Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 10

“Die woord van Jehovah het bly groei”

“Die woord van Jehovah het bly groei”

Petrus word verlos, en vervolging kan nie die verspreiding van die goeie nuus stopsit nie

Gebaseer op Handelinge 12:1-25

1-4. In watter moeilike situasie bevind Petrus hom, en hoe sou jy gevoel het as jy in sy plek was?

 MET ’n dawerende slag slaan die enorme ysterpoort agter Petrus toe. Vasgeketting tussen twee Romeinse wagte, word hy na sy sel gelei. Dan moet hy ure, moontlik dae, lank wag voordat hy uitvind wat met hom gaan gebeur. Daar is min om na te kyk buiten die tronkmure en -tralies, sy boeie en sy wagte.

2 Wanneer die nuus kom, is dit ontstellend. Koning Herodes Agrippa I is vasbeslote om Petrus dood te maak. a Trouens, ná die Pasga sal Petrus voor die volk gebring word, en sy doodsvonnis sal ’n geskenk aan die skares wees. Dit is nie ’n leë dreigement nie. Een van Petrus se mede-apostels – Jakobus – is onlangs deur hierdie selfde heerser tereggestel.

3 Dit is die aand voor die teregstelling. Waaraan dink Petrus in sy donker tronksel? Onthou hy hoe Jesus jare vroeër gesê het dat hy eendag geboei en teen sy sin gelei sou word – na sy dood toe? (Joh. 21:18, 19). Miskien wonder Petrus of daardie tyd nou aangebreek het.

4 Hoe sou jy gevoel het as jy in Petrus se situasie was? Baie sou mismoedig raak en dink dat daar geen hoop meer is nie. Maar is enige situasie werklik hopeloos vir ’n ware volgeling van Jesus Christus? Wat kan ons leer uit Petrus en sy mede-Christene se reaksie op die vervolging wat oor hulle gekom het? Kom ons kyk.

“Die gemeente [het] intens vir hom . . . bly bid” (Handelinge 12:1-5)

5, 6. (a) Waarom en hoe het koning Herodes Agrippa I die Christengemeente aangeval? (b) Waarom was die dood van Jakobus ’n slag vir die gemeente?

5 Soos ons in die vorige hoofstuk van hierdie boek geleer het, was die bekering van die nie-Jood Kornelius en sy familie ’n opwindende verwikkeling vir die Christengemeente. Maar ongelowige Jode was sekerlik geskok om uit te vind dat baie Joodse Christene nou vryelik saam met nie-Jode aanbid.

6 Herodes, ’n slim politikus, het hierin ’n geleentheid gesien om die Jode se guns te wen, en daarom het hy begin om die Christene te mishandel. Hy het ongetwyfeld uitgevind dat die apostel Jakobus besonder na aan Jesus Christus was. Gevolglik het Herodes “Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard doodgemaak” (Hand. 12:2). Wat ’n slag vir die gemeente! Jakobus was een van die drie wat Jesus se gedaanteverandering gesien het, asook ander wonderwerke wat nie aan die ander apostels geopenbaar is nie (Matt. 17:1, 2; Mark. 5:37-42). Jesus het Jakobus en sy broer Johannes “seuns van die donder” genoem weens hulle vurige geesdrif (Mark. 3:17). Die gemeente het dus ’n moedige, getroue getuie en geliefde apostel verloor.

7, 8. Hoe het die gemeente gereageer toe Petrus gevange geneem is?

7 Soos Agrippa gehoop het, was die Jode bly oor die teregstelling van Jakobus. Aangespoor hierdeur het hy toe op Petrus gefokus. Soos aan die begin beskryf is, het hy Petrus in hegtenis laat neem. Agrippa het waarskynlik onthou dat tronke nie altyd die apostels kon binnehou nie, soos Hoofstuk 5 van hierdie boek getoon het. Om doodseker te maak, het Herodes Petrus tussen 2 wagte laat boei, met 16 wagte wat in skofte gewerk en hom dag en nag bewaak het om te verseker dat die apostel nie sou ontsnap nie. As Petrus ontsnap het, sou hierdie wagte sy vonnis ontvang. Wat kon Petrus se mede-Christene onder hierdie moeilike omstandighede doen?

