Spring na inhoud

Wat is die “die sleutels van die koninkryk”?

Wat is die “die sleutels van die koninkryk”?

Die Bybel se antwoord

 “Die sleutels van die koninkryk” verwys na die gesag om die weg te open sodat mense “in die koninkryk van die hemele [kan] ingaan” (Matteus 16:19; Handelinge 14:22). a Jesus het vir Petrus “die sleutels van die koninkryk van die hemele” gegee. Dit beteken dat Petrus die gesag ontvang het om spesiale inligting bekend te maak. Hy het dit duidelik gemaak hoe getroue mense die voorreg kan hê om in die Koninkryk van die hemele in te gaan deur God se heilige gees te ontvang.

Vir wie was die sleutels gebruik?

 Die gesag wat Petrus van God ontvang het, het daartoe gelei dat drie groepe mense in die Koninkryk kon ingaan:

  1.   Jode en Joodse bekeerlinge. Kort ná Jesus se dood het Petrus ’n skare Joodse gelowiges aangemoedig om Jesus te aanvaar as die een wat deur God gekies is om in die Koninkryk te regeer. Petrus het vir hulle gewys wat hulle moet doen sodat hulle gered kon word. Op hierdie manier het hy dit vir hulle moontlik gemaak om die Koninkryk in te gaan, en duisende het ‘sy woord aangeneem’.​—Handelinge 2:​38-41.

  2.   Samaritane. Later is Petrus na die Samaritane toe gestuur. b Hy het weer ’n sleutel van die Koninkryk gebruik toe hy saam met die apostel Johannes “vir hulle gebid [het] om heilige gees te ontvang” (Handelinge 8:14-17). Samaritane kon toe ook die Koninkryk ingaan.

  3.   Heidene. Drie en ’n half jaar ná Jesus se dood het God aan Petrus getoon dat heidene (nie-Jode) ook die kans sou kry om in die Koninkryk in te gaan. Petrus het toe een van die sleutels gebruik deur vir die heidene te getuig. Sodoende het hy dit vir hulle moontlik gemaak om die heilige gees te ontvang, Christene te word, asook toekomstige lede van die Koninkryk.—Handelinge 10:30-35, 44, 45.

Wat beteken dit om ‘in die koninkryk in te gaan’?

 Diegene wat ‘in die koninkryk ingaan’, word medeheersers saam met Jesus in die hemel. Die Bybel het voorspel dat hulle ‘op trone sou sit’ en ‘as konings oor die aarde sou heers’.—Lukas 22:29, 30; Openbaring 5:9, 10.

Wat mense sê oor die sleutels van die Koninkryk

 Wat mense sê: Petrus besluit wie in die hemel mag ingaan.

 Wat die Bybel sê: Die Bybel sê dat Christus Jesus, nie Petrus nie, “die lewendes en die dooies [sal] oordeel” (2 Timoteus 4:1, 8; Johannes 5:22). Petrus het self gesê dat Jesus “die Een is wat deur God verorden is om regter van die lewendes en die dooies te wees”.—Handelinge 10:34, 42.

 Wat mense sê: Die hemel het op Petrus gewag om te besluit wanneer om die sleutels van die Koninkryk te gebruik.

 Wat die Bybel sê: Toe Jesus van die sleutels van die Koninkryk gepraat het, het hy vir Petrus gesê: “Wat jy ook al op die aarde bind, sal wees wat in die hemele gebind is, en wat jy ook al op die aarde ontbind, sal wees wat in die hemele ontbind is” (Matteus 16:19). Party dink dat dit beteken dat Petrus besluit het wat in die hemel moet gebeur. Maar die oorspronklike Griekse werkwoord wys dat Petrus se besluite sou afhang van wat in die hemel besluit is.

 Die Bybel wys ook dat Petrus gehoorsaam was aan die gesag van die hemel toe hy die sleutels van die Koninkryk gebruik het. Hy het byvoorbeeld op God se opdrag gereageer toe hy die derde sleutel gebruik het.—Handelinge 10:19, 20.

a Partykeer gebruik die Bybel die woord “sleutel” om na gesag en verantwoordelikheid te verwys.—Jesaja 22:20-22; Openbaring 3:7, 8.

b Die Samaritane het aan ’n godsdiens behoort wat van Judaïsme verskil het, maar wat party van die leringe en gebruike van die Mosaïese Wet ingesluit het.