Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP: ’N WÊRELD SONDER VOOROORDEEL—WANNEER?

Vooroordeel—’n Wêreldwye probleem

Vooroordeel—’n Wêreldwye probleem

JONATHAN, ’n Koreaanse Amerikaner, was as kind ’n slagoffer van rassevooroordeel. As volwassene het hy ’n plek gesoek waar mense nie bevooroordeeld teenoor hom sou wees op grond van sy gelaatstrekke of ras nie. Hy het ’n mediese dokter geword in ’n dorp in Noord-Alaska, VSA, waar talle van sy pasiënte baie soos hy gelyk het. Hy het gehoop dat hy dalk daar, waar die koue winde van die Noordpoolsirkel waai, uiteindelik van die selfs kouer winde van vooroordeel weggekom het.

Hierdie hoop het verdwyn toe hy mediese hulp verleen het aan ’n 25-jarige vrou. Toe die pasiënt uit ’n koma kom en Jonathan se gesig sien, het sy ’n beledigende aanmerking gemaak en hom gevloek, waardeur sy haar diepgewortelde minagting vir Koreane getoon het. Vir Jonathan was die voorval ’n pynlike herinnering dat hy ondanks al sy moeite om te trek en te probeer inpas, nie van vooroordeel kon wegkom nie.

Jonathan se ondervinding lig ’n wrede werklikheid toe. Vooroordeel word in elke uithoek van die aarde gevind. Dit lyk of daar vooroordeel is waar daar ook al mense is.

 Maar al is vooroordeel so algemeen, huiwer die meeste mense nie om dit te veroordeel nie. Dit lyk beslis na ’n teenstrydigheid. Hoe kan iets waarin mense so ’n weersin het, terselfdertyd so algemeen wees? Baie wat vooroordeel afkeur, sien dit blykbaar nie in hulleself nie. Kan dit met jou die geval wees? Hoe sal jy hierdie vraag beantwoord?

’N PERSOONLIKE KWESSIE

Hetsy ons dit besef of nie, dit is vir ons moeilik om vas te stel of ons enige vooroordele in ons hart koester. Die Bybel verduidelik waarom dit die geval is en sê: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders” (Jeremia 17:9, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Ons kan ons dus wysmaak dat ons verdraagsaam is teenoor alle soorte mense. Of ons redeneer miskien dat daar ’n geldige rede is vir ons negatiewe beskouing van sekere groepe.

Hoe sal jy voel as jy hierdie toneel sien?

Om toe te lig hoe moeilik dit is om vas te stel of ’n mens dalk onbewustelik ’n vooroordeel koester, kan jy jou die volgende situasie voorstel: Jy loop ná donker alleen in die straat af. Twee jong mans wat jy nog nooit tevore gesien het nie, kom na jou toe. Hulle lyk sterk, en een van hulle het blykbaar iets in sy hand.

Kom jy tot die gevolgtrekking dat die jong mans vir jou gevaar inhou? Jy het dalk al ondervindinge gehad wat jou laat besef dat jy versigtig moet wees, maar regverdig hierdie ondervindinge werklik jou gevolgtrekking dat hierdie twee jong mans gevaar inhou? ’n Indringender vraag sal wees: Aan watter ras of etniese groep het jy verwag dat hierdie mans behoort? Jou antwoord op hierdie vraag kan baie insiggewend wees. Dit kan toon dat jy reeds tot ’n mate deur vooroordeel beïnvloed is.

As ons eerlik met onsself is, moet ons erken dat ons almal in ons diepste wese in meerdere of mindere mate die een of ander soort vooroordeel koester. Selfs die Bybel praat van ’n baie algemene soort vooroordeel waar dit sê: “Mense oordeel ander volgens hulle voorkoms” (1 Samuel 16:7, Contemporary English Version). Ons almal het hierdie menslike neiging—en dit het dikwels rampspoedige gevolge. Sal ons dan ooit ons vooroordele kan oorkom of heeltemal daarvan ontslae kan raak? En sal daar ooit ’n tyd wees wanneer die hele wêreld vry sal wees van vooroordeel?