8 Die gemeente het goed geweet wat om te doen. Handelinge 12:5 sê: “Terwyl Petrus in die tronk was, het die gemeente intens vir hom tot God bly bid.” Ja, hulle gebede ten behoewe van hulle geliefde broer was intense, opregte smekinge. Die dood van Jakobus het hulle nie in wanhoop gedompel nie; dit het hulle ook nie laat dink dat gebed van geen nut is nie. Gebede beteken baie vir Jehovah. As dit in ooreenstemming is met sy wil, sal hy dit verhoor (Heb. 13:18, 19; Jak. 5:16). Dit is ’n les wat Christene vandag ter harte moet neem.

9. Wat kan ons uit die voorbeeld van Petrus se mede-Christene leer omtrent gebed?

9 Weet jy van medegelowiges wat met beproewinge te kampe het? Hulle verduur dalk vervolging, regeringsverbooie of natuurrampe. Bid gerus vir hulle. Jy weet moontlik ook van party wat met minder opvallende probleme te kampe het, soos gesinsprobleme, mismoedigheid of die een of ander toets van hulle geloof. As jy peins voor jy bid, kan jy dalk aan ’n paar persone dink wat jy by name kan noem wanneer jy met Jehovah, die “Hoorder van gebed,” praat (Ps. 65:2). Jy wil immers hê dat jou broers en susters dieselfde vir jou moet doen as jy moeilike tye deurmaak.

Ons bid vir ons broers wat weens hulle geloof in die tronk is

“Volg my” (Handelinge 12:6-11)

10, 11. Beskryf die manier waarop Jehovah se engel Petrus uit die tronk verlos het.

10 Was Petrus angstig oor die gevaar waarin hy verkeer het? Ons kan nie vir seker sê nie, maar gedurende daardie laaste nag in die tronk was hy vas aan die slaap tussen sy twee waaksame wagte. Hierdie man van geloof het beslis geweet dat hy veilig is by Jehovah, ongeag wat die volgende dag sou bring (Rom. 14:7, 8). Hoe dit ook al sy, Petrus het die verbasende dinge wat daarna sou gebeur, glad nie verwag nie. Skielik het ’n helder lig sy sel gevul. ’n Engel het daar gestaan, blykbaar onsigbaar vir die wagte, en het Petrus wakker geskud. En die kettings waarmee sy hande geboei was – kettings wat heeltemal onbreekbaar gelyk het – het eenvoudig afgeval!

“Hulle [het] by die ysterpoort gekom wat na die stad lei, en dit het vanself oopgegaan.” – Handelinge 12:10

11 Die engel het Petrus ’n paar bondige opdragte gegee: “Staan gou op! . . . Trek jou klere en jou sandale aan. . . . Trek jou bo-kleed aan.” Petrus het geredelik daaraan gehoor gegee. Laastens het die engel gesê: “Volg my”, en Petrus het dit gedoen. Hulle het die sel verlaat, verby die wagte geloop wat buite gestaan het en stilletjies tot by die enorme ysterpoort gegaan. Hoe sou hulle daardeur kom? As Petrus hoegenaamd hieroor gewonder het, was dit nie vir lank nie. Toe hulle naby die poort kom, het dit “vanself oopgegaan”. Voor Petrus hom kom kry, het hulle deur die poort tot in die straat gegaan, en toe het die engel verdwyn. Petrus het daar gestaan en geleidelik tot die besef gekom dat dit alles werklik gebeur het. Dit was nie ’n visioen nie. Hy was vry! – Hand. 12:7-11.

12. Waarom kan dit ons vertroos as ons nadink oor hoe Jehovah Petrus verlos het?

12 Is dit nie vertroostend om na te dink oor Jehovah se onbeperkte krag om sy knegte te red nie? Petrus is gevange gehou deur ’n koning wat die steun gehad het van die sterkste regeringsmag wat die wêreld tot op daardie stadium gesien het. Maar Petrus het eenvoudig uit die tronk uitgeloop! Jehovah verrig weliswaar nie sulke wonderwerke vir al sy knegte nie. Hy het dit nie vir Jakobus gedoen nie; Hy het dit ook nie later vir Petrus gedoen toe Jesus se woorde oor hierdie apostel uiteindelik vervul is nie. Christene verwag vandag nie wonderdadige verlossing nie. Maar ons hou in gedagte dat Jehovah nie verander het nie (Mal. 3:6). En hy sal binnekort sy Seun gebruik om tallose miljoene te verlos uit die dood, die gevangenis waaruit niemand kan ontsnap nie (Joh. 5:28, 29). Wanneer ons vandag voor beproewinge te staan kom, kan ons groot moed put uit sulke beloftes.

