Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Militêre toerusting: Anton Petrus/Moment via Getty Images; geld: Wara1982/iStock via Getty Images Plus

HOU AAN WAAK!

Biljoene word aan oorlog spandeer – Wat is die ware koste?

Biljoene word aan oorlog spandeer – Wat is die ware koste?

 Die koste van oorlog is ontsaglik groot.

  •   “Wêreldwyd het militêre magte al ’n rekordbedrag van R41,7 biljoen aan verskeie oorloë spandeer.” – The Washington Post, 13 Februarie 2024.

 Die koste sluit baie meer as net geld in. Kyk na net een voorbeeld: Die oorlog in Oekraïne.

  •   Soldate. Party kenners skat dat amper 500 000 soldate beseer of doodgemaak is vandat die oorlog twee jaar gelede begin het.

  •   Onskuldige mense. Meer as 28 000 mense het gesterf of is beseer, volgens die Verenigde Nasies. Maar ’n senior VN-amptenaar het gesê: “Dit is onmoontlik om te weet hoeveel mense se lewens deur hierdie verwoestende oorlog vernietig is.” a

 Daar is verskriklik baie mense wat as gevolg van oorlog en konflik regoor die wêreld swaarkry.

  •   114 miljoen. Die hoeveelheid mense wêreldwyd wat vanaf September 2023 as gevolg van oorlog en geweld geforseer is om hulle huise te verlaat.

  •   783 miljoen. Die hoeveelheid mense wat nie genoeg kos het om te eet nie. “Konflik is nog steeds die grootste oorsaak van hongerte. Sewentig persent van die wêreld se mense wat honger ly, bly in gebiede wat deur oorlog en geweld geraak word.” – Wêreldvoedselprogram.

 Sal daar ooit ’n einde aan oorlog wees? Kan ons regtig hoop dat daar ooit vrede sal wees? Sal daar ooit ’n tyd wees wanneer niemand arm sal wees nie en almal die aarde se opbrengs sal geniet en genoeg sal hê om te eet? Wat sê die Bybel?

’n Tyd van oorlog

 Die Bybel het voorspel dat daar wêreldwyd oorloë sou wees en beskryf dit op ’n simboliese manier as ’n perderuiter.

  •   “’n Ander een het verskyn, ’n vuurkleurige perd, en die een wat daarop sit, het gesag ontvang om vrede van die aarde weg te neem sodat hulle mekaar sou doodmaak, en ’n groot swaard is vir hom gegee.” – Openbaring 6:4.

 Hierdie simboliese perderuiter word gevolg deur twee ander perderuiters wat wydverspreide hongersnood en dood as gevolg van plae of ander oorsake voorstel (Openbaring 6:5-8). Om meer uit te vind oor hierdie Bybelprofesie en hoekom ons oortuig kan wees dat dit in ons dag vervul word, lees die artikel “Die vier perderuiters—Wie is hulle?

’n Toekoms van vrede

 Binnekort sal die wêreld se rykdom nie meer vir oorlog gebruik word nie. Maar dit sal nie as gevolg van iets wees wat mense doen nie. Die Bybel sê:

  •   God sal “regoor die aarde ’n einde aan oorloë” maak. – Psalm 46:9.

  •   God sal die hartseer gevolge van oorlog wegneem. “God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie. Die vorige dinge is verby.” – Openbaring 21:4.

  •   God sal seker maak dat almal in vrede lewe. “My volk sal in ’n vreedsame plek woon, in veilige plekke waar daar kalmte en rus is.” – Jesaja 32:18.

 Volgens Bybelprofesie wys die oorloë en ander dinge wat ons vandag sien dat hierdie tyd van vrede naby is.

 Hoe sal God hierdie toekoms van vrede laat gebeur? Hy sal dit deur middel van sy hemelse regering, of Koninkryk, doen (Matteus 6:10). Om uit te vind wat hierdie Koninkryk is en wat dit vir jou kan beteken, kyk na die kort video Wat is God se Koninkryk?

a Miroslav Jenca, die Verenigde Nasies se assistent-sekretarisgeneraal vir Europa, 6 Desember 2023.