Spring na inhoud

Verstoot Jehovah se Getuies mense wat voorheen aan hulle godsdiens behoort het?

Verstoot Jehovah se Getuies mense wat voorheen aan hulle godsdiens behoort het?

 Diegene wat as Jehovah se Getuies gedoop is maar nie meer vir ander getuig nie, of selfs nie meer gereeld met medegelowiges assosieer nie, word nie verstoot nie. Trouens, ons reik uit na hulle en probeer om hulle belangstelling in geestelike dinge weer aan te wakker.

 Iemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, word nie outomaties uitgesit nie. Maar as ’n gedoopte Getuie in die gewoonte verval het om die Bybel se sedelike wette te verbreek en nie berou toon nie, sal hy of sy wel verstoot, of uitgesit, word. Die Bybel sê duidelik: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit.”—1 Korintiërs 5:13.

 Sê nou ’n man word uitgesit, maar sy vrou en kinders is nog steeds Jehovah se Getuies? Die godsdiensbande wat hy met sy gesin gehad het, verander, maar die gesinsbande bestaan nog steeds. Die huweliksverhouding duur voort, gesinslede is nog steeds lief vir mekaar en hulle doen nog steeds dinge saam as ’n gesin.

 Uitgesettenes mag ons godsdiensvergaderinge bywoon. As hulle wil, kan hulle ook geestelike hulp van gemeentelike ouer manne ontvang. Die doel is om die individu te help om weer as een van Jehovah se Getuies te kwalifiseer. Uitgesettenes wat verkeerde gedrag verwerp en toon dat hulle ’n opregte begeerte het om volgens Bybelstandaarde te lewe, is altyd welkom om weer Getuies van Jehovah te word.