Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat jy moet weet omtrent malaria

Wat jy moet weet omtrent malaria

Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat meer as 198 miljoen mense in 2013 met malaria besmet is en ongeveer 584 000 daaraan dood is. Byna 4 uit 5 van dié wat gesterf het, was kinders onder die ouderdom van vyf. Die siekte kom voor in ongeveer honderd lande en gebiede regoor die wêreld, en sowat 3,2 miljard mense loop dus die gevaar om daarmee besmet te word.

1 WAT IS MALARIA?

Malaria is ’n siekte wat deur parasiete veroorsaak word. Die simptome sluit koors, koue rillings, sweterigheid, hoofpyn, liggaamspyne, naarheid en braking in. Soms keer die simptome elke 48 tot 72 uur terug, afhangende van die soort parasiet en hoe lank die persoon al die siekte het.

2 HOE VERSPREI MALARIA?

  1. Malariaparasiete—eensellige organismes wat plasmodia genoem word—gaan die bloedstroom binne wanneer ’n persoon deur ’n vroulike Anopheles-muskiet gebyt word.

  2. Die parasiete gaan na die besmette persoon se lewerselle, waar hulle vermenigvuldig.

  3. Wanneer ’n lewersel oopbars, stel dit parasiete vry, wat dan die persoon se rooibloedselle binnedring. Daar vermenigvuldig die parasiete verder.

  4. Wanneer ’n rooibloedsel oopbars, stel dit parasiete vry, wat dan nog meer rooibloedselle besmet.

  5. Hierdie siklus van rooibloedselle wat binnegedring word en oopbars, gaan voort. Gewoonlik ervaar die besmette persoon die simptome elke keer wanneer die rooibloedselle oopbars.

3 HOE KAN JY JOUSELF BESKERM?

As jy in ’n gebied woon waar malaria voorkom . . .

  • Gebruik ’n slaapnet of ’n muskietnet. Dit moet

    • met insekdoders behandel wees.

    • geen gate of skeure hê nie.

    • heeltemal onder die matras ingevou wees.

  • Gebruik nawerkende spuitmiddel in die huis.

  • Laat skerms op deure en vensters installeer, as dit moontlik is, en gebruik lugversorgers en waaiers, wat moontlik sal verhoed dat muskiete op jou sit.

  • Dra klere in ligte kleure wat jou hele liggaam bedek.

  • Vermy, wanneer moontlik, digbebosde gebiede, waar muskiete in groot getalle voorkom, en stilstaande water, waar hulle broei.

  • As jy besmet word, moet jy onmiddellik behandeling kry.

As jy beplan om ’n land te besoek waar malaria voorkom . . .

  • Kry die nuutste inligting voordat jy reis. Die soort malariaparasiet wat in een gebied algemeen is, kan verskil van dié in ’n ander gebied, en dit bepaal watter soort medikasie die doeltreffendste sal wees. Dit sal ook verstandig wees om met jou dokter oor jou persoonlike mediese agtergrond te praat.

  • Gedurende jou besoek moet jy die riglyne volg wat in hierdie artikel uiteengesit word vir diegene wat in ’n malariagebied woon.

  • As jy besmet word, moet jy onmiddellik behandeling kry. Wees daarvan bewus dat die simptome eers tussen een en vier weke ná besmetting sal verskyn.