Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 19

“Hou aan praat en moenie stilbly nie”

“Hou aan praat en moenie stilbly nie”

Paulus onderhou homself maar stel sy bediening eerste

Gebaseer op Handelinge 18:1-22

1-3. Waarom het die apostel Paulus na Korinte gekom, en voor watter uitdagings kom hy te staan?

 DIT is na aan die einde van 50 HJ. Die apostel Paulus is in Korinte, ’n welvarende handelsentrum met ’n groot Griekse, Romeinse en Joodse bevolking. a Paulus het nie hierheen gekom om goedere te koop of te verkoop of om sekulêre werk te soek nie. Hy het om ’n baie belangriker rede na Korinte gekom – om oor God se Koninkryk te getuig. Nietemin het Paulus verblyf nodig, en hy is vasbeslote om nie ’n finansiële las vir ander te wees nie. Hy wil niemand die indruk gee dat hy ’n bestaan maak uit die woord van God nie. Wat sal hy doen?

2 Paulus het ’n ambag – tentmakery. Dit is nie maklik om tente te maak nie, maar hy is bereid om met sy hande te werk om homself te onderhou. Sal hy in hierdie besige stad werk kry? Sal hy ’n geskikte blyplek vind? Ten spyte van hierdie uitdagings vergeet Paulus nie van sy vernaamste werk, die bediening, nie.

3 Paulus het op die ou end ’n tyd lank in Korinte gebly, en sy bediening daar het veel vrug gedra. Wat kan ons uit Paulus se bedrywighede in Korinte leer wat ons sal help om in ons gebied deeglik oor God se Koninkryk te getuig?

“Hulle was tentmakers” (Handelinge 18:1-4)

4, 5. (a) Waar het Paulus gebly terwyl hy in Korinte was, en watter sekulêre werk het hy gedoen? (b) Hoe het dit moontlik gekom dat Paulus ’n tentmaker geword het?

4 ’n Ruk nadat Paulus in Korinte aangekom het, het hy ’n gasvrye egpaar ontmoet – ’n gebore Jood met die naam Aquila en sy vrou, Priscilla, of Prisca. Die egpaar het in Korinte kom woon weens ’n bevel van keiser Claudius wat “al die Jode beveel het om Rome te verlaat” (Hand. 18:1, 2). Aquila en Priscilla het Paulus nie net in hulle huis verwelkom nie, maar ook in hulle onderneming. Ons lees: “Omdat [Paulus] dieselfde ambag as hulle gehad het, het hy by hulle gebly en saam met hulle gewerk, want hulle was tentmakers” (Hand. 18:3). Paulus het gedurende sy hele bediening in Korinte by hierdie liefdevolle egpaar gebly. Terwyl hy by Aquila en Priscilla tuis was, het Paulus moontlik party van die briewe geskryf wat later deel van die Bybelkanon geword het. b

5 Hoe het dit gekom dat Paulus, ’n man wat “aan die voete van Gamaliël” onderrig is, ook ’n tentmaker van ambag was? (Hand. 22:3). Die Jode van die eerste eeu het dit blykbaar nie benede hulle waardigheid geag om hulle kinders ’n ambag te leer nie, al het hierdie kinders dalk ook verdere onderwys ontvang. Aangesien Paulus afkomstig was van Tarsus in Silisië, die gebied wat bekend was vir die materiaal cilicium waarvan tente gemaak is, het hy waarskynlik die ambag geleer toe hy nog jonk was. Wat het tentmakery behels? Dit kon insluit dat die tentmaker die seil weef of dat hy die growwe, stywe materiaal uitsny en aanmekaarwerk om die tent te maak. Hoe dit ook al sy, dit was harde werk.

6, 7. (a) Hoe het Paulus tentmakery beskou, en wat toon dat Aquila en Priscilla ’n soortgelyke beskouing gehad het? (b) Hoe volg Christene vandag die voorbeeld van Paulus, Aquila en Priscilla?

6 Paulus het tentmakery nie as sy beroep, of loopbaan, beskou nie. Hy het hierdie ambag slegs gebruik om hom in die bediening te onderhou sodat hy die goeie nuus “kosteloos” kon bekend maak (2 Kor. 11:7). Hoe het Aquila en Priscilla hulle ambag beskou? As Christene het hulle ongetwyfeld dieselfde beskouing van sekulêre werk as Paulus gehad. Trouens, toe Paulus Korinte in 52 HJ verlaat het, het Aquila en Priscilla saam met hom na Efese verhuis, waar hulle huis as die vergaderplek vir die plaaslike gemeente gebruik is (1 Kor. 16:19). Later het hulle na Rome teruggekeer en toe weer na Efese gegaan. Hierdie ywerige egpaar het Koninkryksbelange eerste gestel en hulle gewillig ingespan om ander te dien, wat daartoe gelei het dat “al die gemeentes van die nasies” hulle waardeer het. – Rom. 16:3-5; 2 Tim. 4:19.

