry. Prediker 4:6 sê: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind.” Ons moet dus nie so behep raak met ons werk dat ons ons gesin of ons gesondheid afskeep nie. Dit hou geen voordeel in om onsself dood te werk nie!

“Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk.”Prediker 2:24.

Maak dit saak watter soort werk jy doen?

WAT PARTY MENSE SÊ

Solank die werk goed betaal, is dit aanvaarbaar. Hierdie denkwyse, tesame met die versoeking om maklik geld te maak, het daartoe gelei dat party mense op oneerlike wyse sake doen en selfs werk aanvaar wat onwettig is.

Ander, wat glo aan filosofieë soos om ‘jou droom te volg’ en om ‘te doen waarvoor jy lief is’, aanvaar net werk wat vir hulle opwindend is. As hulle werk nie hulle “roeping” in die lewe is of nie hulle adrenalien laat pomp nie, dink hulle dat dit vervelig is. Gevolglik het hulle ’n negatiewe beskouing van hulle werk en doen hulle so min as moontlik by die werk. Hulle sal dalk selfs ’n goeie werkgeleentheid van die hand wys omdat hulle voel dat die werk benede hulle is.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel keur nie werk goed wat oneerlik is of wat daartoe bydra dat mense op die een of ander manier leed aangedoen word nie (Levitikus 19:11, 13; Romeine 13:10). Goeie werk bevoordeel ander en laat die werker toe om ‘’n goeie gewete te behou’.—1 Petrus 3:16.

Die Bybel leer ook dat werk ’n edele doel dien—nie net om jou ’n gevoel van voldoening te gee nie, maar om ’n bestaan te maak en jou gesin te onderhou. Hoewel dit beslis nie verkeerd is om ons werk te geniet nie, moet dit ’n middel tot ’n doel wees—nie die doel self nie.

“My pa is baie besig. Behalwe sy sekulêre werk het hy verantwoordelikhede in die gemeente waaraan ons as Jehovah se Getuies behoort. Maar my pa het goeie werksgewoontes. Hy doen wat daar van hom verwag word, maar hy maak nog steeds tyd vir my, my suster en my ma. My pa het altyd dinge om te doen, maar hy behou ’n balans.”—Alannah.

Inflasie en stygende pryse kan ons wel bekommerd laat voel oor hoe ons die pot aan die kook gaan hou, maar die Bybel beklemtoon matigheid. Dit sê: “As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:8). Hierdie woorde beteken nie dat ons ons alles moet ontsê nie. Maar ons moet realisties wees oor wat ons kan bekostig en redelik wees oor die hoeveelheid besittings wat ons bekom.—Lukas 12:15.

WAT DIT VIR JOU BETEKEN

Wees vlytig by die werk. Toon ware belangstelling daarin. Selfs as jy nederige werk doen of dit nie die soort werk is waaroor jy altyd gedroom het nie, moet jy probeer om vaardig daarin te word. Vlytige werk laat jou voel dat jy iets bereik het, en om jou vaardighede te ontwikkel, kan jou in werklikheid meer werksbevrediging gee.

Terselfdertyd moet jy gebalanseerd wees. Jy moet van tyd tot tyd rus en ontspanning geniet. ’n Mens geniet sulke tye selfs meer nadat jy hard gewerk het. As ’n mens vir jouself kan sorg, gee dit jou ook ’n gevoel van eiewaarde en wen dit die respek van ander—insluitende jou gesin.—2 Tessalonisense 3:12.

“Moet julle dus nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. . . . Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”Matteus 6:31, 32.