Hulle het “hom gesien en was . . . verbaas” (Handelinge 12:12-17)

13-15. (a) Hoe het die gemeentelede wat by Maria se huis vergader het, op Petrus se aankoms gereageer? (b) Waarop fokus die boek Handelinge hierna, maar watter uitwerking het Petrus steeds op sy geestelike broers en susters gehad?

13 Petrus het in die donker straat gestaan en probeer besluit waarheen hy volgende sou gaan. Toe weet hy. ’n Christenvrou met die naam Maria het daar naby gewoon. Maria was blykbaar ’n redelike welaf weduwee, en haar huis was groot genoeg dat ’n gemeente dit kon gebruik. Sy was die ma van Johannes Markus, wat hier vir die eerste keer in Handelinge genoem word en wat uiteindelik soos ’n seun vir Petrus geword het (1 Pet. 5:13). Al was dit so laat in die aand, was baie van daardie gemeente by Maria se huis bymekaar, en hulle het ernstig gebid. Hulle het ongetwyfeld gebid dat Petrus vrygelaat moet word – maar hulle was nie voorbereid op Jehovah se antwoord nie!

14 Petrus het aan die poortdeur geklop, wat op ’n voorhof oopgemaak het. ’n Diensmeisie met die naam Rode – ’n algemene Griekse naam wat “Roos” beteken – het na die deur toe gekom. Sy kon haar ore nie glo nie. Dit was Petrus se stem! Pleks van die deur oop te maak, het die opgewonde meisie Petrus net daar in die straat gelos, teruggehardloop in die huis in en die gemeente probeer oortuig dat Petrus daar is. Hulle het gesê dat sy mal is, maar sy het haar nie van stryk laat bring nie. Sy het gehou by wat sy geweet het die waarheid is. Party het ’n bietjie begin kopgee en gesê dat dit dalk ’n engel is wat Petrus verteenwoordig (Hand. 12:12-15). Intussen het Petrus aangehou klop totdat hulle uiteindelik na die deur toe gekom en dit oopgemaak het.

15 By die deur “het hulle hom gesien en was hulle verbaas”! (Hand. 12:16). Petrus moes hulle entoesiastiese lawaai stilmaak sodat hy kon vertel wat met hom gebeur het, opdrag kon gee dat dit aan die dissipel Jakobus en die broers oorgedra word en toe kon vertrek voordat Herodes se soldate hom opspoor. Petrus het daarvandaan weggegaan om sy getroue diens op ’n veiliger plek voort te sit. Buiten sy bydrae tot die oplossing van die geskil oor die besnydenis, soos in Handelinge hoofstuk 15 vermeld word, word hy nie verder in die verslag genoem nie. Die boek Handelinge fokus hierna op die werk en reise van die apostel Paulus. Maar ons kan seker wees dat Petrus oral waar hy gegaan het, die geloof van sy broers en susters versterk het. Die groep in Maria se huis was beslis vreugdevol toe hy húlle verlaat het.

16. Waarom hou die toekoms ongetwyfeld vir ons baie vreugdevolle tye in?

16 Soms gee Jehovah sy knegte meer as wat hulle ooit kon verwag, wat hulle oorstelp van vreugde laat. Dit is hoe Petrus se geestelike broers en susters daardie nag gevoel het. Ons voel dalk ook soms so wanneer ons vandag Jehovah se ryk seën ervaar (Spr. 10:22). In die toekoms sal ons sien hoe al Jehovah se beloftes wêreldwyd vervul word. Die wonderlike werklikhede sal beslis alles wat ons ons vandag kan indink, ver oortref. Solank ons getrou bly, kan ons dus met volle vertroue uitsien na baie gelukkige tye.

‘Die engel van Jehovah het hom getref’ (Handelinge 12:18-25)

17, 18. Wat het daartoe gelei dat die skare Herodes gevlei het?

17 Petrus se ontsnapping het ook Herodes verbaas – maar vir hom was dit beslis nie ’n aangename verrassing nie. Herodes het dadelik opdrag gegee dat ’n deeglike soektog gedoen word, en daarna het hy Petrus se wagte laat ondervra. Hulle is “weggelei . . . om gestraf te word”, waarskynlik die doodstraf (Hand. 12:19). Herodes Agrippa sal nie onthou word vir medelye of genade nie. Is hierdie wrede man ooit gestraf?