7 Hedendaagse Christene volg die voorbeeld van Paulus, Aquila en Priscilla. Ywerige bedienaars werk vandag hard om “nie ’n duur las vir enigeen . . . te wees nie” (1 Tess. 2:9). Dit is prysenswaardig dat baie voltydse Koninkryksverkondigers deeltydse of seisoenwerk doen om hulle te onderhou in hulle ware beroep, die Christelike bediening. Soos Aquila en Priscilla, stel talle liefdevolle knegte van Jehovah hulle huise oop vir kringopsieners. Diegene wat op dié manier “altyd gasvry” is, weet hoe aanmoedigend en opbouend dit kan wees. – Rom. 12:13.

“Baie van die Korintiërs . . . het begin glo” (Handelinge 18:5-8)

8, 9. Hoe het Paulus gereageer toe sy intensiewe getuienis aan die Jode teenkanting uitgelok het, en waarheen het hy toe gegaan om te preek?

8 Die feit dat Paulus sekulêre werk bloot as ’n middel tot ’n doel beskou het, kon duidelik gesien word toe Silas en Timoteus met milddadige geskenke van Masedonië af gekom het (2 Kor. 11:9). Paulus was onmiddellik “druk besig om die woord te verkondig [“al sy tyd bestee aan die prediking”, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling]” (Hand. 18:5). Maar hierdie intensiewe getuienis aan die Jode het hewige teenkanting uitgelok. Paulus het geweier om enige verdere verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar dat sy Joodse teenstanders die lewensreddende boodskap oor die Christus verwerp het en het sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: “Laat julle bloed op julle eie koppe wees. Ek is rein. Van nou af sal ek na mense van die nasies toe gaan.” – Hand. 18:6; Eseg. 3:18, 19.

9 Waar sou Paulus dan nou preek? ’n Man met die naam Titius Justus, waarskynlik ’n Joodse proseliet wat langs die sinagoge gewoon het, het sy huis aan Paulus beskikbaar gestel. Paulus het dus die sinagoge verlaat en die huis van Justus begin gebruik (Hand. 18:7). Paulus het nog steeds by Aquila en Priscilla gebly terwyl hy in Korinte was, maar die huis van Justus het die sentrum geword waarvandaan die apostel sy predikingswerk uitgevoer het.

10. Wat toon dat Paulus nie besluit het om net vir mense van die nasies te preek nie?

10 Het Paulus se woorde dat hy voortaan na die mense van die nasies sou gaan, beteken dat hy heeltemal sou ophou om aandag te skenk aan Jode en Joodse proseliete, selfs dié wat gunstig gereageer het? Dit kon nouliks die geval gewees het. Byvoorbeeld, “Krispus, die hoofbeampte van die sinagoge, en almal in sy huis het in die Here begin glo”. Klaarblyklik het baie van dié wat aan die sinagoge verbonde was, by Krispus aangesluit, want die Bybel sê: “Baie van die Korintiërs wat gehoor het, het begin glo en is gedoop” (Hand. 18:8). Die huis van Titius Justus het dus die vergaderplek van die pas gestigte Christengemeente in Korinte geword. As hierdie verslag in Handelinge volgens Lukas se kenmerkende styl – dit wil sê chronologies – geskryf is, het die bekering van daardie Jode of proseliete plaasgevind nadat Paulus sy klere uitgeskud het. Die voorval sal dan boekdele spreek vir die apostel se aanpasbaarheid.

11. Hoe volg Jehovah se Getuies vandag Paulus se voorbeeld terwyl hulle diegene in die Christendom probeer bereik?

11 Vandag is die kerke van die Christendom in baie lande goed gevestig en het hulle ’n sterk houvas op hulle lidmate. In party lande en eilande het die sendelinge van die Christendom baie bekeerlinge gemaak. Mense wat beweer dat hulle Christene is, hou dikwels vas aan tradisie, soos die geval was met die Jode in eerste-eeuse Korinte. Maar soos Paulus, streef ons as Jehovah se Getuies ywerig daarna om sulke mense te bereik en bou ons voort op enige kennis van die Skrif wat hulle reeds het. Selfs al staan hulle ons teë of vervolg hulle godsdiensleiers ons, gee ons nie moed op nie. Onder dié wat “’n ywer vir God het, maar nie akkurate kennis nie”, is daar dalk baie sagmoediges wat gesoek en gevind moet word. – Rom. 10:2.

