Spring na inhoud

Is dit nodig om aan ’n georganiseerde godsdiens te behoort?

Is dit nodig om aan ’n georganiseerde godsdiens te behoort?

Die Bybel se antwoord

 Ja, want God wil hê dat mense vir aanbidding moet vergader. Die Bybel sê: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat . . . nie.”—Hebreërs 10:24, 25.

 Jesus het te kenne gegee dat sy volgelinge ’n georganiseerde groep sou wees toe hy vir hulle gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). ’n Vername bewys van hierdie liefde sou wees dat Christus se dissipels met medegelowiges assosieer. Hulle sou in gemeentes georganiseer wees wat gereeld vir aanbidding bymekaarkom (1 Korintiërs 16:19). Saam sou hulle ’n wêreldwye broederskap uitmaak.—1 Petrus 2:17.

Meer is nodig as om net aan ’n godsdiens te behoort

 Hoewel die Bybel toon dat mense vir aanbidding moet vergader, leer dit nie dat ’n mens God kan behaag deur net ’n lid van ’n godsdiens te wees nie. Om God se goedkeuring te verkry, moet ’n persoon se godsdiens ’n uitwerking hê op sy alledaagse lewe. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar.”—Jakobus 1:27.