Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Geweld

Geweld

Die mensegeskiedenis is vol geweld. Beteken dit dat daar altyd geweld sal wees?

Hoe beskou God geweld?

WAT MENSE SÊ

Baie mense, insluitende godsdienstige mense, meen dat geweld ’n geregverdigde reaksie op uittarting is. En miljoene beskou mediageweld as ’n aanvaarbare vorm van vermaak.

WAT DIE BYBEL SÊ

Naby die stad Mosoel, in Noord-Irak, lê die ruïnes van ’n stad wat eens baie belangrik was—Nineve, die hoofstad van die eertydse Assiriese Ryk. Terwyl dit nog ’n florerende stad was, het die Bybel voorspel dat God “Nineve ’n verlate woesteny [sou] maak” (Sefanja 2:13). “Ek sal van jou ’n skouspel maak”, het God gesê. Waarom? Nineve was ’n “stad van bloedvergieting” (Nahum 1:1; 3:1, 6). En Psalm 5:6 sê: “’n Man van bloedvergieting . . . word deur Jehovah verfoei.” Soos Nineve se ruïnes duidelik toon, het God gedoen wat hy gesê het.

Geweld het sy oorsprong by die aartsvyand van God sowel as van die mens—Satan die Duiwel, wat deur Jesus Christus “’n mensemoordenaar” genoem is (Johannes 8:44). En omdat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’, word sy eienskappe weerspieël in die algemene gesindheid teenoor geweld, insluitende die wêreld se beheptheid met mediageweld (1 Johannes 5:19). Om God te behaag, moet ons leer om geweld te haat en lief te hê wat God liefhet. * Is dit moontlik?

“Jehovah . . . haat beslis elkeen wat geweld liefhet.”Psalm 11:5.

Kan gewelddadige mense verander?

WAT MENSE SÊ

Geweld is eenvoudig ’n weerspieëling van die menslike natuur, wat nie verander nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Verwyder . . . van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies.” Dit sê ook: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid” (Kolossense 3:8-10). Verwag God te veel van ons? Nee. Mense kan verander. * Hoe?

Die eerste stap is om juiste kennis van God te verkry (Kolossense 3:10). Wanneer iemand met ’n ontvanklike hart van ons Skepper se innemende eienskappe en regverdige standaarde leer, word hy deur liefde tot God aangetrek en wil hy Hom behaag.—1 Johannes 5:3.

Die tweede stap hou verband met ons keuse van metgeselle. “Moenie omgaan met iemand wat gou toornig word nie; en by ’n man wat woedebuie het, moet jy nie ingaan nie, sodat jy nie met sy paaie vertroud raak en beslis ’n strik vir jou siel span nie.”—Spreuke 22:24, 25.

Die derde stap behels insig. Erken wat die neiging tot geweld werklik is—’n ernstige swakheid wat ’n gebrek aan selfbeheersing weerspieël. Vreedsame mense daarenteen het innerlike krag. “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man”, sê Spreuke 16:32.

“Streef vrede met alle mense na.”Hebreërs 12:14.

Sal geweld ooit tot ’n einde kom?

WAT MENSE SÊ

Daar was nog altyd geweld, en daar sal altyd geweld wees.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:10, 11). Ja, om die sagmoedige en vreedsame mense te red, sal God met liefhebbers van geweld doen wat hy met eertydse Nineve gedoen het. Daarna sal geweld nooit weer die vrede op die aarde bederf nie!—Psalm 72:7.

“Die saggeaardes . . . sal die aarde beërf.”—Matteus 5:5

Dit is dus nou die tyd om God se guns te soek deur ’n vreedsame gesindheid aan te kweek. Tweede Petrus 3:9 sê: “Jehovah . . . is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.”

“Hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse.”Jesaja 2:4.

^ par. 7 God het eertydse Israel wel toegelaat om oorlog te voer om hulle gebied te verdedig (2 Kronieke 20:15, 17). Maar dit het verander toe God sy verbond met Israel beëindig en die Christengemeente gestig het, wat geen grense het nie.

^ par. 11 Voorbeelde van mense wat hulle lewenswyse verander het, kan gevind word in die reeks “Die Bybel verander lewens” in Die Wagtoring.