Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Die Bybel se beskouing

Het jy georganiseerde godsdiens nodig?

Het jy georganiseerde godsdiens nodig?

AS JY in georganiseerde godsdiens teleurgesteld is of dit as onbelangrik afgemaak het, is jy nie alleen nie. Trouens, die aantal mense wat nie aan georganiseerde godsdiens verbonde wil wees nie, neem vinnig toe.

Party het georganiseerde godsdiens die rug toegekeer omdat hulle glo dat sulke instellings huigelary en onverdraagsaamheid bevorder. Ander meen dat dit te veel moeite is om ’n gestruktureerde vorm van aanbidding te volg. Nog ander meen dat georganiseerde godsdiens bloot ’n oorbodige “middelman” tussen God en sy aanbidders is. Wat leer die Bybel werklik oor georganiseerde godsdiens?

God se vriende in die ou tyd

Die Bybel gee ’n duidelike beskrywing van die vorm van aanbidding wat beoefen is deur die aartsvaders, soos Abraham, Isak en Jakob. By een geleentheid het God byvoorbeeld gesê: “Ek het met [Abraham] bekend geraak dat hy sy seuns en sy huis ná hom bevel kan gee, sodat hulle Jehovah se weg sal hou om regverdigheid en reg te doen” (Genesis 18:19). Abraham was ’n vriend van God en het dus as ’n individu ’n verhouding met die Skepper gehad. Maar hy het ook saam met sy huishouding aanbid. Net so het ander aartsvaders wat vriende van God was, as deel van ’n gemeenskap aanbid, gewoonlik saam met hulle gesin en uitgebreide familie, asook hulle knegte.

Ná verloop van tyd het God vereis dat die eertydse Israeliete, en later die eerste-eeuse Christene, vir aanbidding vergader (Levitikus 23:2, 4; Hebreërs 10:24, 25). By hierdie geleenthede vir georganiseerde aanbidding het hulle gesing, uit die Skrif gelees en openbare gebede gedoen (Nehemia 8:1-8; Kolossense 3:16). Die Skrif het ook voorgeskryf dat ’n bekwame groep manne die leiding in die gemeente neem.—1 Timoteus 3:1-10.

Die voordele daarvan om as ’n gemeente te aanbid

Na aanleiding van hierdie skriftuurlike voorbeelde is dit redelik om tot die slotsom te kom dat God vandag ook van sy vriende verwag om hom op georganiseerde wyse te aanbid. En om God as deel van ’n gemeente te aanbid, hou voordele in.

Byvoorbeeld, die Skrif vergelyk ’n opregte aanbidder met iemand wat op ’n smal pad reis; en by ’n ander geleentheid met ’n hardloper in ’n wedloop (Matteus 7:14; 1 Korintiërs 9:24-27). ’n Hardloper wat ’n lang, moeilike wedloop oor ongelyke terrein hardloop, kan maklik moeg raak en uiteindelik moed opgee. Maar ’n hardloper kan dikwels sy eie verwagtinge oortref as daar ander is wat hom aanmoedig. Net so kan ’n geestelikgesinde persoon ondanks teëspoed daarin slaag om ’n goeie verhouding met God te behou as hy mede-aanbidders het wat hom aanmoedig.

Dit help ons om die woorde in Hebreërs 10:24, 25 te verstaan, waar die Bybel sê: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering  nalaat . . . nie.” Trouens, die Skrif sê dat ware aanbidders God as broers en susters sou aanbid, verenig as ’n figuurlike liggaam.

Moet jy alle georganiseerde godsdiens verwerp?

Die Bybel toon dat hierdie liggaam, of gemeente, deur ’n band van liefde en vrede verenig sou wees. In Efesiërs 4:2, 3 word ware aanbidders byvoorbeeld vermaan om op te tree “met algehele ootmoed en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl [hulle] mekaar in liefde verdra en ywerig daarna streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar”. Hoe kan jy ag slaan op hierdie vermaning as jy op jou eie, afgeskeie van ander aanbidders, aanbid?

Dit is God se wil dat ware aanbidders ’n hegte geloofsgemeenskap moet vorm, nie ’n losse gemeenskap van geestelikgesinde persone nie. Die Bybel spoor aanbidders aan om eenstemmig te praat, verdeeldhede te vermy en “paslik verenig [te] wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang” (1 Korintiërs 1:10). Hierdie woorde sou nie sin gemaak het as God wou hê dat elke persoon Hom op sy eie moet aanbid nie.

Die Bybel toon duidelik dat ’n georganiseerde vorm van aanbidding die soort aanbidding is wat vir God aanneemlik is. En die georganiseerde godsdiens wat die Skrif beskryf, die een wat God se goedkeuring het, kan jou die ondersteuning gee wat jy nodig het om jou geestelike behoeftes te bevredig.—Matteus 5:3.

Talle georganiseerde godsdienste van vandag het hulle weliswaar skuldig gemaak aan huigelary en tallose gruweldade. Maar dit beteken nie dat jy alle georganiseerde godsdiens moet verwerp nie. Daar moet ’n godsdiens op die aarde wees wat georganiseerd is om liefde aan alle mense te betoon—’n godsdiens wat georganiseerd is om ander oor God se sedelike beginsels te leer. So ’n georganiseerde godsdiens kan jou help om ware geloof op te bou. Die Bybel voorsien die nodige leidrade om jou te help om die soort georganiseerde aanbidding te identifiseer wat vir God aanneemlik is.