18 Agrippa het dalk verneder gevoel omdat hy nie daarin kon slaag om Petrus tereg te stel nie, maar hy het gou salf vir sy gekneusde trots gevind. ’n Diplomatieke situasie het ontstaan waarin van sy vyande vrede moes vra, en hy was ongetwyfeld gretig om ’n toespraak voor ’n groot gehoor te hou. Lukas het vertel dat Herodes ter voorbereiding hiervoor “koninklike klere aangetrek” het. Die Joodse geskiedskrywer Josefus het geskryf dat Herodes se kleed van silwer gemaak was, sodat dit gelyk het asof die koning omgewe is van heerlikheid wanneer die son op hom val. Die verwaande politikus het toe sy toespraak gehou. Die kruiperige skare het uitgeroep: “’n God se stem en nie ’n mens s’n nie!” – Hand. 12:20-22.

19, 20. (a) Waarom het Jehovah vir Herodes gestraf? (b) Watter vertroosting kan ons put uit die verslag van Herodes Agrippa se skielike dood?

19 Sulke heerlikheid behoort aan God, en God het toegekyk! Herodes het ’n kans gehad om ’n ramp af te weer. Hy kon die skare bestraf het of ten minste nie met hulle saamgestem het nie. Pleks daarvan het hy ’n kragtige voorbeeld geword van die spreuk: “Trots lei tot ondergang” (Spr. 16:18). “Onmiddellik het die engel van Jehovah hom getref”, wat veroorsaak het dat hierdie opgeblase egoïs ’n grusame dood gesterf het. Herodes “is deur wurms opgeëet en het gesterf” (Hand. 12:23). Josefus het ook genoem dat Agrippa skielik getref is en het bygevoeg dat die koning die gevolgtrekking gemaak het dat hy sterf omdat hy die vleiery van die skare aanvaar het. Josefus het geskryf dat Agrippa vyf dae lank gely het voordat hy gesterf het. b

20 Soms lyk dit dalk of goddelose mense met allerhande bose dade wegkom. Dit behoort ons nie te verbaas nie, want “die hele wêreld is in die mag van die Duiwel” (1 Joh. 5:19). Nogtans kwel dit getroue knegte van God soms wanneer goddelose mense skynbaar ongestraf bly. Dit is een rede waarom verslae soos dié vertroostend is. Ons sien in der waarheid hoe Jehovah intree en al sy knegte daaraan herinner dat hy geregtigheid liefhet (Ps. 33:5). Vroeër of later sál sy geregtigheid seëvier.

21. Wat is die belangrikste les in Handelinge hoofstuk 12, en waarom kan dit vandag vir ons bemoedigend wees?

21 Hierdie verslag sluit af met ’n selfs aanmoedigender les: “Die woord van Jehovah het bly groei en versprei” (Hand. 12:24). Hierdie vorderingsverslag oor die uitbreiding van die predikingswerk herinner ons dalk aan die manier waarop Jehovah dieselfde werk in hedendaagse tye geseën het. Die verslag in Handelinge hoofstuk 12 handel natuurlik nie hoofsaaklik oor die dood van een apostel en die ontkoming van ’n ander een nie. Dit handel oor Jehovah en sy verydeling van Satan se pogings om die Christengemeente te vernietig en om die ywerige predikingswerk daarvan stop te sit. Daardie aanvalle het misluk, net soos alle soortgelyke pogings beslis sal misluk (Jes. 54:17). Aan die ander kant neem diegene wat hulle aan Jehovah en Jesus Christus se kant skaar, deel aan ’n werk wat nooit sal misluk nie. Is dit nie ’n bemoedigende gedagte nie? Wat ’n voorreg het ons tog vandag om te help om “die woord van Jehovah” te versprei!

a Sien die venster “ Koning Herodes Agrippa I”.

b Volgens een dokter en skrywer is die simptome wat Josefus en Lukas beskryf, moontlik veroorsaak deur rondewurms wat ’n dodelike dermverstopping gevorm het. Hierdie wurms word soms uitgebraak of kruip by die pasiënt se liggaam uit wanneer hy sterf. Een naslaanwerk sê: “Lukas se professionele presiesheid as ’n geneesheer toon die afgryslikheid van [Herodes se] dood.”