Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek het nêrens gegaan sonder my vuurwapen nie

Ek het nêrens gegaan sonder my vuurwapen nie
  • GEBORE: 1958

  • GEBOORTELAND: ITALIË

  • GESKIEDENIS: GEWELDDADIGE BENDELID

MY VERLEDE:

Ek is in die buitewyke van Rome gebore en het daar grootgeword in ’n gebied waar die arm werkersklas gewoon het. Die lewe was moeilik. Ek het nooit my regte ma geken nie en het nie ’n goeie verhouding met my pa gehad nie. Terwyl ek grootgeword het, het ek geleer hoe om in ’n gevaarlike buurt te oorleef.

Teen die tyd dat ek tien jaar oud was, het ek reeds begin steel. Toe ek 12 was, het ek vir die eerste keer van die huis af weggeloop. My pa moes my meer as een keer by die polisiestasie gaan haal en huis toe neem. Ek het heeltyd met mense gestry—ek was gewelddadig en kwaad vir die hele wêreld. Toe ek 14 was, het ek die huis vir goed verlaat. Ek het dwelms begin gebruik en ’n straatkind geword. Omdat ek nie slaapplek gehad het nie, het ek gewoonlik by ’n motor ingebreek en daarin gebly tot die vroeë oggendure. Dan het ek ’n waterfontein gesoek sodat ek my kon was.

Ek het ’n bobaasdief geword—ek het handsakke gegryp, snags by woonstelle en villas ingebreek, ensovoorts. Ek het ’n slegte reputasie begin kry en is kort voor lank genooi om by ’n berugte bende aan te sluit, wat my die geleentheid gebied het om selfs banke te beroof. Omdat ek so aggressief was, het ek kort voor lank ’n gevreesde lid van die bende geword. Ek het nêrens gegaan sonder my vuurwapen nie; ek het dit selfs onder my kussing gehou wanneer ek geslaap het. Geweld, dwelms, diefstal, vloektaal en onsedelikheid het deel van my lewe geword. Die polisie was heeltyd op my spoor. Ek is ’n hele paar keer in hegtenis geneem, en ek was jare lank in en uit die tronk.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Een van die kere toe ek uit die tronk vrygelaat is, het ek besluit om vir een van my tannies te gaan kuier. Ek het nie geweet dat my tannie en twee van haar kinders Jehovah se Getuies geword het nie. Hulle het my genooi om ’n vergadering van die Getuies  by te woon. Uit nuuskierigheid het ek besluit om saam met hulle te gaan. Toe ons by die Koninkryksaal aankom, het ek daarop aangedring om naby die deur te sit sodat ek kon sien wie inkom en uitgaan. Ek was natuurlik gewapen.

Daardie vergadering het my lewe verander. Ek onthou nog dat ek gewonder het of ek nie dalk op ’n ander planeet is nie. Vriendelike, glimlaggende mense het my gegroet. Ek kan nog voor my geestesoog die sagte, eerlike uitdrukking in die Getuies se oë sien. Dit het beslis hemelsbreed verskil van die wêreld waaraan ek gewoond was!

Ek het die Bybel saam met die Getuies begin studeer. Hoe meer ek geleer het, hoe duideliker het dit geword dat ek my lewenswyse heeltemal moet verander. Ek het die woorde in Spreuke 13:20 ter harte geneem: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.” Ek het besef dat ek die bende moet verlaat. Dit was nie maklik nie, maar met Jehovah se hulp het ek dit reggekry.

Vir die eerste keer in my lewe het ek selfbeheersing begin beoefen

Ek het ook besef dat ek fisies rein moet wees. Met ’n groot gesukkel het ek rook en dwelms opgegee. Ek het my lang hare gesny, van my oorbelle ontslae geraak en ophou vloek. Vir die eerste keer in my lewe het ek selfbeheersing begin beoefen.

Ek het dit nooit geniet om te lees en te studeer nie, en daarom was dit ’n groot uitdaging om te konsentreer en my op Bybelstudie toe te lê. Maar toe ek my begin inspan het, het ek lief geword vir Jehovah, en iets in my het begin verander—my gewete het my begin pla. Ek het dikwels negatiewe gevoelens gehad en getwyfel of Jehovah my ooit sal vergewe vir al die slegte dinge wat ek gedoen het. Wanneer ek so gevoel het, het dit my baie vertroos om te lees hoe Jehovah koning Dawid vergewe het nadat hy ernstige sondes gepleeg het.—2 Samuel 11:1–12:13.

Dit was ook vir my ’n uitdaging om my geloof aan ander bekend te maak in die deur-tot-deur-bediening (Matteus 28:19, 20). Ek was bang dat ek iemand sou teëkom wat ek in die verlede seergemaak of ’n onreg aangedoen het! Maar ek het my vrees geleidelik oorkom. Ek het ware bevrediging daaruit begin put om ander te help om te leer van ons wonderlike hemelse Vader, wat so ryklik vergewe.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Die feit dat ek van Jehovah geleer het, het my lewe gered! Die meeste van my voormalige metgeselle is dood of in die tronk, maar ek lei ’n waarlik bevredigende lewe en sien uit na ’n wonderlike toekoms. Ek het geleer om nederig en gehoorsaam te wees en om my verskriklike humeur te beteuel. Daarom kom ek beter oor die weg met die mense om my. Ek is gelukkig getroud met my pragtige vrou, Carmen. Saam put ons groot vreugde daaruit om ander te help om omtrent die Bybel te leer.

Ek moet ook net sê dat ek nou eerlike werk doen—dit het soms nog met banke te doen, maar ek beroof dit nie, ek maak dit skoon!