“Ek het baie mense in hierdie stad” (Handelinge 18:9-17)

12. Watter versekering het Paulus in ’n visioen ontvang?

12 Indien daar enige twyfel by Paulus bestaan het of hy sy bediening in Korinte moet voortsit, het dit beslis verdwyn die nag toe die Here Jesus in ’n visioen aan hom verskyn het en vir hom gesê het: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie, want ek is met jou, en geen mens sal jou aanval en jou seermaak nie, want ek het baie mense in hierdie stad” (Hand. 18:9, 10). Wat ’n aanmoedigende visioen! Die Here self het Paulus verseker dat hy beskerm sal word en dat daar baie in die stad is wat sy boodskap waardig is. Hoe het Paulus op die visioen gereageer? Ons lees: “Toe het hy ’n jaar en ses maande daar gebly en die woord van God onder hulle geleer.” – Hand. 18:11.

13. Aan watter voorval het Paulus dalk gedink toe hy na die regterstoel op pad was, maar waarom kon hy ’n ander afloop verwag?

13 Nadat Paulus omtrent ’n jaar in Korinte deurgebring het, het hy verdere bewys van die Here se ondersteuning ontvang. “Die Jode [het] saam besluit om Paulus aan te val, en hulle het hom na die regterstoel gelei”, wat die beʹma genoem is (Hand. 18:12). Die beʹma, wat volgens party ’n verhoog van blou en wit marmer met sierwerk daarop was, het moontlik naby die middel van Korinte se markplein gestaan. Die oop area voor die beʹma was groot genoeg sodat ’n redelike groot skare daar kon vergader. Argeologiese ontdekkings dui daarop dat die regterstoel moontlik net ’n paar treë van die sinagoge, en dus van Justus se huis, af was. Toe Paulus op pad was na die beʹma, het hy dalk gedink aan die steniging van Stefanus, wat soms die eerste Christenmartelaar genoem word. Paulus, wat destyds as Saulus bekend was, het “die moord van Stefanus goedgekeur” (Hand. 8:1). Sou iets soortgelyks nou met Paulus gebeur? Nee, want hy is belowe: “Geen mens sal . . . jou seermaak nie.” – Hand. 18:10.

“Toe het hy hulle van die regterstoel af weggejaag.” – Handelinge 18:16

14, 15. (a) Watter aantyging het die Jode teen Paulus gemaak, en waarom het Gallio die saak afgewys? (b) Wat het met Sostenes gebeur, en wat het dalk van hom geword?

14 Wat het gebeur toe Paulus by die regterstoel kom? Die magistraat op die regterstoel was die prokonsul van Agaje, Gallio – die ouer broer van die Romeinse filosoof Seneka. Die Jode het hierdie aantyging teen Paulus gemaak:“Hierdie man oorreed mense om God te aanbid op ’n manier wat teen die wet is” (Hand. 18:13). Die Jode het te kenne gegee dat Paulus onwettig bekeerlinge gemaak het. Maar Gallio het gesien dat Paulus nie “iets verkeerds gedoen” het nie en nie “’n ernstige misdaad gepleeg” het nie (Hand. 18:14). Gallio was glad nie van plan om by die geskille van die Jode betrokke te raak nie. Selfs voordat Paulus ’n woord kon sê om homself te verdedig, het Gallio die saak afgewys! Die beskuldigers was woedend. Hulle het hulle woede op Sostenes gekoel, wat Krispus dalk as die hoofbeampte van die sinagoge vervang het. Hulle het Sostenes gegryp “en hom voor die regterstoel begin slaan”. – Hand. 18:17.

15 Waarom het Gallio nie gekeer dat die skare Sostenes bydam nie? Gallio het moontlik gedink dat Sostenes die leier van die gepeupelgeweld teen Paulus was en dus sy verdiende loon kry. Hoe dit ook al sy, die voorval het heel waarskynlik ’n goeie afloop gehad. In sy eerste brief aan die gemeente in Korinte, wat jare later geskryf is, het Paulus na ’n sekere Sostenes as ’n broer verwys (1 Kor. 1:1, 2). Was dit dieselfde Sostenes wat in Korinte geslaan is? Indien wel, het die pynlike ondervinding Sostenes dalk gehelp om die Christelike geloof aan te neem.

