Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERHOUD | GUILLERMO PEREZ

’n Raadgewende chirurg verduidelik waarom hy aan God glo

’n Raadgewende chirurg verduidelik waarom hy aan God glo

Dr. Guillermo Perez het onlangs afgetree as die hoof van chirurgie by ’n hospitaal met 700 beddens in Suid-Afrika. Hy het jare lank aan evolusie geglo. Maar later was hy oortuig dat die menseliggaam deur God ontwerp is. Ontwaak! het hom gevra oor sy geloof.

Vertel asseblief vir ons waarom jy voorheen aan evolusie geglo het.

Hoewel ek as ’n Katoliek grootgemaak is, het ek twyfelgedagtes oor God gehad. Ek kon byvoorbeeld nie aan ’n God glo wat mense in ’n hel laat brand nie. En toe my universiteitsprofessors my geleer het dat lewende dinge geëvolueer het en nie deur God geskep is nie, het ek hierdie beskouing aanvaar omdat ek aangeneem het dat dit deur bewyse gestaaf word. Terloops, my kerk het nie evolusie verwerp nie, maar het geglo dat dit deur God gerig is.

Wat het jou belangstelling in die Bybel gewek?

My vrou, Susana, het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en hulle het vir haar uit die Bybel gewys dat God mense nie in ’n brandende hel folter nie. * Hulle het ook vir haar gewys dat God belowe om ons planeet in ’n paradystuiste te omskep. * Ons het uiteindelik leringe gevind wat sin maak! In 1989 het ’n Getuie met die naam Nick my begin besoek. Gedurende ’n bespreking oor die menseliggaam en die oorsprong daarvan is ek beïndruk deur die eenvoudige logika van die Bybel se woorde in Hebreërs 3:4: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God.”

Het jou studie van die menseliggaam jou gehelp om te aanvaar dat die mens geskep is?

Ja. Die manier waarop ons liggaam homself herstel, getuig van noukeurige ontwerp. Wondgenesing behels byvoorbeeld vier oorvleuelende fases, en al hierdie fases het my laat besef dat ek as ’n chirurg bloot saam met die liggaam se ingeboude herstelvermoë werk.

Wat gebeur wanneer ons liggaam ’n wond opdoen?

Die eerste fase van ’n reeks prosesse wat ontwerp is om bloeding stop te sit, tree binne sekondes in werking. Hierdie prosesse is uiters kompleks en doeltreffend. Ek wil net byvoeg dat ons bloedsomloopstelsel, met bloedvate wat altesaam sowat 100 000 kilometer lank is, sekerlik deur loodgieters beny word, aangesien hierdie stelsel die vermoë het om lekplekke toe te stop en homself te herstel.

Wat is betrokke by die tweede herstelfase?

Die bloeding hou binne ure op en inflammasie tree in. Inflammasie behels ’n verbasende reeks gebeure. Eerstens, bloedvate wat aanvanklik vernou het om bloedverlies te verminder, doen nou die teenoorgestelde. Hierdie bloedvate word wyer om bloedvloei na die wond te vermeerder. Daarna laat proteïenryke vloeistof die hele beseerde gedeelte swel. Hierdie vloeistof is noodsaaklik om infeksie te bestry, gifstowwe te verdun en beskadigde weefsel te verwyder. Elke stap vereis dat miljoene gespesialiseerde molekules en selle tydens ’n reeks gebeure vervaardig word. Party van hierdie gebeure sit die volgende fase aan die gang en kom dan tot ’n einde.

Wat gebeur hierna?

Binne ’n paar dae begin ons liggaam herstelmateriaal vervaardig, ’n proses wat die begin van die derde fase aandui en wat binne omtrent twee weke ’n hoogtepunt bereik. Selle wat vesels oor die wond vorm, gaan na die beseerde gedeelte en vermeerder dan. Klein bloedvaatjies ontstaan en groei in die rigting van die wond, waar hulle gedurende die afbreek- en herstelproses afvalstowwe verwyder en ekstra voedingstowwe voorsien. Tydens nog ’n ingewikkelde reeks gebeure word spesiale selle voortgebring wat die rande van die wond na mekaar toe trek.

Dit is verstommend! Hoe lank duur die herstelproses?

Die laaste stadium, heropbouing, kan maande duur. Gebreekte bene word tot hulle oorspronklike sterkte herstel, en die vesels wat aanvanklik oor ’n sagteweefselwond gevorm het, word met sterker stowwe vervang. Kortom, wondgenesing is ’n verstommende voorbeeld van ’n goed georganiseerde proses.

Kan jy dink aan ’n geval wat jou veral beïndruk het?

Wanneer ek sien hoe die liggaam homself herstel, is ek verstom

Ja. Ek onthou dat ek ’n 16-jarige meisie behandel het wat in ’n verskriklike motorongeluk was. Sy was in ’n kritieke toestand met ’n geskeurde milt en inwendige bloeding. Jare gelede sou ons geopereer het om die geskeurde milt te herstel of te verwyder. Vandag maak dokters meer staat op die liggaam se vermoë om homself te herstel. Ek het net haar infeksie, vloeistofverlies, bloedarmoede en pyn behandel. ’n Paar weke later het ’n skandering getoon dat haar milt genees het! Wanneer ek sien hoe die liggaam homself herstel, is ek verstom. En dit versterk my oortuiging dat ons deur God ontwerp is.

Waarom het jy van Jehovah se Getuies gehou?

Hulle was vriendelik en het altyd my vrae uit die Bybel beantwoord. Ek was ook beïndruk deur die moedige wyse waarop hulle hulle oortuigings bekend maak en ander help om van God te leer.

Het die feit dat jy een van Jehovah se Getuies geword het, jou in jou werk gehelp?

Ja. Om maar een ding te noem, dit het my gehelp om empatie-uitputting die hoof te bied. Dit is ’n soort emosionele uitbranding waaraan dokters en verpleegsters wat voortdurend met siek of beseerde mense te doen het, dikwels ly. En wanneer pasiënte wou gesels, kon ek hulle vertel van ons Skepper se belofte om ’n einde te maak aan siekte en lyding * en om ’n wêreld tot stand te bring waarin niemand sal sê: “Ek is siek” nie. *