Spring na inhoud

Wat is Babilon die Grote?

Wat is Babilon die Grote?

Die Bybel se antwoord

 Babilon die Grote, wat in die boek Openbaring beskryf word, is al die wêreld se valse godsdienste as ’n geheel, wat deur God verwerp word (Openbaring 14:8; 17:5; 18:21). a Hoewel hierdie godsdienste in baie opsigte van mekaar verskil, lei elkeen van hulle mense op die een of ander manier weg van die aanbidding van die ware God, Jehovah.—Deuteronomium 4:35.

Feite oor die identiteit van Babilon die Grote

  1.   Babilon die Grote is ’n simbool. Die Bybel beskryf haar as “’n vrou” en ’n “groot hoer” (Openbaring 17:1, 3). Haar naam is “’n verborgenheid: ‘Babilon die Grote’” (Openbaring 17:5). Die boek Openbaring bestaan uit “tekens”, en daarom is dit redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat Babilon die Grote ’n simbool is, nie ’n letterlike vrou nie (Openbaring 1:1). Wat meer is, sy ‘sit op baie waters’, wat na “volke en menigtes en nasies en tale” verwys (Openbaring 17:1, 15). ’n Letterlike vrou sou dit nie kon doen nie.

  2.   Babilon die Grote beeld ’n internasionale entiteit af. Sy word beskryf as “die groot stad wat ’n koninkryk oor die konings van die aarde het” (Openbaring 17:18). Haar gebied en invloed strek dus regoor die wêreld.

  3.   Babilon die Grote is ’n godsdiensentiteit, nie ’n politieke of kommersiële entiteit nie. Eertydse Babilon was ’n baie godsdienstige stad, wat bekend was vir sy gebruik van spiritistiese “towerspreuke” en vir “towerye” (Jesaja 47:1, 12, 13; Jeremia 50:1, 2, 38). Trouens, valse godsdiens wat lynreg in stryd is met die aanbidding van die ware God, Jehovah, is daar beoefen (Genesis 10:8, 9; 11:2-4, 8). Die hoogmoedige heersers van Babilon het hulleself bo Jehovah en sy aanbidding verhef (Jesaja 14:4, 13, 14; Daniël 5:2-4, 23). Babilon die Grote is eweneens bekend vir haar “spiritistiese gebruike”. Dit toon dat sy ’n godsdiensorganisasie is.—Openbaring 18:23.

     Babilon die Grote kan nie ’n politieke entiteit wees nie, want “die konings van die aarde” treur oor haar vernietiging (Openbaring 17:1, 2; 18:9). Sy is ook nie ’n kommersiële mag nie, want die Bybel tref ’n onderskeid tussen haar en “die reisende koopmanne van die aarde”.—Openbaring 18:11, 15.

  4. Grafsteen van die Babiloniese koning Nabonidus met simbole van ’n drie-eenheid wat bestaan uit die gode Sin, Isjtar en Sjamasj

      Babilon die Grote voldoen aan die beskrywing van valse godsdiens. Valse godsdiens leer mense nie hoe om nader aan die ware God, Jehovah, te kom nie, maar beïnvloed hulle eerder om ander gode te aanbid. Die Bybel sê dat valse godsdiens dus in geestelike sin “hoereer” (Levitikus 20:6; Eksodus 34:15, 16, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Leringe soos die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel en gebruike soos die gebruik van beelde in aanbidding het hulle oorsprong in eertydse Babilon en is tot vandag toe ’n kenmerk van valse godsdiens. Hierdie godsdienste vermeng hulle aanbidding ook met liefde vir die wêreld. Die Bybel verwys na hierdie soort ontrouheid as geestelike hoerery.—Jakobus 4:4.

     Valse godsdiens se rykdom en die spoggerige vertoning daarvan pas by die beeld wat die Bybel van Babilon die Grote skets, wat “geklee [is] in purper en skarlaken” en “versier [is] met goud en edelstene en pêrels” (Openbaring 17:4). Babilon die Grote is die bron van “die walglike dinge van die aarde”, oftewel die leringe en dade wat God in werklikheid oneer aandoen (Openbaring 17:5). Die lidmate van valse godsdiens is die “volke en menigtes en nasies en tale” wat Babilon die Grote ondersteun.—Openbaring 17:15.

 Babilon die Grote is verantwoordelik vir die dood “van almal wat op die aarde doodgemaak is” (Openbaring 18:24). Regdeur die geskiedenis het valse godsdiens nie net oorloë veroorsaak en terrorisme aangehits nie, maar ook versuim om mense die waarheid omtrent Jehovah, die God van liefde, te leer (1 Johannes 4:8). Hierdie versuim het tot baie bloedvergieting bygedra. Diegene wat God gelukkig wil maak, moet dus ‘uit haar uit te gaan’ en alle bande met valse godsdiens verbreek.—Openbaring 18:4; 2 Korintiërs 6:14-17.

a Sien die artikel “Hoe kan ek die ware godsdiens vind?”