16. Hoe hou die Here se woorde: “Hou aan praat en moenie stilbly nie, want ek is met jou”, verband met ons bediening?

16 Onthou, dit was nadat die Jode Paulus se prediking verwerp het dat die Here Jesus Paulus verseker het: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie, want ek is met jou” (Hand. 18:9, 10). Dit sal goed wees as ons hierdie woorde in gedagte hou, veral wanneer ons boodskap verwerp word. Moet nooit vergeet dat Jehovah harte lees en opregtes van hart na hom toe trek nie (1 Sam. 16:7; Joh. 6:44). Wat ’n aanmoediging is dit tog vir ons om in die bediening besig te bly! Elke jaar word honderdduisende gedoop – honderde elke dag. Vir diegene wat die opdrag gehoorsaam om “dissipels van mense van al die nasies [te maak]”, gee Jesus hierdie versekering: “Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel.” – Matt. 28:19, 20.

“As Jehovah wil” (Handelinge 18:18-22)

17, 18. Waaraan het Paulus moontlik gedink toe hy na Efese weggeseil het?

17 Ons weet nie of Gallio se standpunt teenoor Paulus se beskuldigers tot ’n tydperk van vrede vir die jong Christengemeente in Korinte gelei het nie. Maar Paulus het “nog ’n hele paar dae gebly” voordat hy van sy Korintiese broers afskeid geneem het. In die noordelike lente van 52 HJ het hy planne gemaak om van die hawe Kenchreë, ongeveer 11 kilometer oos van Korinte, na Sirië weg te seil. Maar voordat Paulus Kenchreë verlaat het, “het hy sy hare kort laat knip, want hy het ’n gelofte gemaak” (Hand. 18:18). c Daarna het hy Aquila en Priscilla saam met hom geneem en oor die Egeïese See na Efese in Klein-Asië weggeseil.

18 Toe Paulus van Kenchreë af weggeseil het, het hy waarskynlik gedink aan sy tyd in Korinte. Hy het baie aangename herinneringe en ’n rede tot diepe tevredenheid gehad. Sy 18 maande lange bediening daar het vrugte afgewerp. Die eerste gemeente in Korinte is gestig, met Justus se huis as vergaderplek. Onder dié wat gelowiges geword het, was Justus, Krispus en almal in sy huis sowel as baie ander. Paulus was baie lief vir hierdie nuwe gelowiges, want hy het hulle gehelp om Christene te word. Hy sou later ’n brief aan hulle skryf en na hulle verwys as ’n aanbevelingsbrief wat op sy hart geskryf is. As ons die voorreg gehad het om mense te help om die waarheid aan te neem, voel ons ook na aan hulle. Hoe bevredigend is dit tog om sulke lewende “aanbevelingsbriewe” te sien! – 2 Kor. 3:1-3.

19, 20. Wat het Paulus gedoen toe hy in Efese aankom, en wat leer ons by hom oor geestelike doelwitte?

19 Toe Paulus in Efese aankom, het hy onmiddellik aan die werk gespring. Hy “het in die sinagoge ingegaan en met die Jode geredeneer” (Hand. 18:19). Paulus het dié keer net ’n kort rukkie in Efese gebly. Hoewel hy gevra is om langer te bly, “wou hy nie”. Toe hy afskeid neem, het hy vir die Efesiërs gesê: “As Jehovah wil, sal ek weer na julle toe terugkeer” (Hand. 18:20, 21). Paulus het ongetwyfeld geweet dat daar nog baie in Efese gepreek moes word. Die apostel het beplan om daarheen terug te keer, maar hy het besluit om sake in Jehovah se hande te laat. Is dit nie ’n goeie voorbeeld vir ons om in gedagte te hou nie? In ons strewe na geestelike doelwitte moet ons die inisiatief neem. Maar ons moet altyd op Jehovah se leiding vertrou en daarna streef om in ooreenstemming met sy wil op te tree. – Jak. 4:15.

20 Nadat Paulus Aquila en Priscilla in Efese agtergelaat het, het hy weggeseil en na Sesarea afgegaan. Hy het blykbaar na Jerusalem “gegaan” en die gemeente daar gegroet. (Sien studienota vir Hand. 18:22 in nwtsty.) Daarna het Paulus na sy tuisbasis – Siriese Antiogië – gegaan. Sy tweede sendingreis is suksesvol voltooi. Wat het sy laaste sendingreis vir hom ingehou?

a Sien die venster “ Korinte – Meester van twee seë”.

c Sien die venster “ Paulus se gelofte”.