Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet ons tot heiliges bid?

Moet ons tot heiliges bid?

WIE het nog nie angstig gevoel en die behoefte gehad om iemand om hulp te vra nie? Afhangende van wat ons angstig maak, sal ons waarskynlik ’n vriend kies wat medelydend is en ondervinding het wanneer dit kom by die probleem waarmee ons te kampe het. Iemand met medelye sowel as ondervinding is werklik ’n waardevolle vriend.

Party voel miskien dieselfde oor gebed. Omdat hulle dalk voel dat God te verhewe en ontsagwekkend is, bid hulle nie tot hom nie, maar doen hulle eerder ’n beroep op een van die heiliges. Hulle redeneer dat heiliges meer medelye sal hê omdat hulle die beproewinge en teëspoed ondervind het wat eie is aan die mens. Byvoorbeeld, mense wat iets verloor het wat vir hulle baie belangrik is, verkies dalk om die “heilige”, “sint” Antonius van Padua—die tradisionele beskermheer van verlore of gesteelde goed—te nader. Party mense wend hulle moontlik tot “sint” Fransiskus van Assisi as hulle vir ’n siek dier bid, of tot “sint” Judas Taddeus as hulle wanhopig is oor ’n verlore saak.

Maar hoe kan ons seker wees of dit volgens die Skrif reg is om tot heiliges te bid? Aangesien ons wil hê dat ons gebede God moet bereik, sal ons sekerlik wil weet: Luister hy na ons gebede? En moet ons nie ook vra nie: Hoe voel God oor gebede wat tot heiliges gerig word?

GEBEDE TOT HEILIGES—DIE SKRIFTUURLIKE BESKOUING

Die gebruik om tot heiliges te bid, is gegrond op die leerstelling van die Katolieke Kerk oor voorspraak deur heiliges. Volgens die New Catholic Encyclopedia is die grondgedagte dat “voorspraak gedoen word deur iemand wat in God se oë die reg het om dit te doen, sodat hy barmhartigheid kan verkry vir iemand wat dit nodig het”. Iemand wat tot heiliges bid, doen dit dus in die hoop om spesiale guns deur hulle te verkry weens hulle geseënde posisie voor God.

Is dit ’n Bybelse leerstelling? Party sê dat die apostel Paulus in sy geskrifte ’n grondslag vir gebede tot heiliges voorsien het. Hy het byvoorbeeld aan die Christene in Rome geskryf: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur ons Here Jesus Christus en deur die liefde van die gees, om julle saam met my in te span in gebede tot God vir my” (Romeine 15:30). Het Paulus sy mede-Christene gevra om vir hom voorspraak te doen by God? Beslis nie. Paulus se mede-Christene sou eerder vir hom, ’n apostel van Christus, gevra het om vir húlle voorspraak te doen. Paulus het getoon dat dit gepas is om ’n mede-Christen te vra om vir ons tot God te bid. Maar dit is iets heeltemal anders om te bid tot iemand wat skynbaar in die hemel is en hom te vra om ons versoek tot God te rig. Hoe so?

 In die apostel Johannes se Evangelie sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Hy sê ook: “Die Vader sal julle enigiets gee wat julle hom in my naam vra” (Johannes 15:16, The New Jerusalem Bible). Jesus het nie gesê dat ons ons gebede tot hom moet rig en dat hy dan vir ons met God sal praat nie. As ons wil hê dat ons gebede verhoor moet word, moet ons tot God bid deur Jesus, en nie deur enigiemand anders nie.

Toe Jesus se dissipels hom gevra het om hulle te leer hoe om te bid, het Jesus geantwoord: “Wanneer julle bid, sê: ‘Vader, laat u naam geheilig word’” (Lukas 11:2). Ja, “wanneer”, of elke keer dat ons bid, moet ons gebed tot God self gerig word, nie tot Jesus of enigiemand anders nie. Is dit nie logies om na aanleiding van hierdie duidelike leringe van Jesus tot die slotsom te kom dat ons gebede deur Jesus Christus tot God gerig moet word, en nie tot enige voorsprake of “heiliges” nie?

Gebed is ’n baie belangrike deel van ons aanbidding, en dit is beslis in stryd met Bybelleringe om enigiemand buiten God te aanbid (Johannes 4:23, 24; Openbaring 19:9, 10). Daarom moet ons ons gebede net tot God rig.

MOET JY BANG WEES OM GOD IN GEBED TE NADER?

In sy Bergpredikasie het Jesus die voorbeeld genoem van ’n kind wat sy vader iets vra om te eet. Sal ’n vader sy kind ’n klip in plaas van brood gee? Of ’n giftige slang in plaas van ’n vis? (Matteus 7:9, 10). Dit is ondenkbaar dat ’n liefdevolle ouer so iets sal doen!

Soos ’n liefdevolle vader wil God hê dat ons met hom moet kommunikeer

Dink aan ’n soortgelyke illustrasie vanuit ’n ouer se oogpunt. Stel jou voor dat jou kind ’n dringende versoek tot jou wil rig. Jy het ’n hegte verhouding met hom aangekweek, en jy was nog altyd toeganklik. Maar weens ’n ongegronde vrees vir hoe jy sal reageer, vra hy iemand anders om die versoek tot jou te rig. Hoe sal jy voel? Sê nou hy maak ’n gewoonte daarvan om slegs deur hierdie ander persoon met jou te kommunikeer en alles dui daarop dat hy sal aanhou om dit te doen? Sal jy tevrede wees met hierdie reëling? Natuurlik nie! Liefdevolle ouers wil hê dat hulle kinders húlle moet nader en die vrymoedigheid moet hê om te vra wat hulle nodig het.

Toe Jesus sy illustrasie van die kind wat kos vra, toegepas het, het hy vir die skare gesê: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan dié wat hom vra?” (Matteus 7:11). ’n Ouer het ongetwyfeld ’n sterk begeerte om goeie dinge aan sy kind te gee. Ons hemelse Vader se begeerte om na ons gebede te luister en dit te verhoor, is selfs sterker.

God wil hê dat ons regstreeks tot hom moet bid, selfs as ons mismoedig is weens persoonlike tekortkominge. Hy gee niemand anders die toewysing om na ons gebede te luister nie. Die Bybel spoor ons aan: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). Dit sal verstandig van ons wees om eerder ’n positiewe beskouing van Jehovah God te verkry as om op die voorspraak van heiliges of enigiemand anders staat te maak.

Ons hemelse Vader gee om vir ons as individue. Hy wil ons met ons probleme help en nooi ons om nader aan hom te kom (Jakobus 4:8). Hoe bly is ons tog dat ons kan bid tot ons God en Vader, die “Hoorder van die gebed”!—Psalm 65:2.