Spring na inhoud

Kan iemand kies om nie meer een van Jehovah se Getuies te wees nie?

Kan iemand kies om nie meer een van Jehovah se Getuies te wees nie?

 Ja. ’n Persoon kan op twee maniere toon dat hy nie meer deel van ons organisasie wil wees nie. Hy kan dit doen deur middel van:

  •   ’n Formele versoek. ’n Persoon kan mondelings of in geskrewe vorm bekend maak dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies wil wees nie.

  •   Sy dade. ’n Persoon kan iets doen wat toon dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies wil wees nie (1 Petrus 5:9). Byvoorbeeld, hy sluit dalk by ’n ander geloof aan en maak dit duidelik dat hy deel van daardie geloof wil bly.—1 Johannes 2:19.

Sê nou ’n persoon preek nie meer nie of woon nie meer julle vergaderinge by nie. Beskou julle hierdie persoon as iemand wat nie meer een van Jehovah se Getuies is nie?

 Nee. Iemand wat gekies het om nie meer een van Jehovah se Getuies te wees nie, of hom gedissosieer het, is nie dieselfde as iemand wat swak in die geloof geword het nie. Gewoonlik het diegene wat vir ’n rukkie traag geword het of opgehou het om Jehovah te aanbid, nie hulle geloof verlaat nie, hulle is eerder ontmoedig. Ons vermy nie sulke mense nie, ons probeer hulle eerder vertroos en ondersteun (1 Tessalonisense 5:14; Judas 22). As die persoon gehelp wil word, neem gemeentelike ouer manne die leiding om geestelike hulp te voorsien.—Galasiërs 6:1; 1 Petrus 5:1-3.

 Maar die ouer manne het nie die reg om iemand te dwing of druk op iemand te plaas om een van Jehovah se Getuies te bly nie. Elke persoon neem sy eie besluite wanneer dit kom by godsdiens (Josua 24:15). Ons glo dat diegene wat God aanbid, dit gewillig en uit die hart moet doen.—Psalm 110:3; Matteus 22:37.